Masilingi verpletter haar 200-rekord

Atletiek
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die 17-jarige Beatrice Masilingi van Grootfontein het gisternamiddag die 200 meter naelloop by Atletiek Suid-Afrika se AVANTI senior uitnodigingsbyeenkoms in die Ruimsig-stadion in Roodepoort gewen.

Die Olimpiese kwalifiserende tyd is 22.80 sekondes, maar die Namibiese meisie met die goue voete het in 22.59 sekondes los onder Sherley Nekhubvi van Tuks-atletiekklub (tweede in 23.29) en Justine Palframan van Maties (derde in 23.52) uitgeseil.

Die aanduiding was dat die wind van agter in die pylvak sterker as 2 meter per sekonde was (+3.9), maar Masilingi het haar aanslag geensins skade aangedoen om in beide die 200 en 400 meter vir die 2021 Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer nie.

Masilingi se vorige beste 200 m-tyd van 22.94 het sy in Desember in Pretoria opgestel en staan as die Namibiese rekord. Sy het wel drie dae later by dieselfde baan ’n vinniger 22.71 beklink, maar die windspoed in die pylvak was te sterk (+2.7 m/s) van agter en die tyd word dus nie as rekord erken nie.

In gister se wedloop het Masilingi sekerlik haar oog op Boipelo Tshemese (seisoenbeste 23.73), Justine Palframan en Taylon Bieldt gehad wat almal die afgelope seisoen onder die 24 sekondes gedraai het.

• Die Namibiese diskusgooi-rekordhouer Ryan Williams het gister by dieselfde byeenkoms in Roodepoort ’n derde plek met ’n beste gooi van 54.84 behaal.

Williams het verlede week in ’n byeenkoms op Potchefstroom, waar hy by die Pukke studeer, ’n gooi van 56.53 gelewer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer