MDC kap Mugabe oor grondgrypery
MDC kap Mugabe oor grondgrypery

MDC kap Mugabe oor grondgrypery

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe, is deur die MDC, die hoofopposisieparty, gekap oor sy onlangse dreigemente van hernude grondgrypery en dat die laaste oorblywende wit kommersiële boere van hul eiendom verwyder moet word.

Mugabe (93) het sy regerende Zanu-PF-partylede Vrydag in Marondera, sowat 80 km oos van Harare, toegespreek en gesê dat wit kommersiële boere wat steeds plase het, van hul grond verwyder moet word omdat die meeste Zimbab­wiërs grond nodig het.

“Ons het aan Tony Blair (voormalige Britse premier) gesê om sy Engeland te hou en ons hou ons Zimbabwe, want ons land is ons herkoms,” het Mugabe in Shona gesê.

“Daar is 73 wit kommersiële boere in Mashonaland-Oos (provinsie in Zimbabwe) wat steeds van die plase beset terwyl ons mense nie grond het nie.”

Die MDC het gesê Mugabe se planne om die min oorblywende “produktiewe wit boere” te teiken, gaan die reeds gehawende ekonomie verswak.

“Die besluit om alle plase weg te vat van die min wit mense wat besig is met kommersiële boerdery is rassisties, primitief, retrogressief en absolute nonsens,” sê Obert Gutu, MDC-woordvoerder.

“Ons moet meer daarop fokus om die hervestigde swart boere se bekwaamheid te bevorder as om die plase te vat van die min wit mense wat steeds op hul plase is.”

Mugabe het teruggekap deur te sê die MDC is 'n marionet van die Weste en is daarop uit om sy regering se omstrede grondhervormingsprogram om te keer.

Nelson Chamisa, 'n adjunk van die eerste minister Morgan Tsvangirai, het aan News24 gesê Mugabe se opmerkings “is 'n finale spyker in die doodskis van die reeds oorlede Zimbabwiese ekonomie”.

“Mugabe het sy oorspronklike ­rewolusionêre progressiewe sin van doel en rigting verloor. Dit is duidelik dat hy die eertydse groot Zimbabwe verminder het na 'n Zimbabwe-bouval, indien nie bourommel nie.”

Die Zimbabwe Commercial Farmers Union sê meer as 4 000 wit boere is in 2000 geraak deur die grondbesetting van die Mugabe-­administrasie.

Van dié boere bly nou in buurlande soos Malawi, Mosambiek en Zambië.

– News24

Kommentaar

Republikein 2025-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer