Marathon-titels word bepaal
Marathon-titels word bepaal

Marathon-titels word bepaal

Andrew Poolman
Die nasionale marathon bergfietskampioenskap word komende Sondagoggend aan die suidekant van Windhoek gehou en word opnuut deur Nedbank geborg.
Die resies by Farm Windhoek (Kleine Kuppe) is net soos enige van die veldresiesreeks se dae oop vir enige persoon wat wil inskryf. Die baan is baie opwindend en sal ’n uitdaging aan elke deelnemer se vlak van ervaring bied. Môre, Vrydag en Saterdag is die baan oop vir oefening.
Die eerste wedrenne sal Sondag om 08:00 begin met verversing en geriewe beskikbaar. Die hoofwedren se wegspring is om 12:00.
Michelle Vorster, Herbert Peters en Tristan de Lange word moontlik ook in aksie verwag ná hul terugkeer van deelname in Europa die afgelope naweek.
Vorster het stewig gevaar in haar heel eerste Wêreldbekerbyeenkoms in Lenzerheide, Switserland en 48ste geëindig. Sy is op haar voorlaaste rondte afgetrek toe die voorlopers minder as 20% van ’n rondtetyd van haar af was. Selfs van die beroepspanne se ryers is só van die baan afgehaal. Die baan was besonder kort en is in gemiddeld 12 minute 30 sekondes voltooi, waar dit gewoonlik nader aan 17 minute is. Die voorlopers haal dus veel vinniger die agterste ryers in.
“My wegspringposisie was effens beter danksy ’n hoër posisie op die ranglys ná die vorige naweek se wêreldkampioenskap in Tsjeggië. Hierdie is die soort blootstelling wat ek vir al Namibië se elite sportmense toewens wat na die volgende vlak wil groei,” het Vorster agterna op sosiale media gesê.
Sy het haar dank uitgespreek aan rolspelers soos die Davin Sporttrust, die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK), die Namibiese Fietsryfederasie en die Rock & Rut bergfietsklub wat haar reis moontlik gemaak het.
“Tot dusver is al my doelwitte bereik en ek sal dit graag komende naweek wil afrond voor die finale lopie na (die 2016 Olimpiese Spele in) Rio de Janeiro.”
• Peters en De Lange het laas naweek baie goed gevaar in hul ren in Duitsland, genaamd die 22ste ASSA Abloy Albstadt bergfietsmarathon oor 83 kilometer.
De Lange het negende klaargemaak en Herbert 50ste oor die wedren van 83 km met totale klimskofte van meer as 2 000 meter.
Bykans 2 000 ryers het deelgeneem, insluitend wêreldkampioene in bergfietsry soos Daniel Federspiel van Oostenryk.

Kommentaar

Republikein 2026-05-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer