Maak ons trots by WB, sê Geingob

11 September 2019 | Sport
Andrew Poolman - Al sy opponente moet seker skrikkerig wees vir die Namibiese rugbyspan. Watter ander rede is daar dat Namibië oënskynlik altyd in die moeilikste groep by die Wêreldbeker beland?

Só het president Hage Geingob gister geskerts toe die nasionale span van 31 spelers en 16 bestuurslede gister vir oulaas 'n welwillendheidsbesoek by Staatshuis afgelê het.

Dit was een van verskeie laaste afsprake vir die dag vir die Wêreldbeker-groep, voordat hulle vroeg Donderdagoggend op hul reis na die toernooi in Japan vertrek.

“Ek was twee weke gelede in Japan. Hulle sê hulle wag vir julle. Mense weet die Namibiërs is op pad en dat ons span altyd dapper mededingers is met die wie Springbokke, die All Blacks, Italië en Kanada moet rekening hou,” het die staatshoof gesê.

Geingob het die spelers aangemoedig dat 'n verloorwedstryd nie die einde van die wêreld is nie.

“Namibië is 'n groot land, met 'n klein bevolking. By die Wêreldbeker is ons die buiteperd, met niks om te verloor nie. Julle kan dus uitgaan en alles gee om 'n verrassing te lewer.

“Wen of verloor, gaan maak ons trots. Julle gedrag op en van die speelveld word dopgehou en ons bid dat julle gesond en veilig terugkeer.”

Die president van die Namibië Rugby-unie, mnr. Corrie Mensah, het gesê die span is vasbeslote om so mededingend as menslik moontlik te wees.

“Ons wil beslis vir die groot spanne 'n paar moeilike vrae gaan vra.

“Hierdie is seker die jongste groep spelers wat Namibië nóg na 'n Wêreldbeker gestuur het (gemiddelde ouderdom 26).

“In terme van transformasie is die verdeling 50-50 tussen wit en spelers van kleur. Maar ons gaan eensgesind, soos broers wat saam na die oorlogsveld op pad is.

“Die boodskap wat die president van Rugby Afrika (mnr. Khaled Babbou van Tunisië) aan my oorgedra het, is dat hulle ten volle trots en ondersteunend is om Namibië by die Wêreldbeker te sien.



REGERING GEE VIR TOER

“Die Namibië Rugby-unie het waardering vir die regering se ondersteuning aan die nasionale span oor die laaste vier jaar, asook vir al die land se vorige Wêreldbekerspanne.”

Die regering, deur middel van die ministerie van sport, jeug en nasionale diens, het onthul dat N$13.7 miljoen aan die Namibiese Wêreldbekergroep toegeken is.

Soos gebruiklik is die betaling van salarisse aan die spelers en personeel vir die Wêreldbeker-periode die verantwoordelikheid van die regering, eerder as die borge wat normaalweg deur die loop van die seisoen hierdie taak opneem.

Mensah was gister huiwerig om meer besonderhede te deel oor hoe die regering se geld verdeel word.

“(So 'n bekendmaking) sal net aanleiding tot omstredenheid gee. Ons het wel duidelike riglyne ontvang op grond waarvan ons spesifiek verslag moet doen en terugvoering gee.”



JAPAN LÊ EN WAG

Kort ná Staatshuis het die rugbygroep ook 'n welwillendheidsbesoek aan die Japanse ambassadeurswoning in Windhoek afgelê.

Die WB-gasheerland se ambassadeur, mnr. Hideaki Harada, het in sy kort toespraak gesê hy was geraak toe hy tydens 'n besoek aan die rugbystadion ingelig is dat vele van die Namibiese spanlede werkende amateurs is wat nogtans op professionele vlak meeding.

“Om saans ná werk só aan te hou oefen, wys 'n sterk vasberadenheid.

“Die tweede storie wat my bybly, is hoe die Welwitschia-plant na wie jul span vernoem is, vir 'n duisend jaar in die onherbergsame woestyn kan aanpas en oorleef. Hierdie gees sal Namibië handig te pas kom in die moeilike groep waarin julle speel.

“Ondersteuners vir julle span wag in Japan. Ek sal graag wil sien dat julle met die Japanse mense kuier en ons kultuur ondervind. Ek wens julle 'n suksesvolle en merkwaardige toer toe.”

Soortgelyk

 

Teko-trio vrygespreek

11 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Die sakevrou, me. Teckla Lameck, en haar twee vennote, mnre. Yang Fan en Jeroboam (Kongo) Mokaxwa, is vanoggend in die hoërhof in...

Moenie polisie-, weermaglede verfilm nie

21 ure gelede | Regering

Die ministerie van verdediging het lede van die publiek gewaarsku om nie foto’s of video's van lede van die Namibiese polisie of die weermag (NDF)...

Dokters wis nie van voorskrifte

21 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht Geen amptelike kennisgewing is aan lede van die twee grootste verenigings vir dokters in die land uitgestuur oor die herske­dulering van medikasie, insluitende...

Regering kry skuld vir SOE-gemors

21 ure gelede | Regering

Denver Kisting Die regering is 'n swak aandeelhouer.Só het die adjunk- uitvoerende direkteur van staatsdiensondernemings, me. Louise Shixwameni, gister op die ontbytprogram Good Morning Namibia...

Teenstropery: 280 polisielede veg saam

21 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg Altesaam 280 polisielede van oraloor die land word in teenstropingseenhede op 'n driemaandelikse roteringsbasis in die Palmwagkonsessie en die Etosha en Bwabwata Nasionale...

Meer as N$350 000 se goedere kry voete

21 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het skelms Woensdag om 14:00 die venster van 'n voertuig in Windhoek se noordelike nywerheidsgebied stukkend geslaan. Die insittende...

Weer vir 18 September

21 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Baie warm toestande sal oor die binneland voortduur.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Suide, andersins sonnig en baie tot bloedig warm.KUS: Bewolk...

Konferensie fokus op gehalte-onderrig

21 ure gelede | Onderwys

Die Nasionale Raad vir Hoër Onderrig het, in vennootskap met die Namibiese Kwalifikasie-owerheid en die Universiteit van Namibië (Unam), die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie...

'n Kolwyntjie vir Nadine

21 ure gelede | Plaaslik

Tanja Bause'n Elfjarige meisie van Windhoek het verlede jaar tydens die Internasionale Dansfees in Suid-Afrika stof in ander deelnemers sê oë geskop, en is hard...