Ma vertel oor baba se verkragting, dood

Twee maande nadat haar babadogtertjie op twee weke dood is ná sy glo deur haar pa verkrag is, het 'n Rehoboth-vrou gister gesê sy het dié man vergewe.
Denver Kisting
Denver Kisting op Rehoboth – Kort nadat haar voormalige kêrel gister weens hul twee weke oue baba se grudood en -verkragting in die hof verskyn het, het 'n jong ma van Rehoboth die grafiese besonderhede van die voorval onthul.

Maar, sê die 20-jarige me. Rosaline Moss, sy het vir mnr. Gert Skrywer (26) vergewe.

Die enigste bydrae wat Skrywer glo tot sy dogtertjie se kort lewe gemaak het, was N$3, het Moss gister tydens 'n besoek van Republikein vertel.

Op die dag van die baba se dood, 14 Julie – presies 15 dae ná haar ­geboorte – het Moss na Skrywer se huis toe gegaan om vir hom vir geld vir weggooidoeke te vra.

Sy sê hy het toe vir haar N$3 gegee vir een weggooidoek.

Sy het vir klein Charmaine vir 'n rukkie in haar pa se sorg gelos om die doek te gaan koop.

Moss het gister erken sy het op dié dag “gemmer” gedrink.

Skrywer het glo nie alkohol gedrink nie, maar wel “pil gerook”, sê sy.

Nadat sy met die weggooidoek ­teruggekeer het, het hulle gaan slaap, vertel sy.

Hoewel sy twee weke tevore geboorte gegee het en volgens 'n vroeëre weergawe nie reg was vir geslagsomgang nie, het hy toe eers na bewering met Moss onder dwang seks gehad.

Daarna het Skrywer, ook die pa van 'n seuntjie, na bewering sy ­babadogtertjie ten aanskoue van Moss verkrag.

Moss het gister beweer Skrywer het sy optrede aan drange toegeskryf. Hy het haar glo met die dood gedreig indien sy wat gebeur het, bekend sou maak.

Klein Charmaine het glo ver­skriklik gehuil.

Sy het haar terug na hul huis geneem, waar die baba later oorlede is.

Moss sê hoewel sy vir Skrywer vergewe het, is hulle nie meer 'n ­paartjie nie.

Sy en 'n handjievol familielede was gister by die ­Rehoboth-landdroshof toe hy sy tweede verskyning op aanklag van moord en verkragting voor landdros Kandiwapa Nangombe gemaak het.

Vanweë die Covid-19-pandemie is net die beskuldigde, hofpersoneel en joernaliste egter in die hofsaal ­toegelaat.

Moss sê sy het buite die hof na Skrywer se welstand verneem, maar hy het glo net vir haar “gekyk” sonder om te antwoord.

Die staatsaanklaer, mnr. Steven Haradoeb, het gister gesê die polisieondersoek is nog nie afgehandel nie. Hy het gesê 'n getuie se verklaring, 'n fotoplan en laboratoriumuitslae ontbreek nog.

Haradoeb het gesê die staat staan borgtog teen vanweë die openbare belang, die administrasie van geregtigheid en die ernstige aard van die bewerings teen Skrywer.

Die beskuldigde het gister gehoor die direktoraat regshulp het sy aansoek om regsadvies ontvang.

Nangombe het vir Skrywer ingelig hy mag 'n formele aansoek om borgtog indien.

Sy het die saak tot 26 Oktober vir verdere polisieondersoek uitgestel. Skrywer bly intussen in aanhouding.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer