Maar net nóg ’n krisis in Zimbabwe?
Liesl Louw-Vaudran
Die situasie in Zimbabwe het mense in die laaste paar dae weer regop laat sit.
Die beelde van geweld in Harare en by Beitbrug herinner ’n mens aan die tyd toe daar nog ’n sterk opposisie in Zimbabwe was. Hulle het toe die polisie en die weermag gekonfronteer omdat hulle gedink het daar is nog ’n kans om vir pres. Robert Mugabe, die wêreld se oudste president, uit die kussings lig.
Vakbonde en burgerlike organisasies het nou weer besluit om die strate in te vaar uit protes teen die regering se besluit om salarisse vir Junie eers ’n paar weke laat te betaal. Mense wat al so baie jare sukkel om net-net ’n lewe te maak, het besluit hulle kan nie verder nie.
Die betogers is, soos ’n mens sou verwag, hardhandig deur die Zimbabwiese polisie uitmekaargejaag.
Die protes by Beitbrug – Suider Afrika se besigste grenspos – is begin deur handelaars wat ongelukkig is met ’n nuwe besluit van die regering om die invoer van verbruikersgoedere van Suid-Afrika af te verbied. Dit is ’n venynige, stiksienige verbod deur ’n regering wat desperaat is om die uitvloei van geld uit die land stop te sit. Dit raak die mees vindingrykste Zimbabwiërs wat te midde van armoede tog nog daarin slaag om ’n lewe te maak deur die oorgrenshandel.
Die vraag is of hierdie net nog ’n episode is in Zimbabwe se stadige ineenstorting.
Dít as gevolg van Mugabe se rampspoedige ekonomiese beleid wat begin het met die konfiskering van kommersiële boere se landbougrond rondom 2000.
Kan die internasionale gemeenskap, en veral Suid-Afrika, dit bekostig om oogklappe aan te hou?
Benewens die ekonomiese krisis woed daar die laaste paar maande ’n stryd tot die dood toe binne Zanu-PF, waarin Mugabe se vrou Grace ’n belangrike rol speel.
Eers het sy die vorige adjunkpresident, Joice Mujuru, uit die party laat skop en nou is sy klaarblyklik in ’n tweestryd gewikkel met die berugte Emmerson Mnangagwa, adjunkpresident en jarelange laksman van Mugabe.
Te midde hiervan meen sommige lande in die internasionale gemeenskap dat dit beter is om met die Zimbabwiese regering te probeer saamwerk, eerder as om van die kantlyn die land te sien inmekaarstort. Lande soos Brittanje meen klaarblyklik dat deur nuwe ekonomiese hulp te verleen in die vorm van lenings deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) kan hulle sorg dat die post-Mugabe era op ’n beter voet begin.
Die post-Mugabe era moet een of ander tyd kom, of hoe?
Suid-Afrika se posisie is nie duidelik nie. Die minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, het Maandag op ’n nuuskonferensie verslaggewers se vrae hieroor ontduik.
Zimbabwe se probleme is klaarblyklik sy eie.
Suid-Afrika is wel in gesprek met Zimbabwe oor die nuwe regulasies rondom invoere omdat dit ook handel met ander lande soos Zambië en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) insluit, het sy gesê.
Tog is dit duidelik die huidige krisis is nie net kortstondig nie. Die ernstige droogte en die daling in kommoditeitspryse het die reeds sukkelende ekonomie op sy knieë gedwing.
Die gebruik van die Amerikaanse dollar, rampspoedig vir so ’n arm land soos Zimbabwe, het tot hierdie situasie bygedra. Verder maak die politieke krisis binne Zanu-PF dat die sentrum van mag stadig integreer. Dit gaan nie net oorwaai nie.
Tyd vir anderpad kyk is verby. -Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie