Malaria neem wu00eareldwyd af
Malaria neem wu00eareldwyd af

Malaria neem wêreldwyd af

Die siekte eis meestal die lewens van babas in die armste gebiede van Afrika.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Vyf lande in Afrika was saam verlede jaar verantwoordelik vir 51% van die malariagevalle wat in die wêreld aangeteken is.

Nigerië (27%), die Demokratiese Republiek van die Kongo (12%), Uganda (5%), Mosambiek (4%) en Niger (3%) het gesamentlik meer as die helfte van alle gevalle wêreldwyd aangeteken.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se Afrikastreek met ’n beraamde 215 miljoene gevalle verlede jaar, verteenwoordig 94% van gevalle.

Volgens die WHO se jongste malariaverslag is verlede jaar wêreldwyd ’n beraamde 229 miljoen gevalle van die siekte in 87 lande aangeteken waar die siekte endemies is.

Sterftes in die streek as gevolg van die siekte is met 44% verminder van 680 000 in 2000 tot 384 000 verlede jaar. Die sterftekoers per 100 000 inwoners het in dieselfde tydperk met 67% van 121 tot 40 sterftes gedaal.

Volgens die verslag het Sentraal-Afrika die hoogste voorkoms van blootstelling aan malaria tydens swangerskap (40%), met kort op sy hakke Wes-Afrika met 39%. In Oos- en Suidelike Afrika is dit 24%. Dit is ook meestal die lewens van babas in die armste gedeeltes van Afrika wat verlede jaar deur malaria geëis is, met die siekte wat steeds die lewe van ’n kind elke twee minute eis.

Tussen 2007 en 2018 is byna US$7,3 miljard in die basiese navorsing en produkontwikkeling vir malaria belê. Dit is ’n styging van US$500 miljoen in 2007 tot net meer as US$650 miljoen in 2018.

Volgens die verslag behoort alle inwoners in lande waar malaria voorkom, toegang tot gehalte dienste te hê wat die siekte voorkom, diagnoseer en behandel sonder dat dit ’n finansiële las op inwoners plaas.

Tog is daar steeds gemeenskappe wêreldwyd in malarialande wat nie toegang tot noodsaaklike gesondheidsdienste het nie en sommiges word in uiterste armoede gedompel om juis die koste van malariavoorkoming en -behandeling te betaal.

Groot vooruitgang is volgens die verslag gemaak om gevalle en sterftes te verminder. Tussen 2000 en 2015 het die wêreldwye voorkoms van die siekte met 27% afgeneem. Tussen 2015 en 2019 was die afname minder as 2%.

Volgens die malariaverslag gaan Afrika die mylpale vir die voorkoms van malaria met 37% en sterftesyfers met 25% mis.

Die WHO maan in die verslag selfs matige ontwrigtings in toegang tot behandeling kan tot aansienlike lewensverliese lei. Dit verwys na onder meer ’n ontwrigting van 10% in toegang tot doeltreffende anti-malaria behandeling in sub-Sahara wat tot 19 000 bykomende sterftes kan lei.

Ontwrigtings van 25% en 50% in die streek kan tot onderskeidelik ’n bykomende 46 000 en 100 000 sterftes lei. Volgens die verslag het verskeie lande met ’n hoë las van malaria begin veld verloor. Volgens die WHO se globale projeksies sal vanjaar se doelwit van afname in die voorkoms van malariagevalle met 37% gemis word en die vermindering van sterftes se doelwit met 22%.

Die WHO het intussen ’n beroep op lande en globale gesondheidsvennote gedoen om hul stryd teen malaria, ’n voorkombare en behandelbare siekte wat jaarliks steeds honderde duisende lewens eis, te verskerp. Die organisasie maan ingrypings, nuwe middele en toenemende finansiering is nodig om die globale trajek van die siekte te verander om internasionale doelwitte te bereik.

Volgens die verslag het die vooruitgang teen malaria ’n plato bereik, veral in lande in Afrika wat erg deur die siekte geraak word. Dit verwys veral na gapings in toegang tot lewensreddende middele wat globale pogings ondermyn om die siekte hok te slaan. Na verwagting sal die Covid-19-pandemie dit nog verder in die wiele ry.

In 2 000 het Afrika-leiers die Abuja-verklaring onderteken om malariasterftes op die vasteland oor ’n tydperk van tien jaar met 50% te verminder.

Politieke toewyding, saam met innoverings in nuwe middele en ’n sterk toename in finansiering, het gelei tot ’n ongekende tydperk van sukses in globale malariabeheer. Volgens die verslag is 1,5 miljard malariagevalle en 7,6 miljoen sterftes sedert 2000 vermy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer