Maak plaasveiligheid ’n prioriteit

Moet nie waaksaamheid verslap

28 February 2018 | Landbou
Ronelle Rademeyer - Die nag van 20 Januarie vanjaar is die Riedel-gepaar, Armin (68) en Brunhild (66), na bewering op hul plaas Grünfeld buite Gobabis oorval en vermoor, waarna die plaashuis aan die brand gesteek is. Niemand is nog in verband hiermee aangekeer nie.

Twee weke later is oom Giel Botma (79) en sy vrou, tannie Sarie (80), gedurende die nag van 2 Februarie op hul plaas Lindeshof by Koës aangeval en vermoor. Hulle drie vermeende moordenaars is binne ’n dag aangekeer.

Dié nuus was nog besig om in te sink, toe is die bekende Hardapboer Riaan de Klerk en sy kleinseun, JR Strydom, op sy kleinhoewe deur vyf mans oorval. Danksy JR (12) se dapper optrede, is hulle plan gefnuik. Die rowers het gevlug toe Riaan se seun, Cobus, hulle ná ’n oproep van JR af, verwilder het.

Die sukses van die Namibië Landbou-unie (NLU) se strukture in die blitsvinnige mobilisering van boerderygemeenskappe tydens die voorvalle in die Suide, het groot lof ontlok.

Ryno van der Merwe, president van die NLU, het kort daarna in ’n verklaring gesê die veiligheid van die landbougemeenskap is ’n integrale deel van die ontwikkeling in landelike gebiede. Hy het gesê die moorde het getoon “weerlose mense word op gewelddadige wyse deur gewetenslose boewe geteiken”.

Hannes Visagie van die Mariental Streekslandbou-unie (SLU) het daarop gewys as dit goed gaan, vergeet boere hoe belangrik dit is om waaksaam te wees en hierdie strukture in stand te hou. “Ons mense moet kennis neem dat daar kriminele elemente rondom ons is. Kom ons versterk ons strukture en verbeter ons samewerking sodat die kanale oop is wanneer ons in nood verkeer.”

Visagie, wat die sameroeper was tydens die grootskaalse soektog na die Botma-moordenaars, sê die boere in die Suide het daarmee ’n duidelike boodskap uitgestuur dat hulle nie misdaad sal duld nie.

“Dit het ons gewys ons moet paraat wees sodat mense nie hul lewe verloor nie,” het hy gesê en die polisie bedank vir hul steun en samewerking.

WAT BOERE MOET WEET

Maar wat kan boere doen om meer waaksaam te wees. Volgens Koos Geldenhuys, ’n boer van Lichtenburg in die Noordwes-provinsie in Suid-Afrika, is plaasaanvallers meestal tussen 15 en 35 jaar oud, alleenlopend en werkloos.

Geldenhuys is ’n kenner van plaasbeveiliging en selfverdediging en het ’n studie gedoen na plaasaanvalle in Suid-Afrika.

Sy bevinding en raad is die volgende:

“Hulle beweeg meestal in groepe van drie tot sewe mans rond. Sulke mense het ’n persepsie dat álle boere vuurwapens het en dat die wapens maklik bekombaar is omdat boere op afgeleë plekke woon.

“Die motief vir die meeste aanvalle is roof of wraak. Gewoonlik soek hulle vuurwapens, geld en ’n voertuig.

“Plaasaanvalle word meestal met militêre presisie uitgevoer. Die aanvalle is so grusaam en brutaal moontlik. Geen boer is te oud of te jonk, te ryk of te arm om deur te loop nie.

“‘n Plaasaanval het ‘n baie traumatiese uitwerking op ‘n gemeenskap. Boere verskerp hul waaksaamheid nadat ‘n aanval in hul omgewing plaasgevind het, maar ná ‘n paar weke verslap hul waaksaamheid weer.

“Plaasaanvalle word haarfyn beplan. Die plaas word drie tot sewe dae lank dopgehou en daar was al gevalle waar dit weke lank dopgehou is.

“Die aanvallers wil nie as ‘n groep saam gesien word nie – daarom doen net een of twee lede verkenningswerk.

“‘n Metode waarmee aanvallers inligting bekom, is om voor te gee hulle soek werk.

“Al het ‘n boer ‘n werker dringend nodig, moet hy eers die aansoeker se agtergrond deeglik ondersoek. Vra sy naam en identiteitsboekie. As hy nie ‘n identiteitsdokument het nie, moet die boer hom onder geen omstandighede werk gee nie. Vind uit waar hy voorheen gewerk het en doen navraag by daardie werkgewer.

“As dit klink of hy vae inligting verskaf, of dit klop nie met die inligting wat die boer self inwin nie, moet hy die polisie ontbied en sy waaksaamheid verskerp.

“Voornemende aanvallers kom soms op ‘n plaas aan onder die voorwendsel dat hulle landbouprodukte of werktuie wil koop. Só bekom hulle waardevolle inligting oor die standaard van veiligheid op die plaas.

“Om dít te voorkom, moet die boer die hekke om die plaaswerf gesluit hou (wat nie altyd prakties is nie), of ‘n kennisgewing by die ingang aanbring wat besoekers inlig dat die werf verbode terrein is. Die boer moet oplettend wees as vreemdes opdaag. As sulke mense hom nader, moet hy altyd sy waaksaamheid verskerp.

“Mense wat ‘n aanval beplan, is senuweeagtig en lyk skuldig. Moontlike tekens van senuweeagtigheid is vinnige spraak, uitermatige sweet, aggressiewe handbewegings, oë wat vinnig rondkyk en vlak asemhaling.

“Wees baie versigtig vir iemand met ‘n baadjie of jas aan, want wapens kan maklik daarin versteek word.

“Nóg ‘n metode wat misdadigers gebruik om inligting te bekom, is om huidige of gewese plaaswerkers te betrek, te intimideer of om te koop. Soms dreig hulle die werker of sy gesinslede met die dood. Andersins gee hulle vir hom geld, drank of sigarette. Inligting word ook op ‘n subtiele wyse uit werkers verkry deur hulle dronk te maak.

“‘n Boer moet ‘n goeie verhouding met sy werkers handhaaf en hulle oorreed om hom te waarsku as ‘n vreemdeling inligting oor hom probeer bekom. Bied hulle ‘n beloning aan as hulle dit doen. Aanvallers se teiken is dikwels ‘n huisbediende, want sy is die enigste een wat weet waar die kluis- en motorsleutels is en wat die boer en sy gesin se bewegings ken. Boere moet dus nooit hul daaglikse beplanning voor bediendes bespreek nie.

“As die misdadigers agterkom ‘n boer is voorbereid op ‘n aanval, sal hulle hom buite sy plaaswerf voorlê deur hom by ‘n plaashek in ‘n hinderlaag te lok, deur voor te gee hul voertuig het onklaar geraak, deur ‘n brand te stig of deur die kragtoevoer na die huis af te sny.

“‘n Plaasaanval word gewoonlik deeglik vooruit beplan. Maar hoe weet ‘n boer as misdadigers ‘n aanval op sy plaas beplan? Terwyl hulle besig is om inligting in te samel, laat hulle tekens waarna ‘n boer kan oplet en wat hom kan laat lont ruik. As hy weet waarna om op te let, kan hy dalk betyds agterkom iets is nie pluis nie,” sê Geldenhuys.

(Blaai om na bl. 4 vir die NLU se veiligheidswenke.)

Soortgelyk

 

Plastieksakke uit nasionale parke verban

1 dag gelede | Omgewing

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het plastieksakke uit alle nasionale parke in die land verban. Die minister het gemaan geen...

Nampol-beamptes skuldig aan nalatigheid

1 dag gelede | Misdaad

Twee senior polisiebeamptes wat intern ondersoek is vir hul beweerde nalatigheid om betyds te reageer in ‘n saak waarin ‘n 18-jarige vyf familielede vroeër vanjaar...

Ollies les hul dors

1 dag gelede | In beeld

Namibiërs in die Zambezistreek kan vandag na verspreide donderbuie uitsien, terwyl dié elders in die binneland vir eers nog met enkele tot geïsoleerde buie tevrede...

Ekonomie: Hou sand uit wiele

1 dag gelede | Politiek

Ronelle Rademeyer Dubbele belasting, soos belasting op dividende en belasting op kapitaalwins is immoreel en gaan nié die ekonomie laat groei nie.'n Ekonomie is die...

PS'e binnekort nié permanent

1 dag gelede | Regering

Denver Kisting - As beplande wetgewing deurgevoer word, is PS’e binnekort nie meer “permanent” in die tuig nie.Hiernaas sal dié rekenpligtige beamptes van ministeries ook...

Gróót regshervorming binnekort op pad

1 dag gelede | Ministeries

Denver Kisting – Die werksaamhede van die land se howe word deur verskeie uitdagings gekortwiek.In die lig van hervorming wat die minister van justisie, mnr....

Ongelukke: Namibië 45ste op wêreldranglys

1 dag gelede | Ongelukke

Padongelukke kos Namibië jaarliks N$1,3 miljard en is die oorsaak van 3,76% van die land se totale sterftes.Dié skokkende syfers is Dinsdag namens die minister...

Weer vir 23 November 2018

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloe­dig warm in die ||Kharasstreek en die Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele...

Weer, Donderdag 22 November 2018

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en baie tot bloedig warm in die //Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Enkele donderbuie word in...