Meer armdruk-rugby wag in halfeindstryde
Meer armdruk-rugby wag in halfeindstryde

Meer armdruk-rugby wag in halfeindstryde

Rugby
Tinus van Staden – Diegene wat meen Suid-Afrikaanse rugby is vervelig, moenie verwag dat die Curriebeker-halfeindstryde enigiets gaan doen om dié siening te verander nie.
Sean Everitt, die Haaie se afrigter, meen die uitspeelrondes gaan ’n regte armdruk-kompetisie wees. Sy span speel Saterdag teen die Westelike Provinsie in Kaapstad, terwyl die Blou Bulle en Leeus mekaar in die ander halfeindstryd op Loftus Versfeld pak.
Rugbykenners soos Nick Mallett, Swys de Bruin, Phil Pretorius, André Markgraaff en André Watson het almal in die laaste week uitgevaar oor die “vervelige rugby” wat in die Curriebeker-reeks opgedis word. Everitt sê spanne gaan nie van hul bloudruk afwyk vir die halfeindronde nie.
Die telbord is wat tel, nie bonuspunte nie. Die span wat die minste foute in uitklopwedstryde begaan, is die span wat wen.
“Dit hang af van die filosofieë van die spanne. Ons weet waar ons sterk en swak punte lê. Jy kan nie verander hoe jy speel nie, maar jy kyk anders na geleenthede om punte aan te teken,” sê Everitt.
“Die telbord is wat tel, nie bonuspunte nie. Die span wat die minste foute in uitklopwedstryde begaan, is die span wat wen.
“In Suid-Afrika is dit altyd ’n stryd wat gaan oor fisiekheid, hetsy by vaste fasette of by die afbreekpunte. Die span wat sy gesag by dié fasette die beste afdwing, gaan die span wees wat wen.”
Al het die Haaie drie weke terug laas rugby gespeel, glo hy die span sal fisiek gereed wees vir die halfeindstryd.
“Die wyse waarop ons oefen, moes verander, want jy kry nie jou gebruiklike kontak in wedstryde op Saterdae nie. Dit is nie ideaal nie, want jy wil weekliks op jou vertonings voortbou. Geen span het daardie geleentheid gehad nie.
“Ons pas ons oefensessies aan sodat ons met 15 spelers teen 15 spelers oefen. Dit help ons om gereed te wees vir die wedstryd.
“Die ouens is lekker lewendig, hulle is opgewonde om terug op die veld te kom, want dit is uiteraard nie aangenaam as wedstryde uitgestel word, soos wat die geval twee weke gelede met die wedstryd teen die Westelike Provinsie was nie.
“Die ouens was gereed vir daardie kragmeting nadat hulle met ’n oorwinning oor Griekwas teruggeslaan het ná nederlae teen die Leeus en Vrystaat. Die fokus is egter nou op die halfeindstryd.
“Almal wil graag in uitspeelwedstryde speel en die ouens is opgewonde vir die uitdaging wat in Kaapstad wag.”
– Netwerk24



FOTO
Die haker Kerron van Vuuren in ’n ligte luim Maandag op die Haaie se oefensessie. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer