Man verkrag 12-jarige nu00e1 sy wegvlug
Man verkrag 12-jarige nu00e1 sy wegvlug

Man verkrag 12-jarige ná sy wegvlug

Francoise Steynberg
’n Twaalfjarige meisie is glo verkrag nadat sy vir ’n man weggehardloop en hy haar in ’n mahanguveld platgeskop het.


Die voorval het Vrydag omstreeks 16:00 in die Onoolongo-nedersetting naby Oshikuku plaasgevind toe die man die meisie alleen in die kombuis in haar huis gekry en glo haar langbroek uitgetrek het.
“Die meisie het vir haar veiligheid uit die huis gehardloop, maar die verdagte het haar glo agterna gesit en haar in die mahanguveld platgeskop, waarna hy haar verkrag het,” lui die polisieverslag.
“Die man het weggehardloop en is nog nie in hegtenis geneem nie. Die polisie-ondersoek duur voort.”

• Op Rundu het ’n onbekende man glo Vrydag ’n 17-jarige meisie in haar slaapkamer verkrag terwyl sy glo geslaap en onder die invloed van alkohol was.
Volgens die polisie is die verdagte onbekend en nog nie in hegtenis geneem nie. Die polisie se ondersoek duur voort.

• Vrydagmiddag is ’n 39-jarige geestelik versteurde vrou glo in die Omboto-nedersetting naby Omuthiya verkrag.
“Die verdagte het glo die vrou by haar bure se huis gaan haal en na haar ma se huis geneem, waarna hy haar in een van die kamers verkrag het.
“Die verdagte is op heterdaad betrap toe die slagoffer se ma teruggekeer het,” lui die misdaadverslag.
Volgens die polisie het die verdagte op die vlug geslaan en hy is nog nie in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

• In die Vaalpos-township op Aranos is ’n 24-jarige man op heterdaad betrap toe hy Vrydagaand glo ’n vierjarige meisie wou molesteer het.
“Na bewering het die verdagte die meisie in die kombuis van die huis gelok en haar probeer molesteer, maar ’n familielid het tot haar redding gekom.
“Die familielid het die verdagte op heterdaad betrap toe hy reeds besig was om homself te ontklee en die meisie se broekie afgetrek het,” lui die misdaadverslag.
Die saak is by die polisie gerapporteer en die slagoffer is by die hospitaal ondersoek, “maar geen penetrasie het plaasgevind nie”.
Die verdagte is in hegtenis geneem en ’n klag van poging tot verkragting is aanhangig gemaak en word ondersoek.

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer