Meisies moet hulself bemagtig

Henriette Lamprecht
Droom groot, ondersteun mekaar en laat jul stemme hoor.
Dit was die boodskap van die Namibiese musikant, Suzy Eises, aan sowat 700 vroulike leerlinge by die Sekondêre Skool Immanuel Shifidi in Windhoek waar hulle by die Verenigde Nasies se uitreikprogram “Prosperous Paths: Leading in Vocation” betrek was.
Die doelwit is om 5 000 meisies meer oor geslagsgelykheid en vrouebemagtiging in te lig en dit is in Junie deur die VN se inwonende koördineerder in Namibië (UNRC), me. Kiki Gbeho, by die Beroepskollege Jakob Marengo van stapel gestuur. Ghebo het nie net haar eie storie van harde werk en sukses met die vroulike leerders gedeel nie, maar ook 'n boodskap van selfbemagtiging en volharding gebring. Sedertdien het die VN se Bevolkingsfonds (UNDP) se verteenwoordiger in Namibië, me. Dennia Gayle, asook me. Anthea Basson van die die inligtingsentrum in Windhoek in die hoofstad met meisies gepraat oor die belangrikheid om geslagsgelykheid en bemagtiging van alle vroue en meisies in die land 'n werklikheid te maak.
Tydens 'n spesiale geleentheid by die Sekondêre Skool Immanuel Shifidi het die Namibiese sanger en saksofoonspeler, Suzy Eises, die sanger Black Velvet, asook die sanger Slickartie die meisies met hul musikale vernuf vermaak. Eises het die leerlinge ook op 'n reis van haar pad as vroulike musiekkunstenaar in Namibië geneem en die meisies aangemoedig om " groot te droom, mekaar te ondersteun en hul stemme te laat hoor" .
Ghebo het tydens haar toespraak veral die groot aantal meisies wat die skool verlaat en die verband met tienerswangerskappe en jeugarbeid uitgelig. Volgens Ghebo verlaat sowat 10 000 leerlinge jaarliks die skoolbanke. Sy het verwys na statistiek vrygestel deur die Onderwysbestuur-inligtingstelsel (EMIS) wat tienerswangerskappe as die grootste oorsaak van skoolverlating uitwys, met 2 896 meisies wat in 2011 en 2012 die skool verlaat het. Sy het die meisies aangemoedig om hul eie " klub vir meisies" by die skool te stig as 'n plek waar elke " vroulike leerling welkom is, hulp kan ontvang en deur onvoorwaardelike waardering geïnspireer word" .
'n Opvolgveldtog word in November vir Prosperous Paths beplan waartydens jong meisies die geleentheid sal kry om saam met VN-personeel na jongmense uit te reik en hulle te bemagtig.

Kommentaar

Republikein 2025-08-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer