Medisyne nie u2019n luukse, maar noodsaaklikheid
Medisyne nie u2019n luukse, maar noodsaaklikheid

Medisyne nie ’n luukse, maar noodsaaklikheid

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die uitgerekte, jarelange hofsaak waarin mediese praktisyns verhoed word om medisyne sonder ’n lisensie te dispenseer, het ’n “baie verdelende” aangeleentheid tussen dokters in private praktyk en die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) geraak.
Volgens die minister van ­gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Bernard Haufiku, kon dit lankal opgelos en die huidige dooie punt verhoed gewees het, sou daar “na die mense wat ons dien, geluister is”.
Die huidige standpunt van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is dat medisyne “selfs deur nie-mediese personeel” aan die gemeenskap gelewer word.
“In ons geval en ons regulasies en die wyse waarop ons dit toepas, maak toegang tot selfs lewensreddende, anti-­retrovirale medisyne baie moeilik.”
Haufiku het verwys na ’n persoonlike ervaring toe hy deur beamptes van die NMRC uit hul kantore gejaag is, nadat hy gepleit het dat sy Suid-Afrikaanse dispenseringslisensie nie opgehef word nie, maar na ’n Namibiese lisensie gewysig word.
“Ek was verantwoordelik vir byna 2 000 pasiënte in my praktyk by die Katolieke hospitaal. Om sake te vererger, was die persoon wat my uit sy kantoor gejaag het, nie eens ’n Namibiese burger nie.”
Hy het voorts verwys na verskeie mense wat huidig met betrekking tot die dispensering van medisyne “uitgelaat” word. Dit sluit onder andere dokters op Otavi, Omaruru, Lüderitz en Oshakati in.
“Ek ondersoek die egtheid van verslae wat op my tafel beland het dat die meerderheid algemene praktisyns wat dispenseringslisensies het, nie Namibiese burgers is nie. Sou dit waar wees, wil ons graag weet waarom.”
Volgens Haufiku bevind 90% van die 513 geregistreerde aptekers in Namibië hulle in die private sektor, met die meerderheid wat nog nooit in ’n regeringsinstelling gewerk het nie. Dit in weerwil van die feit dat hulle “baie betrokke” by tenders vir die verskaffing van farmaseutiese produkte aan die regering is.
“Dit is onaanvaarbaar en ons is vasbeslote om hierdie afwyking te herstel. Ons sal dit hanteer, selfs al beteken dit die wysiging van ’n sekere wet wat dokters en verpleegsters
sal toelaat om medisyne te dispenseer.
“Die saak moet so gou as ­moontlik opgelos word om onduidelikheid uit te skakel en om ons in staat te stel om ander opsies te oorweeg om te verseker dat almal, oral in Namibië, toegang tot medisyne het.”

REGISTRASIE
Die minister het tydens die aankondiging van die NMRC se nuwe raad ook ’n beroep gedoen vir die bespoediging van die registrasie van ­medisyne en mediese produkte in die land. Volgens Haufiku gaan dit hand aan hand met die harmonisering van medisyne-registrasies in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeen­skap (SADC).
“Sou ’n mediese produk deur ’n maatskappy in Botswana geregistreer wees, moet dieselfde produk steeds in Namibië of in Suid-Afrika geregistreer word. Dit veroorsaak onnodige en onaanvare vertragings in die registrasie van medisyne.”
Dit is volgens hom in weerwil van ministers van gesondheid in die SADC-streek se verbintenis tot ’n algemene registrasie van medisyne en mediese produkte vir beide menslike en dierlike gebruik in alle SADC-lande.
“Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe is huidig besig met ’n projek om ons regulerende raamwerk te harmoniseer en binne SADC en individuele lidlande vaartbelyn te maak. Harmonisering van regulasies is ’n voorvereiste vir enige ander al­gemene projekte binne SADC en kontinentale Afrika.”
Volgens Haufiku moet ministers van gesondheid in die streek huidig voortdurend hul stemme dik maak vir gesamentelike aankope in die poel en selfs ook vir die vestiging van ’n gesamentelike farmaseutiese vervaardigingsaanleg.
“Niks daarvan is lewensvatbaar, sou ons nie ons regulasies en registrasies van medisyne en mediese produkte harmoniseer nie.”
Die nuwe lede van die NMRC is dr. A. Goagoseb, me. N. Nghishekwa, me. F. Hashiti, dr. M. Hemberger, me. R. de Waal, dr. C. Burger, me. H. Gideon, dr. H. Shipanga, dr. R. Diethardt, adv. D. Khama, me. K. Nunuhe en dr. M. Tune.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer