Mannetjies beste Griekwas-speler ooit
Mannetjies beste Griekwas-speler ooit

Mannetjies beste Griekwas-speler ooit

Rugby
Andrew Poolman
Tinus van Staden

Mannetjies Roux, legendariese oud-Springboksenter, is die naweek op die 130ste bestaansjaarvieringe van die Griekwaland-Wes Rugbyunie (GWRU) as Griekwas se beste speler van alle tye vereer.
Roux is Saterdagaand by Griekwapark in Kimberley ook aangewys as die beste agterspeler van alle tye, terwyl die seëvierende Curriebeker-span van 1970 wat hy aangevoer het, ook vereer is as een van drie Griekwa-spanne wat besondere mylpale behaal het.
Die ander twee besondere spanne was dié van 1979 en 1998.
“Dis ’n wonderlike voorreg, maar ek wil vir jou sê ek beskou dit as ’n spanpoging. Ek kon dit nie reggekry het sonder die ander manne wat saam met ons gespeel het nie,” het Roux ná sy toekennings aan Netwerk24 gesê.
“Dis ’n hupstoot op hierdie stadium van ’n mens se lewe, maar ek wil darem erkenning gee aan die ouens wat vir my gehelp het om dit te doen,” het hy gesê.
Die verowering van die mees gesogte silwerware in Suid-Afrikaanse rugby, is sonder twyfel sy gunsteling herinnering in die Griekwa-trui.
“Ja, absoluut, toe ons die Curriebeker gewen het. Dit was die hoogtepunt van die ses jaar wat ek vir Griekwas gespeel het.”
André Markgraaff, die voormalige Griekwa- en Springbok-afrigter, was Saterdagaand die gasspreker.
Hy het gepraat oor al die bekers wat Griekwas oor die jare heen gewen het – die Curriebeker, die Sport Pienaar-beker, die Bankfinbeker en die Vodacombeker. Markgraaff het ook verwys na die 63 Springbokke wat Griekwas opgelewer het – die meeste deur ’n sogenaamde “kleiner unie”. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer