Mboma bars deur grens vir Tokio 2021
Mboma bars deur grens vir Tokio 2021

Mboma bars deur grens vir Tokio 2021

Die twee Grootfontein-meisies het nou beide die kwalifiserende merk vir Tokio 2020 oortref.
Andrew Poolman
Tielman van Lill – Die 17-jarige Christine Mboma het Saterdag op Oshakati met 'n skitterende 50.91 sekondes in die 400 meter naelloop vir die 2021 Olimpiese Spele in Tokio gekwalifiseer.

Die blits van Agri Kollege op Groot­fontein het haar vorige beste tyd van 51.57 (Desember in Pretoria) dramaties verbeter en ook die kwalifiserende Olimpiese standaard van 51.35 met amper 'n halwe sekonde geklop.

Sy en haar ewe formidabele skoolmaat Beatrice Masilingi het sy aan sy gehardloop en laasgenoemde was inderdaad nog met 'n kortkop voor toe die pylvak bereik is, maar Mboma se finale vaartversnelling het haar etlike treë voor Masilingi (51.9) laat eindig.

Tot tyd en wyl Wêreldatletiek dié week sy wêreldlys vir beste tye vanjaar op datum bring, staan Mboma se 51.59 twee naweke gelede op Swakopmund steeds op nommer een.

Masilingi het verlede jaar afgesluit met die vinnigste 400 deur enige vrou ter wêreld (senior, o.20 én o.18) nadat sy in die Tuks-stadion in Pretoria 'n 50.42 genael het.

Die twee sterre se afrigter, mnr. Henk Botha, sê Mboma het tot verlede Desember uitsluitlik op die 800 meter gekonsentreer. Sy het verlede jaar in Pretoria in die 400 asook die 800 vir die 2021 Junior Wêreldkampioen­skap in Nairobi haar hand opgesteek.

Botha sê: “Toe Christine in 2018 by my aangekom het, het sy die 800 en 1 500 gehardloop. Maar sy het toe vir my gesê sy hou glad nie van die 1 500 nie en van toe af was dit net die 800.

“Omrede die 400 en 800 mekaar aanvul, het ek die korter wedloop in haar oefenprogram gebruik om haar vaart en spoeduithouvermoë te verbeter. Ek het toe besef daar is talent en 'n moontlikheid dat sy goed in die 400 kan vaar.

“Namate haar tye algaande verbeter het, het ek besef sy kan groot hoogtes bereik en ons mikpunt was eerstens om vir die Junior Wêreldkampioen­skap en tweedens die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

“Beatrice het in die 200 amptelik vir die Spele gekwalifiseer, maar Chris­tine se tyd Saterdag moet nog deur die Namibiese Olimpiese Komitee, die Internasionale Olimpiese Komitee en Wêreldatletiek erken word. Dan sal sy amptelik in die sisteem wees.”

Die skaam tiener wat oorspronklik van Divundu (Kavango-Oos) afkomstig is, het aan Republikein vertel wie haar rolmodel in die 400 is. Heel voorspelbaar het sy nie ver gaan soek na iemand na wie sy opkyk nie.

“Wayde van Niekerk, Suid-Afrika se 400 meter wêreldrekordhouer en Olimpiese titelhouer, is my rolmodel. Hy is 'n ongelooflike atleet en mens wat my inspireer om gedissiplineerd en hard te werk om my droom te bereik. Hy is 'n sprekende voorbeeld van 'n topatleet en topmens.

“Ek en Beatrice is oefenmaats en sy help my geweldig baie en sy is 'n baie goeie vriendin. Ek was Saterdag ver­skriklik opgewonde en ingenome met my tyd. Toe ek hoor my tyd oortref die Olimpiese Spele se kwalifisering, was ek uit my vel van blydskap.”

Botha sê dit is vir Namibië 'n ongelooflike prestasie om twee atlete onder die wêreld se topvyf vanjaar te hê.

“Ons gaan Dinsdag (môre) in Johannesburg by 'n elite Grand Prix deelneem waar die room van Suid-Afrika en Botswana se atlete in aksie gaan wees. Ek glo beide van hulle is in staat om by die Junior Wêreldkampioen­skap 'n medalje te verower of baie naby daaraan te kom.

“In Johannesburg sal baie sterk atlete wees en dit is nie te sê jou atleet sal in die topdrie eindig nie. Dit hang baie van omstandighede af en hoe die atleet op daardie oomblik van die dag reageer.

“Ek is geweldig trots op die twee meisies. Twee meer gedissiplineerde en toegewyde atlete as hulle kry jy nie.

“Aan Beatrice en Christine se talent het ek nooit getwyfel nie. Ek het van die begin af geweet hulle sal beide vir die 2021 Spele kwalifiseer; dit was net 'n kwessie van tyd voor dit gebeur het.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer