Mboma, ons Olimpiese heldin!
Juigkrete van Namibiërs wêreldwyd het gister weergalm tydens die 200 meterfinaal in Tokio.
Andrew Poolman – As die jongste Olimpiese medaljewenner in ’n vrouenaelloop die afgelope 49 jaar het Christine Mboma gister op skouspelagtige wyse die kalklig van internasionale sport betree en ’n status aangeneem wat vir altyd met haar naam verbind sal word.
’n Nuwe opwindende hoofstuk in die lewe van die 18-jarige boorling van die Kavangostreek sal vandag begin wanneer sy in die Nasionale Stadion in Tokio tydens die podiumseremonie haar 2020 Olimpiese silwermedalje vir die 200 meter ontvang.
Mboma het gister eiehandig die land se Olimpiese medaljedroogte van ’n volle kwarteeu gebreek vandat Frank Fredericks die laaste van sy vier silwers in Barcelona 1992 en Atlanta 1996 huis toe gebring het.
Toe die teruggetrokke, maar hoogs talentvolle naelloper in gister se Olimpiese finaal met haar kenmerkende vaartversnelling vorendag kom, kon niemand behalwe die ewe formidabele Elaine Thompson-Herah van Jamaika by haar kers vashou nie.
Al die twyfelaars wat gewonder het of Mboma in staat is om die legendariese oudkampioen Shelly-Ann Fraser-Pryce van Jamaika van agter af verby te steek en selfs van enige medalje te weerhou, het ook gister dié verstommende ja-antwoord gekry.
Met nóg ’n nuwe Afrika-rekord (ook die Namibiese nasionale senior rekord asook o.20-wêreldrekord) van 21.81 sekondes het Mboma sowaar ook verbeter op die vorige dag se ewe briljante vertoning in die semifinaal, toe sy hierdie drie rekords tot 21.97 gesnoei en die eerste vrou van Afrika geword het wat die 200 meter vinniger as 22 sekondes afnael.
Op sosiale media het Fredericks reeds uitgewys dat die kontinentale 200-rekords vir mans én vroue agter die naam van Namibiërs staan. Sy eie merk van 19.68 staan steeds vanaf die 1996 Atlanta-spele.
SUKSESVOLLE VENNOOTSKAP
Mboma se 18-jarige Namibiese oefenmaat Beatrice Masilingi (sesde in die Olimpiese finaal) het gister eweneens vinniger as ooit tevore in haar lewe gehardloop vir ’n puik 22.28 sekondes.
Mboma, Masilingi en hul afrigter Henk Botha van Grootfontein se hoogs suksesvolle vennootskap oor die afgelope paar jaar het sover nog net tussen stelselmatige opgang en skouspelagtige vertonings op internasionale vlak gewissel.
Botha se insig om Mboma se ingebore hardlooptalent vanaf ’n 800- en 1500 meteratleet só suksesvol vir die korter afstand te omskep, sal nou altyd deel van hierdie sprokiesverhaal in Namibiese atletiek bly.
Sy twee naellopers is selfs nog sterker in die 400 en het vanjaar onderskeidelik die vinnigste en derde vinnigste tye ter wêreld gehardloop (48.54 in Bydgoszcz, Pole en 49.53 in Lusaka) – hoewel Wêreldatletiek eersgenoemde tyd intussen nie meer as Mboma se beste aanvaar nie.
Mboma en Masilingi het die land sover op die mees eervolle wyse denkbaar verteenwoordig en het aan hul ondersteuners wêreldwyd die beste moontlike skietgoed gegee om Wêreldatletiek se uiters omstrede beslissing teen te staan wat dié twee op grond van natuurlik verhoogde testosteroonvlakke verhinder om wettiglik aan enige kompetisie oor afstande vanaf 400 meter tot die myl te mag deelneem.
– [email protected]
FOTO’s
Christine Mboma se triomfantelike oomblik saam met die ander twee medaljewenners, Elaine Thompson-Herah van Jamaika en Gabrielle Thomas van die VSA. Foto’s Getty Images / Nampa/Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie