Mammon sal seëvier in Superrugby-besluit
Rugby
Tinus van Staden
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) was gister vaag oor die kriteria wat sal bepaal watter vier spanne in aanstaande jaar se Superrugby-reeks sal deelneem, maar een ding is duidelik: Geld is baas.
'n Sogenaamde konsessiekomitee, bestaande uit die uitvoerende hoofde van die ses bestaande franchises asook Saru se “top vier”, het gister in Johannesburg vergader om dié kriteria uiteen te sit nadat die beheerliggaam van Superrugby, Sanzaar, Sondag aangekondig het dat Suid-Afrika twee spanne in dié reeks moet inboet.
Die hoofkriteria waarop besluit is om te bepaal watter spanne die trekpas gaan kry, is die finansiële en ekonomiese volhoubaarheid van die franchise, 'n volhoubare ondersteunersbasis, die span se vertoning op die veld en stadiongeriewe.
Dié kriteria is verder verdeel in sub-kriteria, maar wat presies dié sub-kriteria is, is onduidelik.
Saru sal al die toepaslike data wat hulle gaan insamel, saamvoeg en 'n aanbeveling aan die konsessiekomitee voorlê, wat 'n besluit sal neem oor wie die vier spanne sal wees wat volgende jaar aan die reeks sal deelneem.
Dié besluit sal dan aan Saru se uitvoerende raad voorgelê word, voordat die algemene raad dit moet goedkeur.
“Die komitee het gekyk na die belangrike vraag van 'wat is die fundamentele kriteria wat nodig is om 'n suksesvolle Suid-Afrikaanse Superrugby-konsessie te wees',” het Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux, toe in 'n verklaring gesê.
“Ons het hierdie pynlike punt deels bereik omdat ons té optimisties was, en deels omdat ons nie altyd uit 'n harde besigheidsoogpunt na rugby gekyk het nie. Dié is die regte proses met uitdagende uitkomste vir twee van ons konsessies,” sê hy.
Roux sê al die franchises was deel van die proses.
“Op die ou end sal die data wat ons bymekaarkry, die uitkoms bepaal. Ons het nog werk om te doen, maar ons wil die proses so gou as moontlik afhandel.”
Saru se president, Mark Alexander, was die vergadering se voorsitter. Francois Davids en James Stoffberg, die beheerliggaam se visepresidente, was saam met Roux Saru se ander verteenwoordigers.
Die konsessiekomitee sal die betrokke data bespreek by sy volgende vergadering, wat binne die volgende drie weke sal plaasvind.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie