McMaster se aanstelling in Withuis verras
McMaster se aanstelling in Withuis verras

McMaster se aanstelling in Withuis verras

Ná al die omstredenheid in Washington is die aanstelling van die nuwe veiligheidsraadgewer 'n groot verrassing.
Estelle de Bruyn
Pres. Donald Trump het ’n ervare militêre offisier, wat bekend is daarvoor dat hy nie skroom om gesag uit te daag nie, as sy nuwe raadgewer vir nasionale veiligheid aangestel.

Lt.genl. Herbert Raymond McMaster word beskou as ’n hoogs aangeskrewe militêre taktikus en strategiese denker.

Tog het sy aanstelling sommige ontleders laat kopkrap, omdat sy loopbaan in die weermag reeds ’n paar spoedhobbels getref het juis omdat hy graag gesag uitdaag. Dit laat mense wonder hoe McMaster in die Withuis gaan vaar onder Trump, wat tot dusver nie juis kritiek verwelkom het nie.

“Hy word hoog geag deur almal in die weermag en ons is baie geëerd om hom te hê,” het Trump aan verslaggewers in West Palm Beach gesê.

Een onderwerp waaroor Trump en McMaster moontlik vinnig gaan verskil, is Rusland.

McMaster is van mening, soos die meeste mense in nasionale intelligensie, dat Rusland ’n bedreiging vir Amerika inhou en antagonisties is, terwyl die man wat hy vervang, lt.genl. Michael Flynn, van mening is dat Rusland ’n potensiële geopolitieke vennoot is.

Trump het al aangedui dat hy bereid is om meer as Barack Obama, sy voorganger, in gesprek met Rusland te tree.

Flynn is op 13 Februarie afgedank as die raadgewer vir nasionale veiligheid nadat berigte aan die lig gekom het dat hy Mike Pence, adjunkpresident, mislei het oor of hy, nog voor Trump se inhuldiging, met Rusland se ambassadeur in die VSA oor sanksies gepraat het.

Die raadgewer vir nasionale veiligheid is ’n onafhanklike persoon wat groot invloed oor buitelandse beleid kan uitoefen en woon ook nasionale veiligheidsvergaderings by.

Dié aanstelling vereis nie bydraes van die senaat nie. - Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer