Masilingi ontmoet Sha'Carri volgende week
Die gespierde Namibiër het in Luzern gewen, maar die sopnat weer was nie gunstig vir haar beste tyd nie.
Tielman van Lill – Beatrice Masilingi (18) het Dinsdagaand by die Allmend-stadion in Luzern, Switserland, by die Spitzen Leichtathletik-byeenkoms die Namibiese 200 meter-rekord geëwenaar. Dit is een van Wêreldatletiek se kontinentale toer silwerbyeenkomste.
Op 'n sopnat baan en in 'n motreën het sy die item gemaklik in 22.67 sekondes gewen. Sy het haar erkende persoonlike beste tyd (22.73) verbeter en die Namibiese senior nasionale rekord skrik gemaak.
Christine Mboma, haar oefenmaat, was tot nou die alleenhouer van dié nasionale rekord, wat sy op 7 Junie 2021 in Praag, Tsjeggië, opgestel het.
Met beserings kort voor die 2021 Olimpiese Spele in Tokio in gedagte, was dit verstaanbaar dat Masilingi lugtig vir die nat baanoppervlak was.
Die beloofde vuurwerke het voor die wegspring platgeval met die onttrekking van die twee Olimpiese finaliste van 2016 wat veronderstel was om weerskante van haar baan 5 aan te tree.
Die tweemalige wêreldkampioen Dafne Schippers van Nederland (29), met 'n seisoenbeste van 22.91, en Marie-Josée Ta Lou (32) van die Ivoorkus met 'n seisoenbeste van 22.58, was afwesig in die 200 ... dalk ewe souerig vir die tienersensasie van Namibië as vir die nat baan?
Masilingi se wegspring was beskeie en haar spoed om die draai ook so-so. Maar haar versnelling in die pylvak, ritme en hardloopstyl was onberispelik om onder die res van die veld uit te seil.
Nogtans het sy beswaarlik in dié wedloop alles uitgehaal.
Sy is sedertdien reeds op pad na Swede, waar sy komende Maandag op uitnodiging in die Stockholm-stadion aan die Wanda Diamantliga-byeenkoms se 200-wedloop sal deelneem.
KEER HUIS TOE VOOR SPELE
Mnr. Henk Botha, afrigter van die twee Namibiese supersnellers, vertel: “Beatrice is baie tevrede met haar vertoning. Haar wegspring was nie goed nie, want die baan was baie nat.
“Sy was bang sy gly en ek kon dit sien toe die skoot klap. Haar wegspring is normaalweg veel beter, maar die res van die resies was puik.
“Ons het aan haar konstante spoed in die pylvak gewerk en aan versnelling tot by die wenpaal geskaaf. Die resultaat was beslis daar en sy het vir my gesê ons harde werk het vrugte afgewerp. Sy is baie opgewonde oor haar deelname in Stockholm en het reeds daarheen vertrek.
“Christine en Beatrice sal in Julie aan byeenkomste in Frankryk deelneem voordat hulle huiswaarts keer. Dit sou ideaal gewees het as hulle in Europa kon bly en dan hiervandaan na Japan vertrek. Ongelukkig is dit nie so maklik nie, met vliegtuigkaartjies wat bykans onbekombaar is.
“Hul kaartjies vanaf Namibië vir Japan is reeds bespreek en hulle sal ná die laaste byeenkoms huis toe kom. Ek is in die bevoorregte posisie dat ek as afrigter deur die Namibiese Nasionale Olipiese Komitee vir beide atlete aangestel is en sal saam met hulle na Tokio vir die Spele reis.”
Masilingi sal in Stockholm vir haar grootste uitdaging nóg in haar jong atletiekloopbaan teen Sha'Carri Richardson (21) van die VSA in die 200 en die Jamaikaanse blits, Shericka Jackson (26), aantree.
Die 21-jarige Richardson se persoonlike beste tyd vir 2021 is 22.11 wat sy Aprilmaand in Florida behaal het. Sy het by die VSA se Olimpiese proewe die 100 meter gewen (10.82) nadat sy kort tevore met 10.72 die sesde vinnigste vrou in die geskiedenis van die kort naelloop geword het.
Jackson spog met 21.82 laasmaand in Kingston om die derde vinnigste vrou vir 2021 te word.
Voordat die Spele op 23 Julie in Japan begin, sal Mboma aanstaande Maandag in Nancy, Frankryk, deelneem en weer op 11 Julie vir oulaas saam met Masilingi in Sottosville (Frankryk) die spykerskoene aantrek.
• Schippers het silwer by die 2016 Olimpiese Spele met 'n blitsige 21.88 opgeraap en die volgende jaar met die wêreldkampioenskap in Londen die stophorlosie op 22.05 laat registreer om die wêreldkroon tot 2019 te dra. Vir haar persoonlike beste en Nederlandse nasionale rekord het sy in 2015 by die wêreldkampioenskap in Beijing met 21.63 ingeklok.
Ta Lou se nasionale rekord is 22.08, waarmee sy silwer by die 2017 wêreldkampioenskap in Londen gewen het. Die vorige jaar het sy by die Olimpiese Spele vierde met 22.21 geëindig.
– [email protected]
FOTO
Beatrice Masilingi spring weg in die 400 meter tydens die Namibiese senior nasionale kampioenskap in April. Foto Tielman van Lill

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie