Meisies van staal in Olimpiese finaal

Ongeag die uitslag sal Nami­bië vandag geskiedenis sien afspeel met twéé van sy jongelinge in die Olimpiese finaal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die ganse Namibië sal vanmiddag vasgenael voor hul TV-skerms wees in afwagting op die uitslag of die onmoontlike droom van ’n Olimpiese medalje dalk bewaarheid kan word – die land se eerste sedert Frank Fredericks se goue era van vier silwermedaljes in 1992 en 1996.

Wie sou kon voorspel dat beide Christine Mboma en Beatrice Masilingi vandag om 14:50 Namibiese tyd (21:50 in Japan) in die Olimpiese finaal van die 200 meter vir vroue sou aantree? Dit is immers net beide die 18-jariges se “tweede keuse” item, terwyl Wêreldatletiek enkele weke gelede met sy skokbesluit vorendag gekom het dat beide vanweë natuurlike hoë testosteroonvlakke nie aan die 400 mag deelneem nie.

Veral die onvergelyklike Mboma het die atletiekwêreld in gister se oggend- en aandsessies opnuut met haar 200 meter-vertonings in Tokio verstom.

In die tweede semifinaal het sy geskiedenis gemaak toe sy die eerste Namibiese én Afrika-vrou geword het om die 200 onder 22 sekondes met ’n wettige 21.97 af te blits.

Masilingi, wat met 22.40 tweede in die eerste semifinaal was, sal vandag saam in die 200-finaal se wegspringblokke sak. Met dié tyd het Masilingi het haar persoonlike beste tyd van 22.63 oortref wat sy vroeër die oggend in haar uitdun behaal het en wat kortstondig die nasionale rekord was.

Mboma het vroeër die dag in 22.11 haar eerste uitdunwedloop gewen. Sy het in die derde baan weggespring met Gabriella Thomas (24) van die VSA aan haar linkerkant.

Sommer so terloops het Mboma gister sommer twee keer met Thomas afgereken – die veelgeroemde vinnigste lewende vrouenaelooper ter wêreld in die 200, te danke aan haar 21.61 by die Amerikaanse Olimpiese proewe vanjaar.

Mboma se briljante 21.97 is met ’n wettige wind behaal en maak haar opnuut die senior nasionale Namibiese rekordhouer. Die is benewens haar:

• Nuwe Afrika senior rekord (oortref Blessing Okagbare van Nigerië se 22.04 in 2018)

• Nuwe o.20 wêreldrekord (oortref 22.11 van die Amerikaner Allyson Felix in Mei 2003 in Austin)

• Nuwe o.20-Afrikarekord (oortref 22.30 van Favour Ofili van Nigerië in Mei vanjaar in Jacksonville)

VERSNEL Ná TRAE WEGSPRING

Hoewel Mboma in haar eerste uitdun op bykans tipiese wyse verreweg die stadigste wegspring gehad het (reaksietyd 0.275 s), het sy in die pylvak versnel en die res van die veld agter gelaat. Thomas in 22.20 het nie dié resies enduit voluit gehardloop nie om haar energie vir die semifinale te spaar.

Mboma se wegspring was effens beter in die semifinaal (reaksietyd 0.212), maar dit wou lyk of sy nie weer haar beste kan lewer soos in die eerste ronde nie. Toe hulle uit die draai kom, was sy ongeveer drie meter agter die voorloper, Elaine Thompson-Herah van Jamaika, en vier ander atlete. Sy het nietemin haar kenmerkende versnelrat gevind en tweede geëindig.

Beatrice Masilingi het in haar uitdun met 22.63 op haar beurt tweede ná Shelly-Ann Fraser-Pryce (22.22) van Jamaika geëindig. Sy klop die gedugte Dafne Schippers van Nederland (derde in 23.13).

In haar semifinaal was Masilingi opnuut op haar stukke en klop ’n uitgelese veld met ’n tweede plek in 22.40 om vir die finaal te kwalifiseer. Anthonique Strachan van die Bahamas (22.56) was derde, terwyl Fraser-Pryce eerste met 22.13 eindig.

Mboma het gesê: “Ek is baie bly oor die rekords wat ek in die uitdunronde kon aanteken. Nou wag ek maar vir die semifinale om te sien wat gebeur. Ek was baie op my senuwees voor my uitdun, maar nou is ek reg vir die semifinaal en sal meer op my gemak wees.”

Masilingi se kommentaar ná haar eerste ronde: “Ek is gelukkig om hier te wees. My senuwees was vodde voor die eerste resies, maar nou is ek nie meer so senuweeagtig nie en hoop om beter in die semifinaal te vaar.”

Die toptwee plekke van die drie semifinale het vir die finaal gekwalifiseer en die twee vinnigste vroue in die derde plek het ook na die finaal gevorder. Mujinga Kambundji en Gabriella Thomas is die gelukkige verloorders wie by die 200-agterdeur ingeglip het.

Die Olimpiese 200 vrouefinaal sal soos volg aantree:

Baan 2 Mujinga Kambundji (29) van Switserland (seisoenbeste 22.26 in semifinaal)

Baan 3 Gabriella Thomas (24) van die VSA (seisoenbeste 21.61)

Baan 4 Shelly-Ann Fraser-Pryce (34) van Jamaika (seisoenbeste 21.79)

Baan 5 Christine Mboma (18) van Namibië (seisoenbeste 21.97)

Baan 6 Marie-Josée Ta Lou (32) van die Ivoorkus (seisoenbeste 22.11 in semi)

Baan 7 Elaine Thompson-Herah (29) van Jamaika (seisoenbeste 21.66 in semi)

Baan 8 Beatrice Masilingi (18) van Namibië (seisoenbeste 22.40 in semi)

Baan 9 Shaunae Miller-Uibo (27) van Bahamas (seisoenbeste 22.03).

Thomas, Thompson-Herah en Fraser-Pryce word as die besliste medaljegunstelinge gereken, met Miller-Uibo as ’n gevaarlike buiteperd en “perdalkies” net kan Mboma of Masilingi vir nog ’n opskudding veroorsaak.

Thompson-Herah is vasbeslote vir die laaste legkaartstukkie vir haar ongekende sogenaamde “dubbel-dubbel” – goud in die 100 en 200 van twee opeenvolgende Speles (Rio 2016 en Tokio 2020).

DIE ONREG VAN DIE 400

Die internasionale media het die Namibiese meisies gister uiteraard uitgevra oor hul gevoelens dat hulle nie in die 400 toegelaat word nie.

“Ek is baie teleurgesteld,” het Mboma erken. “Ek sal nie nou nou enigiets meer sê nie; ek wil net op die 200 konsentreer.”

Masilingi het heel voorspelbaar saamgestem: “Definitief ja, ek wens ek kon die 400 hardloop, maar nou kan ek nie. Dit is soort van ’n ingewikkelde saak. Verskeie dinge is aan die gang en ek is werklik verward. Dit was maar net drie weke voor die Spele dat ons die nuus gehoor het. Ek het op my spoed gefokus en my bes gedoen om goed voor te berei.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer