Ma wat glo baba vermoor se saak uitgestel
Ma wat glo baba vermoor se saak uitgestel

Ma wat glo baba vermoor se saak uitgestel

Kristien Kruger
Kristien Kruger – ’n Vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar ses maande oue seun vermoor het, se verhoor is tot 24 Januarie 2022 uitgestel.

Me. Pricilla Stuurman – wat nie Maandag se hofverrigtinge bygewoon het nie – is vry op borgtog.

Die saak is in haar afwesigheid uitgestel.

Haar verhoor het op 13 September in die hoërhof in Windhoek voor regter Claudia Claasen begin. In haar pleitverduideliking het sy gesê sy het per ongeluk haar baba, Stiaan Cidio Stuurman, laat val toe sy dronk was.

Die staat beweer sy het haar baba se kop verskeie kere teen die vloer geslaan en sy het glo vir getuies gesê sy gaan hom doodmaak.

Stuurman ontken sy het enige bedoeling gehad om hom te vermoor en sê dit was ’n ongeluk.

Stiaan het ’n dag ná die voorval in die staatshospitaal op Karasburg aan sy kopbesering beswyk.

Die voorval het op 23 Desember 2019 in die ||Kharasstreek plaasgevind.

DRIE SKEDELBREUKE

Een van die eerste getuies in Stuurman se verhoor was die mediese dokter, dr. Haroldt Uahindua, wat die nadoodse ondersoek op Stiaan uitgevoer het.

Volgens sy getuienis het hy drie skedelbreuke gehad en dit is sy mening dat een val vanuit sy ma se arms nie die drie skedelbreuke kon veroorsaak het nie.

Stuurman staan tereg op een klag van moord met die bepalings van die wet op huishoudelike geweld saamgelees en word deur mnr. Milton Engelbrecht verteenwoordig. Mnr. Taodago Gaweseb is die staatsaanklaer.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer