Ma's moet hul babas anoniem kan los
Ma's moet hul babas anoniem kan los

Ma's moet hul babas anoniem kan los

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn het gevra babastorting in Namibië moet gedekriminaliseer word.

Dit beteken ’n ma sal haar baba op ’n veilige plek kan los met ’n nota dat sy hom of haar om welke rede ook al nie kan versorg nie.

Die ministerie sê in ’n verklaring bogenoemde kan gevolglik by maatskaplike werkers verbonde aan die ministerie aangemeld word, wat sal verseker die baba word versorg.

“In stede daarvan om die baba net op ’n afgeleë plek te los waar sy of haar lewe in gevaar gestel word, kan die baba op ’n veilige plek gelos word waar bure of maatskaplike werkers hom kan vind en die nodige reëlings vir die plasing van die baba kan tref,” lui die verklaring.

Hoewel daar “moontlik begrip” kan wees vir die uiters moeilike omstandighede wat jong verwagtende moeders in die gesig staar, doen die ministerie ’n beroep op vroue en jong meisies om eerder om hulp te vra as om die baba te verwerp.

Die ministerie stel voor die swanger vrou moet die ministerie in kennis stel van die ongewenste swangerskap en haar onwilligheid om vir die baba te sorg.

In dié verband sal ’n “ondersteunende beradingsomgewing sonder oordeel” deur maatskaplike werkers van die ministerie verskaf word.

Die ministerie sal dan, in samewerking met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), reëlings tref vir ’n veilige kraamproses en ook vir geskikte versorgers vir die baba.

“Deur dit te doen, word beide die ma en die kind beskerm,” lui die verklaring.

In gevalle waar die baba gebore is en deur sy ma verlaat is, sal die ministerie met die hulp van MoHSS eerstens seker maak die baba is gestabiliseer.

’n Saak van babastorting sal voorts aanhangig gemaak word met die hulp van die Namibiese polisie, terwyl die ministerie van justisie en die howe sal optree om die baba in ’n plek van veiligheid te plaas.

Volgens die verklaring is verskeie geregistreerde geriewe in Namibië beskikbaar waar babas tydelik uitgeplaas word totdat ’n permanente oplossing gevind word.

Die polisie sal voorts help om die biologiese ma van die baba op te spoor.

Sou die biologiese ma nie opgespoor kan word nie, staar sy strafregtelike klagte in die gesig, of indien sy nie geskik is om vir die baba te sorg nie, sal die baba op die familieregister vir óf pleegsorg óf aanneming geplaas word.

Die familieregister bevat inligting oor beskikbare en goedgekeurde pleeg- of aanneemouers.

Die ministerie het voorts ’n beroep op alle rolspelers, wat kerke, tradisionele leiers en gemeenskappe insluit, gedoen om jong meisies te ondersteun wat nie weet hoe om ’n ongewenste swangerskap te hanteer nie.

“Die ministerie het maatskaplike werkers in al die kiesafdelings wat psigomaatskaplike ondersteuning aan enige swanger vrou kan verskaf.”

Vir meer inligting, skakel me. Helena Andjamba by (061) 283 3167.

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer