McGrath droom steeds oor terugkeer

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Hy het nog nooit sy droom begrawe om dalk eendag weer die Namibiese toetstrui oor sy kop te trek nie, sê die vleuel McGrath van Wyk.

Van Wyk was in 2011 die enigste lid van die Namibiese spelersgroep wat geen wedstryd by die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland gespeel het nie. Hy het daarna kans gekry om klubrugby in Roemenië te gaan speel voordat hy die afgelope jaar of twee 'n staatmaker vir sy Engelse klub geword het.

Die 29-jarige vleuel is in die 2014-'15 seisoen as Derby Rugbyklub se speler van die seisoen aangewys. Hy het met 29 drieë in 27 wedstryde 'n nuwe klubrekord opgestel en het ook heelwat punte as een van die stelskoppers aangeteken.

Die gebore Windhoeker wat sy skoolloopbaan by Dr. Lemmer op Rehoboth voltooi het, het aanvanklik as 'n veelsydige agterspeler van Western Suburbs na vore getree. Tussen 2009 en 2011 het hy in nege toetse vir die nasionale span gespeel (twee keer vanaf die reserwebank) waarin hy twee drieë gedruk het.

Sy ervaring van die 2011 Wêreldbeker was teleurstellend, maar hy sê hy het aanbeweeg en koester geen wrokke nie.

Ná die Wêreldbeker was hy een van 'n hand vol Namibiërs wat die kans aangegryp het om klubrugby in Roemenië te gaan speel. Van Wyk het vyf jaar hier deurgebring en het ook sy Roemeense vrou Angela daar ontmoet.

“In my eerste jaar by Farul Constanta het ons die liga gewen en ek was ook daardie seisoen die klub se voorste driedrukker.

“ Die volgende seisoen het ek aanbeweeg na 'n ander klub, Timisoara, waar ek twee jaar gespeel het. Chester Williams was die hoofafrigter daar.

“In Roemenië speel 'n klomp Fidjiane, Tongane en Nieu-Seelanders en die meeste klubs het baie bekwame afrigters aan die stuur. Die rugby is dus baie hard en dit was nie maklik om jou plek in die span te behou nie, maar ek het baie daar geleer.”

Van Wyk het hom verlede jaar by Derby aangesluit wat in die sentrale deel van Engeland naby Nottingham geleë is en in die Engelse nasionale binnelandse derde liga speel.

“Derby-klub het vir my 'n werk gekry (in inligtingstegnologie) en hulle behandel my en my vrou baie goed. Dis 'n wonderlike klub en almal is soos familie hier; hulle wil nie hê ek moet hier weggaan nie.

“Dalk kom kuier ek so teen Junie weer in Windhoek om darem nog vir oulaas 'n wedstryd of twee vir Suburbs te speel.

“Namibië bly my land en ek is baie trots om te sê ek is 'n Namibiër en dat ek vir my land kon speel. Uit my hart sal ek bitter graag weer vir Namibië wil speel – maak nie saak of dit vyftien- of sewesrugby is nie, 'n man bly droom maar dat jy daai oproep of e-pos kry wat jou 'n kans gun.”

Op 90 kilogram is Van Wyk deesdae stewiger as die 82 kg toe hy 'n klompie seisoene gelede die laaste keer vir Namibië gespeel het.

Vir nou bly sy fokus daarop gerig om Derby te help om die seisoen in een van die topvier posisies af te sluit wat sal beteken dat hulle in Mei nog in die halfeindronde betrokke sal wees. Hul volgende wedstryd is komende naweek teen Sheffield.

Rugbyskrywers het Van Wyk geprys vir sy individuele drie toe die span 'n week voor Kersfees net-net met 22-24 met Sandbach verloor het.

Die Namibiër het 'n skop teen die kantlyn gevang en met 'n teenaanval begin, een verdediger met 'n lugskoppie geklop en toe die resies hoekvlag toe gewen. Die besoekers het egter laaste gelag toe 'n strafskop kort voor die einde deur die pale geseil het.

Kommentaar

Republikein 2026-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer