Mandume se erfenis leef voort

Dié jong leier het op die ouderdom van 17 koning van sy stam geword en tussen 1911 en 1917 geheers.
Gerine Hoff
Ter viering van die eeufees van die dood van een van Namibië se vurigste konings, Mandume yaNdemufayo, beplan die Oukwanyama tradisionele Owerheid (OTA) op 6 Februarie 'n reusefees om sy dood te herdenk.

Grootliks in Namibiese geskiedenis misken, was yaNdemufayo 'n begeesterde en billike man wat 'n goeie koning vir sy volk was, al het sy oom Nande hom op die troon gedwing aangesien Nande geen manlike erfgename gehad het nie.

Dikwels na verwys as die “leeuvegter van Namibië se vloedvlaktes”, is hy in 1911 op die jong ouderdom van 17 as koning ingehuldig waarna hy vir slegs ses jaar geregeer het. In dié kort tyd het hy groot veranderinge teweeg gebring wat sy lewe en oorloë vandag steeds deel van die land se geskiedenis vorm.

Hoe is dit moontlik dat sy kort bewind só 'n reuse-impak kon maak dat hy 'n eeu later nog onthou en vereer word?

Die grootste omstredenheid oor die lewe van yaNdemufayo is wat presies met sy skedel gebeur het.

Volgens meeste oorvertellings lê dit in 'n monument wat vandag as Palm Tree Park bekend staan op die hoek van Bahnhofstraat en Mandume yaNdemufayo-laan in Windhoek, terwyl ander bronne sê dit is in Duitsland.

Die feit is ná hy deur Suid-Afrikaanse magte onthoof is by die beleg van Oihole, sy skedel na Windhoek gebring is. Wat daarna daarmee gebeur het, is nie bekend nie en dit gee tot vandag steeds aanleiding tot bespiegeling.

Maar later meer daaroor.



Sy loopbaan

In 1894 gebore, is yaNdemufayo as koning ingehuldig ná sy oom Nande op 5 Februarie 1911 gesterf het.

Nande het kat en muis met beide die Portugese en die Duitsers gespeel en beloftes aan beide gemaak om konfrontasie te vermy. Die Oukwanyama-­koninkryk het toe van Angola deur die des­tydse Deutsch Südwestafrika gestrek en Nande het toegewings gemaak wat die voorsiening van trekarbeiders ingesluit het.

Na sy dood het yaNdemufayo oorgeneem en hy kon nie die koloniale teenwoordigheid in sy koninkryk verdra nie.

Elke berig maak dit duidelik dat dié jong koning meer as een doelwit gehad het, te wete die hereniging van sy konink­ryk, soewereiniteit en vryheid binne sy eie grondgebied.

In haar MA-tesis skryf Napandulwe Shiweda soos volg: “Hy in beide geskrewe en mondelinge vertellings voorgestel word as iemand wat van die begin af 'n samehangende, geïntegreerde visie gehad het om nodige interne veranderinge aan te bring”.



Baanbreker hervormings

yaNdemufayo is bekend vir ses groot hervormings in die alledaagse bestuur van sy koninkryk.

Die eerste was 'n wet wat bepaal het dat geen onryp vrugte, veral van die omuandi-boom, gepluk mag word nie. Juis dié bome het weens droogte deurgeloop en die onryp vrugte is afgepluk of selfs hele takke is afgeruk. Oortreders is gedwing om al die onryp vrugte wat hulle gepluk het, op te eet.

Tweedens, het hy 'n verbod geplaas op die gebruik van vuurwapens en mense was nie toegelaat om vuurwapens na feeste en vieringe te bring nie.

Derdens het hy die magte van sy omalenga (streekhoofmanne) beperk en die gesag van sy heerskappy gesentraliseer.

Baie hoofmanne het met die Portugese handel gedryf en het ook, in hul onderskeie dele van die koninkryk, ontslae geraak van die meer gegoede lede van die gemeenskap ten einde op dié se vee en gewasse beslag te lê. As hulle ryk was, kon hulle besluite neem ten opsigte van vergiftigings en toordery en dit was tot die koninkryk se nadeel.

Nog 'n groot verandering was om alle beesstrooptogte te stop wat nie sy persoonlike goedkeuring gehad het nie. Nie net het hy sy gesag op hierdie wyse gevestig nie, maar kon hy ook sodoende die opeenhoping van rykdom deur die hoofmanne beperk en dus goeie betrekkinge met sy bure verseker. Oortreders moes die melk drink van die beeste wat hulle gesteel het en kon eers ophou wanneer hulle daarvan siek word.

Hy het ook veranderinge ten opsigte van vroue aangebring. Vir die eerste keer is hulle toegelaat om beeste te besit en diegene wat aan verkragting skuldig bevind is, is swaar gestraf. Vroue was ook nie meer gedwing om aborsies te ondergaan as hulle voor die huwelik swanger geraak het nie.

Laastens, het hy Portugese handelaars verdryf wat hulle in die koninkryk gevestig het en ten duurste vir hul ware gevra het.

Met dié moderne en gevorderde hervormings, het Mandume begin om die status van die Aakwanyama te herstel en gevolglik, die aandag van die koloniale magte in die land te trek. Dat hy aggressief was is só, maar dat hy trots was en nie magte van buite gevrees het nie, is ook 'n feit.



Mandume se dood

Dit is belangrik om te noem dat die koninkryk van die Aakwanyama-volk in die laat 1800's verdeel is deur 'n lukraak mensgemaakte grens deur Duitsland en Portugal vasgestel. Die Portugese wou hê die grens moet ses myl verder suid wees, terwyl die Duitsers wou hê dit moet ses myl verder noord wees.

Aangesien geen ooreenkoms bereik kon word nie, is 'n neutrale sone van sewe myl geskep. Uiteindelik het 'n geveg in 1914 uitgebreek en teen 1915 het die Unie van Suid-Afrika die des­tydse Deutsch Südwestafrika namens die Britse koninkryk bestuur.

In daardie jaar het yaNdemufayo teen die Portugese magte begin veg en ná hy verslaan is, het hy hom in die neutrale sone by Oihole gevestig. Hy het begin om vanuit dié neutrale sone oor sy ­koninkryk te heers.

In September van daardie jaar, het hy 'n ooreenkoms met ene maj. Stanley Pritchard om beskerming teen Portugese magte aangegaan. Een van die voorwaardes was dat hy en al sy onderdane Angola nie mag betree nie.

In 1916 is 'n “bufferstaat” tussen Namibië en Angola geskep. yaNdemufayo het geen toegang tot daardie streek gehad nie en kon sy onderdane wat daar gevestig was, gevolglik nie bereik nie.

Hy was nie betrokke by daardie ooreenkoms nie en om dié rede het die Unie van Suid-Afrika se amptenare vir die jong koning as onbetroubaar voorgekom.

Chaos met beesstrooptogte en onverpoosde geweld het in die Angolese deel van die koninkryk ontstaan. yaNdemufayo het die Angolese gebied van sy koninkryk twee keer binnegegaan om reg en orde te vestig en om sy volk te beskerm, maar hy moes albei kere om verskoning vra.

Die derde keer het hy en 70 soldate 'n Portugese hoofman vermoor en die beeste terug gevat wat hy gesteel het. Die Suid-Afrikaners het yaNdemufayo gevolglik daarvan beskuldig dat hy en agthonderd soldate, Angola vir 120 myl binnegedring het en talle mense vermoor het.

Hierna het hy ook met die Portugese gebots, hulle verslaan en perde, twee outomatiese en ander gewere en selfs twee voertuie bekom.

Die koloniale mag in Namibië het begin bekommerd raak.

yaNdemufayo, wat reeds moeilik was om in toom te hou, het nou vuurwapens in die hande gekry en daarin geslaag om sy volk te herenig.

Nou was hy 'n werklike, tasbare bedreiging.



Oorgawe nie 'n keuse nie

yaNdemufayo het na bewering gesê oorgawe was nooit vir hom 'n keuse nie.

“As die Engelse my wil hê, is ek hier en hulle kan my kom haal. Ek is nie 'n steenbok in die veld nie; ek is 'n man en nie 'n vrou nie, en ek sal veg tot my laaste patroon afgevuur is.”

Op 6 Februarie 1917 is sy kraal by Oihole deur die Unie-magte aangeval.

Verskeie bronne meld dat hy die koloniale magte ontmoet het en Westerse klere gedra het. Op daardie spesifieke dag was hy egter in sy volle, tradisionele gewaad geklee. Sy krygers was by verre in die minderheid en hy is in die veldslag doodgeskiet.

Dit is hier waar die polemiek ontstaan.

Volgens Suid-Afrikaanse verslae is yaNdemufayo dood in 'n beleg wat slegs 'n paar uur geduur het. Volgens ­oorvertellings het die beleg egter drie dae geduur en het Mandume sy eie lewe geneem.

Feit: yaNdemufayo het gesê hy sal nooit toelaat dat hy lewendig gevang word nie.

Feit: Hy was op die dag van die stryd in tradisionele drag geklee.

Feit: Die drie koeëlwonde in sy bors, in ag genome die wapen waarmee geskiet was, was té na aan mekaar weens die posisie waarin die lyk gevind is. As hy in daardie posisie geskiet is, sou die wonde verder uitmekaar gewees het.

Feit: Sy lyk is verskuif, hetsy deur homself hoewel hy swaar gewond was of deur iemand anders, ná hy deur die koeëls getref is.

Feit: Volgens meeste bronne is 'n enkele koeëlwond ook in sy nek gevind.

In die jare ná yaNdemufayo se dood, is die grens tussen die huidige Namibië en Angola verder suid geskuif, 'n proses wat in 1926 afgehandel is.

yaNdemufayo se oorskot wat by Oihole begrawe is, is dus nou in Angola.

Was dit selfmoord?

Wyle Vilho Kaulinge, 'n seuntjie ten tyde van die beleg van Oihole, het gesê ya­Ndemufayo het gesê hy verkies om daar te sterf eerder as om weer te trek.

Hy het gesê yaNdemufayo het homself geskiet eerder as om gevange geneem te word. Kaulinge het ook gesê dat toe hulle yaNdemufayo se besittings suid na Ondonga geneem het, hy yaNdemufayo se kop gesien het wat van die liggaam verwyder was.

Die Unie-troepe het gesê hulle het hom nie vermoor nie, maar dat hy sy eie lewe geneem het.

'n Man met die naam Slapjan du Plessis was ten tyde van die beleg 17 jaar oud en 'n Unie-soldaat. Hy het gesê die beleg het nie net 'n uur of twee geduur nie, maar drie dae. Volgens hom het ya­Ndemufayo buite sy kraal by Oihole selfmoord gepleeg.



Mandume se kop

Sy kop is oral in sy koninkryk deur die Unie-magte vertoon om aan sy onderdane te bewys hy is werklik dood – en om ook as 'n magsvertoon te dien.

Bykans alle bronne is dit eens dat hy na sy dood onthoof is. Sommige glo sy kop is in 'n monument by Palm Tree Park in Windhoek begrawe waar 12 palmbome geplant is vir die 12 Unie-soldate wat in die stryd gesneuwel het.

Wat wel bekend is, is dat sy kop in Windhoek was.

Daar is verskeie berigte hieroor hoewel sommige bronne anonimiteit verkies. Ander mense berig ook hulle het Mandume se kop in Windhoek gesien.

Drie mondelinge weergawes in Shiweda se proefskrif vervat, sê die monument wat op 6 Februarie 1918 onthul is, is 24 uur van die dag bewaak.

Die plasing van die monument is nie toevallig nie. Meeste besoekers aan Windhoek het destyds per trein na die hoofstad gereis en dit dus gesien, terwyl meeste trekarbeiders wat hoofsaaklik na Walvisbaai onderweg was, dit ook onder oë gehad het.

Sommiges glo yaNdemufayo se kop is na Duitsland geneem waar dit bestudeer is, terwyl ander glo dit is binne-in die monument verberg.

Om sy graf op te grawe of die monument af te breek, is volgens Aakwanyama-tradisie gelykstaande aan die ontheiliging van beide die liggaam en die herinnering aan hul koning.

Die waarheid sal dus nooit bewys kan word nie.

• 'n Spesiale woord van dank aan dr. Jeremy Silvester en Napandulwe Shiweda. Die titel van Shiweda se proefskrif is Mandume yaNdemufayo's Memorials in Namibia and Angola (2005).

Kommentaar

Republikein 2024-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 1 vs 0 Getafe | Real Sociedad 1 vs 0 Valencia | Almería 0 vs 2 Barcelona | Las Palmas 2 vs 2 Real Betis SerieA: Torino 3 vs 1 AC Milan | Lecce 0 vs 2 Atalanta | Fiorentina 2 vs 2 Napoli European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City English Championship: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City Katima Mulilo: 11° | 31° Rundu: 9° | 30° Eenhana: 11° | 31° Oshakati: 12° | 31° Ruacana: 12° | 31° Tsumeb: 13° | 29° Otjiwarongo: 12° | 27° Omaruru: 14° | 29° Windhoek: 12° | 26° Gobabis: 13° | 27° Henties Bay: 20° | 36° Wind speed: 27km/h, Wind direction: E, Low tide: 07:06, High tide: 13:28, Low Tide: 19:06, High tide: 01:31 Swakopmund: 20° | 26° Wind speed: 25km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:04, High tide: 13:26, Low Tide: 19:04, High tide: 01:29 Walvis Bay: 22° | 33° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SE, Low tide: 07:04, High tide: 13:25, Low Tide: 19:04, High tide: 01:28 Rehoboth: 12° | 27° Mariental: 15° | 29° Keetmanshoop: 18° | 30° Aranos: 15° | 29° Lüderitz: 16° | 35° Ariamsvlei: 18° | 32° Oranjemund: 13° | 33° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 11° | 26° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 8° | 24° Antananarivo: 15° | 22° Lilongwe: 13° | 26° Maputo: 20° | 27° Windhoek: 12° | 26° Cape Town: 14° | 21° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 15° | 24° Dar es Salaam: 24° | 32° Lusaka: 13° | 25° Harare: 12° | 26° #N/A #N/A