Meiklejohn mik na 20ste silwer in Comrades
Atletiek
Sarel van der Walt - Hy het die Comrades 23 jaar gelede gewen en spog met tien goue medaljes in dié moordende wedloop.
Sondagoggend, net voor hanekraai, sal die 56-jarige Shaun Meiklejohn voor die stadsaal van Pietermaritzburg aantree om dié wedloop 'n ongeëwenaarde 30ste keer in onder 7 uur en 30 minute te probeer aflê.
Slaag hy daarin, sal hy sy 20ste silwermedalje verower.
Dis geen wonder nie Bruce Fordyce, die Comrades-koning wat nege keer gewen het, praat met groot lof van Meiklejohn.
Fordyce beskou hom as een van die beste Comrades-atlete ooit. “Sy statistieke spreek vanself – die bestendigste kampioen ooit. Al sy medaljes was goud of silwer,” sê hy.
Van die vorige 29 keer wat Meiklejohn deelgeneem het, het hy net drie keer langer as 7 uur tussen dié twee stede gehardloop.
Sondag se Comrades word oor 'n afstand van 90,2 km tussen Pietermaritzburg en Durban beslis.
“My eerste Comrades in 1982 was seker die moeilikste – bloot omdat dit my eerste een was en ek nie geweet het wat om te verwag nie,” het Meiklejohn vandeesweek gesê.
Hy het dié Comrades, wat ook 'n af-wedloop was, in 7:16:48 voltooi – die stadigste van al 29 sy wedlope sover.
“Verlede jaar se wedloop (7:04:55, van Durban af Pietermaritzburg toe) was ook moeilik, omdat ek met 'n voetprobleem gesukkel het.
“Dié probleem is gelukkig nou iets van die verlede.”
Dié finansiële bestuurder van 'n maatskappy in Pietermaritzburg, sê hy het sedert Januarie sowat 2 600 km afgelê ter voorbereiding van Sondag se wedloop. “Dis omtrent 'n duisend kilometer minder as in my jong dae,” lag hy.
“Ek sien uit na Sondag se wedloop. Wat Sondag vir my ook spesiaal sal maak, is die feit dat ek my wedloop opdra aan Piet Vorster (die 1979-kampioen wat onlangs aan kanker dood is).
“Ek dink deesdae omtrent elke dag aan hom en sal met die wedloop seker ook 'n paar keer aan hom dink. Ek glo hy sal van daar bo af kyk.”
Meiklejohn se vinnigste tyd was die 5:34:02 waarmee hy in 1995 in Durban gewen het. Dié rateltaai strydros, een van die ware here van die Comrades, het elf keer onder ses uur gehardloop. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie