Maatreëls teen bek-en-klouseer verslap

Die verslapping van regulasies beteken dat daar nie langer 'n verbod op die beweging van vee in die Kavango-Wes-, Ohangwena-, Oshikoto-, Oshana-, Omusati- of Kunene­streek sal geld nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die ministerie van landbou, water en bosbou het die gedeeltelike verslapping van maatreëls teen bek-en-klouseer aangekondig nadat daar vasgestel is dat die siekte nie verder as die Kavango-Oosstreek versprei het nie.

Dit volg nadat 'n uitbreking van die siekte op 6 Oktober in die Hoha-nedersetting in die Ndiyona-kiesafdeling aangemeld is – binne die bek-en-klouseer beskermde sone van die land.

Die verslapping van maatreëls beteken egter dat daar nie langer 'n verbod op die beweging van vee in die streke Kavango-Wes, Ohangwena, Oshikoto, Oshana, Omusati of Kunene­ sal geld nie.

Die ministerie sê die Kavango-Oosstreek, met uitsondering van die Mukwe-kiesafdeling, is egter nou as 'n geraakte gebied verklaar en dat talle beperkings hier geld, wat insluit 'n verbod op die beweging van lewende hawe met gesplete hoewe. Hulle mag nie binne die streek of uit die streek beweeg nie.

'n Verbod op die vervoer van kommoditeite uit die streek wat die siekte kan versprei, soos rou vleis, melk, velle, trofeë, gras of enige plantmateriaal geld ook.

Terselfdertyd is daar met die nood-inenting van alle vee binne die streek begin en boere word versoek om hul beeste na die aangewese krale te bring.

Die ministerie het voorheen gesê die Sentrale Veterinêre Laboratorium (CVL) het op 28 September 'n ­diagnose van bek-en-klouseer onder vee in die Kavango-Oosstreek bevestig.

Dit volg nadat boere siek diere by die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) aangemeld het, wat kliniese tekens van die siekte getoon het. Dit sluit in dat hulle kreupel geloop en gekwyl het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer