Meer as 300 slaggate gevul
Meer as 300 slaggate gevul

Meer as 300 slaggate gevul

Stadsake
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek het die oproep gehoor en besluit om deel van die opvulprojek van slaggate te wees. Ek lê net by die huis, so ek kan kom werk en ondervinding opdoen. Soms in die lewe moet jy net iets doen al word jy nie daarvoor betaal nie,” het me. Andeline Nerongo (53), ’n vrywilliger aan die NG Kerk Eros-gemeente se projek gesê.

Dominee Fourie van den Berg het die oproep vir vrywilligers gemaak om by die projek betrokke te raak en binne ’n week het hulle meer as 300 slaggate in die Eros-woonbuurt herstel.

“Die reaksie van die mense het my wildste drome oorskry. Nie net het talle vrywilligers opgedaag nie, maar ook besighede het etes en koeldranke afgelewer of van hul werkers gestuur.

“Die leerlingraad van Windhoek Hoërskool (WHS) het vir ’n hele dag kom help. Daar is ’n maatskappy wat vir elkeen wat gehelp het ’n braai wil hou om dankie te sê en Shoprite wat vir almal kospakkies sal gee,” het hy gesê.

Nerongo, wat die hele week op haar pos was, sê: “Miskien wil my dogter eendag ’n paaie-ingenieur word en dan kan ek haar leer hoe om slaggate reg te maak.”

Ook mnr. Dennis Ganeb is werkloos en het besluit om te kom help.

“Ek is elke dag hier om iets te leer en terselfdertyd iets goeds te doen. Dit sal goed wees as die munisipaliteit dalk vir ons kan gebruik om die gate op te vul. Ons het nou die ondervinding, ons werk goed as ’n span saam en kan dit elke dag doen. Ek het selfs ’n kode-10-bestuurslisensie,” het hy gesê.

Fourie self sê hy wil graag die drie mense wat elke dag kom help het ’n meer permanente werk gee.

“Terwyl ons so slaggate regmaak het, het ons ook opgemerk hoe bemors die stad eintlik is. Ons kan hulle aanstel om die dorp en veral die meer openbare plekke skoon te hou; nie net vullis uithaal nie, maar ook gras en onkruid verwyder. Ek wil baie graag vir die mense werk gee.”

Mnr. Patrick Mupunga, ’n paaie-inspekteur van die munisipaliteit, het sy dank uitgespreek vir wat die vrywilligers alles gedoen het.

“Ons van die munisipaliteit probeer om die slaggate reg te maak, maar die gate is te veel en ons kan dit nie alleen doen nie. Ons is baie dankbaar vir die hulp van die vrywilligers. Mense is baie gou om te kla en die vinger na die munisipaliteit te wys. As ons almal saam hande kan vat is die probleem vinnig opgelos,” het Mupunga gesê.

Van den Berg sê hy sal baie graag met die gatvul-projek wil aangaan, maar die vrywilligers het ander verpligtinge en kan nie nog ’n week aan gaan nie.

“As daar nog ander vrywilligers is wat belang stel kontak my asseblief op 081 129 8182 en ons gaan aan,” het Van den Berg gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer