Maatskappy soek Saru én WP se bloed
Rugby
Stephen Nell
Aerios, die maatskappy wat in 2017 die likwidasie van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se sakevleuel betwis het, het nou die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) die eerste respondent gemaak in ’n eis om skadevergoeding.
En dié eis, wat kom op ’n tydstip waar die WPRU se klubs eersdaags stem om ’n lening van meer as R100 miljoen aan te gaan sodat skuld aan Remgro en Investec gedelg kan word, is nie vir kleingeld nie. Om presies te wees, dis vir die aardskuddende bedrag van R183 miljoen.
Aerios voer aan hy is daardie bedrag aan inkomste kwyt weens die verlies van eksklusiewe advertensieregte binne Nuweland en die Kaapstad-stadion (sou die WP ’n stadionskuif maak) en is ’n hernude poging in sy stryd om sy hande daarop te kry.
Die afstaan van dié advertensie-regte het uiteindelik daartoe gelei dat die WPRU se sakevleuel aan die einde van 2016 gevou het, want ’n groot gedeelte van sy inkomste het in Aerios se bankrekening beland.
Aerios was toe van mening dat die likwidasie ’n slenter was om die WP uit dié kontrak los te wikkel. Die WP is egter later vrygespreek in ’n art. 417-ondersoek.
Wat Saru betref, beweer Aerios dat die nasionale beheerliggaam sy mag herhaaldelik misbruik het deur die WPRU te dreig dat hy nie groot toetswedstryde, insluitende die een tussen die Springbokke en All Blacks in 2017, aan hom gaan toeken nie. Aerios se regte het volgens hom toetswedstryde tussen Januarie 2012 en Desember 2023 ingesluit.
Aerios sê in regsdokumente dat die WP “elke moontlike opsie, insluitende etlike regsmenings” ondersoek het om van Aerios ontslae te raak en Saru gelukkig te hou.
“Ons glo dat Saru die likwidasie van die WP ondersteun het. Daardeur het hy sy effektiewe monopolie van beroepsrugby en gesag oor sy lede misbruik. Boonop is daar doelbewus ingemeng en is die WP gedwing om sy verhouding met Aerios te beëindig,” sê Costas Constantinou, uitvoerende hoof van Aerios.
Hy sê dat Aerios die eksklusiewe regte gegun is om WiFi en DAS-netwerke te ontwikkel, installeer en te bedryf, asook om digitale inhoud by Nuweland te skep.
Volgens hom was Aerios ook, vir ’n tydperk van 20 jaar, die eksklusiewe regte gegee om WP se apps te ontwikkel vir digitale inhoud, wat deur ondersteuners afgelaai kan word.
“Saru het egter die regte geïgnoreer wat die WP aan Aerios gegee het. Saru het eerder uitsaai- en digitale ooreenkomste met SuperSport gesluit. Daar is ook ooreenkomste aangegaan met Saru-borge, wat advertensie-regte gekry het vir wedstryde wat by die provinsiale unies aangebied word.
“Dit beteken dat Saru vir SuperSport en borge kommersiële regte gegee het wat die WP kontraktueel vir Aerios gegee het.”
Aerios is vir ’n geruime tyd al ’n doring in die WP se vlees en het selfs in 2017 ’n klag van bedrog teen direkteure van die destydse sakevleuel aanhangig gemaak. Hy het die bankrot sakevleuel ook vir R271 miljoen gedagvaar.
Saru het Donderdag Aerios se bewerings verwerp.
“Ons ontken Aerios se aantygings ten sterkste. Gegewe die aard daarvan word die kwessie nou deur ons regspan hanteer. Ons sal verdere kommunikasie van Aerios deur die toepaslike regskanale beantwoord,” sê ’n woordvoerder.
’n Woordvoerder vir die WPRU sê dat daar nie ’n eis van Aerios ontvang is nie.
“Indien ons ’n eis ontvang, sal ons dit binne die geskikte forum hanteer,” sê hy.
Constantinou het ’n geskiedenis van koppe stamp met Saru. In 2013, in sy hoedanigheid as bedryfshoof van Kagiso Vantage, was daar ook ’n bakleiery oor advertensie-regte wat ná samesprekings tussen hom en Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, vreedsaam geskik is. Constantinou het toe ’n regsmening by die bekende advokaat Jeremy Gauntlett SC ingewin. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie