McGregor nie meer in prentjie vir Pacquiao

Boks
Conor McGregor se skoknederlaag die naweek teen Dustin Poirier het skynbaar die deur vir Ryan Garcia oopgemaak om volgende teen Manny Pacquiao te boks.
McGregor het voor sy UFC-geveg Saterdag in Abu Dhabi nog vertel dat hy ongeveer $250 miljoen gaan verdien wanneer hy later in die jaar teen Pacquiao boks.
Die kontrak was egter nog nie onderteken nie en nadat Poirier vir McGregor uitgeslaan het, klink dit of die grootmond Ier nie meer in die prentjie is nie.
Die ontluikende jong liggewigheld Ryan Garcia het enkele ure ná McGregor se nederlaag op Instagram gesê hy boks volgende teen Pacquiao.
“ ’n Droom word waar. Dit sal ’n eer wees om die kryt met Manny Pacquiao te deel,” skryf Garcia.
Pacquiao moet nog op Garcia se “aankondiging” reageer.
Die Filippynse bokslegende het wel vir Poirier direk ná sy oorwinning op Twitter gelukgewens.
“Dis die mooi ding van vegsport, jy weet nooit wat om te verwag nie,” sê Pacquiao.
Pacquaio boks in die weltergewigafdeling; indien hy dus wel volgende teen Garcia sou boks, sal óf hy gewig moet verloor óf Garcia sal moet optel.
McGregor het aan World Boxing News gesê hy is “verpletter” deur die nederlaag.
“Dis ’n bitter pil om te sluk,” sê hy.
Floyd Mayweather wat met oorwinnings oor Pacquiao en McGregor spog, oefen intussen kliphard vir ’n vertoongeveg teen die YouTuber Logan Paul.
Die geveg gaan glo iewers in Maart plaasvind.
– Netwerk24


FOTO’s
Dustin Poirier (links) ná sy uitklopoorwinning teen Conor McGregor die naweek in Abu Dhabi. Foto Nampa/Reuters

Volgens Ryan Garcia boks hy volgende teen Manny Pacquiao. Garcia het dié plakkaat op Instagram gedeel. Foto Instagram

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer