Ma onttrek Sadu00e9 uit nasionale oorweging
Ma onttrek Sadu00e9 uit nasionale oorweging

Ma onttrek Sadé uit nasionale oorweging

Atletiek
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die gesoute atletiekadministrateur Leoni van Rensburg is in die spervuur ná ’n brief van vyf bladsye waarin klagtes uiteengesit word oor hoe sy na bewering ’n Namibiese atleet by die afgelope IAAF onder 18 wêreldkampioenskap behandel het.

Me. Lizah Bezuidenhoudt, die ma van die 17-jarige naelloper Sadé de Sousa, het die wêreldbyeenkoms in Nairobi, Kenia bygewoon en het op grond daarvan die skriftelike klagte opgestel wat sy onder meer aan Atletiek Namibië, die direktoraat van sport, die Namibiese Sportkommissie, die Namibiese Olimpiese Komitee en die plaaslike sportmedia uitgestuur het.

Volgens Bezuidenhoudt het dinge sommer al op die eerste dag van die kompetisie skeef geloop toe De Sousa aan haar ma gesê het sy voel asof sy deur Van Rensburg geïgnoreer of uitgestoot word.

“Ek het dit afgemaak dat Sadé haar nie daaraan moet steur nie, want sy is die enigste meisie in die Namibiese span en dat dit natuurlik is as die ander nader aan mekaar beweeg, omdat hulle seuns is en aan dieselfde klub as Leoni behoort,” skryf Bezuidenhoudt.

De Sousa se eerste 100 meter-uitdunwedloop is in gietende reën as die laaste baanitem van die aandskof afgehandel. Volgens Bezuidenhoudt se skrywe het Van Rensburg en die seunsatlete na hul blyplek vertrek sonder om vir De Sousa te wag.

“Sadé moes in die reën terugstap en vir die volgende bus terug wag. Teen die tyd dat sy terug was, was die kombuis reeds gesluit en het sy my laat weet sy is honger en gaan maar slaap. As ’n moeder was ek hulpeloos, want my blyplek was etlike kilometer daarvandaan.”

Bezuidenhoudt skryf dat De Sousa reeds op die tweede dag gesê het sy geniet die kompetisie nie meer nie en wil huis toe gaan. De Sousa het glo alleen gevoel, terwyl Van Rensburg meer aandag aan die seuns as haar gee.

Op dag drie het die noodlot toegeslaan met beide De Sousa en Theron Human wat dyspierbeserings opgedoen het. De Sousa het aan haar ma gesê sy is onseker of sy in die 200 m semifinaal sal kan hardloop en het Bezuidenhoudt versoek om saam met haar terug na die blyplek te gaan omdat sy eensaam voel.

Bezuidenhoudt het rondgevra en uiteindelik toestemming verkry om toegang tot die atlete se blyplek te kry. Van Rensburg was steeds in die stadium saam met Human wat deur ’n fisioterapeut behandel is. Terwyl De Sousa vanweë haar besering teen haar ma geleun het, het hulle ook met die busbeampte uitgeklaar dat hulle saam sou ry.

Toe Van Rensburg by die bus opdaag, het ’n hewige woordewisseling glo ontstaan waarin sy vir Bezuidenhoudt gevra het wie haar die reg gegee het om op die atlete se bus te wees. Ten aanskoue van die atlete het Van Rensburg haar optrede glo as onaanvaarbaar bestempel en gedreig om haar skriftelik aan die Namibiese atletiekowerhede te rapporteer.

Volgens Bezuidenhoudt was Van Rensburg geensins besorg oor die pyn waarin haar dogter verkeer of die behandeling wat sy nodig gehad het nie.

Terwyl ’n dokter vir De Sousa vir ’n MRI-skandering verwys het, wou Van Rensburg glo net weet wie vir die onkoste gaan betaal, want Atletiek Namibië het nie geld nie en soek nie onnodige rekeninge nie. Toe die dokter ’n spreekbeurt kry, het hy uitgewys dat die IAAF se versekering vir atlete al die koste dek.

“Leoni het toe vir Sadé saam met ’n verpleegster en die ambulansdrywer gelos en gesê daar gaan jy, hospitaal toe, terwyl Leoni elders moes gaan om krukke vir Theron Human te soek.”

Bezuidenhoudt is ontsteld dat die enigste meisie-atleet só in die wildvreemde Nairobi aan haar eie lot oorgelaat is. Bezuidenhoudt het later uitgevind die hospitaal is tien minute se stap weg en sê die toestande daar is maar redelik haglik. “Ons was van 14:00 tot seweuur daar en was moeg en honger en dors. Gelukkig het die ambulansdrywer ons jammer gekry een agterna by ons onderskeie blyplekke gaan aflaai.

De Sousa moes die volgende dag die uitslae van haar skandering gaan afhaal en is uit die 200 meter se semifinaal onttrek. Rus en rehabilitasie is vir die volgende ses tot agt weke voorgeskryf.

SIDDER

“Die hoofrede hoekom ek saam is Nairobi toe, is omdat sy ’n meisie is en omdat haar afrigter nie saam is nie. Ek sidder om te dink wat sou met my kind gebeur het as ek nie daar was nie.

“Toe ons vertrek het, was al die Namibiërs joviaal en ek het het gereken daar sou kameraderie en eenheid wees, maar ek is ontnugter. Ek verstaan ons finansiële beperkinge en het gereken die teenwoordige ouers sou Leoni se hand kon vat om sake te laat vlot, maar duidelik het sy ander idees gehad.”

“In alle respek onttrek ek hiermee formeel vir Sadé van alle toekomstige nasionale atletiekpligte in die buiteland, so lank as wat Leoni in enige hoedanigheid betrokke is.

• Die president van Atletiek Namibië, mnr. Erwin Naimhwaka, het gister in ’n bondige nuusverklaring gesê die beheerliggaam neem kennis van die brief. “Soos wat Atletiek Namibië se prosedure bepaal, sal ek die klagte aan ons uitvoerende raad vir bespreking voorlê.

Van Rensburg het gister aan die koerant gesê sy het regsadvies ingewin en is nog nie gereed om amptelike kommentaar te lewer nie. Volgens haar was sy die afgelope jare meer as 50 kere in die rol van ’n spanbestuurder vir atletiekgroepe van jonk en oud en het sy nog nooit tevore sulke drama beleef nie.

Kommentaar

Republikein 2025-11-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer