Ma-gedigte
Ma-gedigte

Ma-gedigte

Minette Brink
Haai, Ma:
kyk dis Hayley Mills op die TV . . .
onthou Ma nog
die mooie ou meisietjie van Pollyanna.
Ek onthou hoe ons in die lang
rye gestaan het om die fliek te sien
daar in Pretoria.

Maar Ma antwoord nie.
Sy is ses maande reeds weg.
Sag gesterf op haar eie bedjie
in my huis.
Die klein ou vroutjie met die spierwit hare.
In haar laaste minute
vlieg haar bruin-bruin oë oop
en sterre flits daarin
sy praat tale
met wesens wat net sy kan sien
en uiteindelik om vyf oor elf
Blaas sy haar laaste asma-asem uit.

Ek kyk vir Hayley:
nou ’n ou vrou -
opgebruik en afgetakel.

Ag Ma, my ma
hoe het tyd ons jeug; jou lewe ingeslurp.

20 Januarie 2009

Vyf dae voor Ma sterf,
stoot ek haar in die rystoel buite uit.
Sy sit in die wintersonnetjie met die
sweetpak en wit knikkende kop.
Ek vra haar later, besorg:
Ouma, is die son nie al te erg, te warm nie?
Sy knik net: Nee, laat ek nog bietjie sit.

Dit is die laaste wat Ma buite kom.
Na dié middag lê sy in haar bed.
Staar nog weliswaar by die venster uit.
Hoor dalk selfs die kwetterende vinke
wat nesmaak in die bome op my erf.

Sou sy iets vermoed van die groter,
dieper koue wat vir haar wag?
Ek sien haar in die blakerende winterson,
krom vooroor; die mooi hande stil
op haar skoot.

Saterdagaand, 24 Januarie 2009

Ek hardloop uit
om wasgoed van die draad te red
toe ’n onverwagse reënbui op ons neerstort.
As ek die klam klere
in Ma se kamer en ­badkamer uithang,
hoor ek die vet reëndruppels op die dak
en ek hoor haar stem wat altyd sê:
hoor my kind: die water tip-tip-tip nie – dit sjor!

Ek hoor ’n vreemde deuntjie veraf dreun:
’n lawwe deuntjie sonder woorde.
As ek naderstap,
is dit maar net die watermusiek . . .
en ek het verkeerd gehoor – daar is tóg woorde:
Tip-tip-tip; sjor-sjor-sjor.
Tippe-tip-tip; tjienke-sjor-sjor-sjor!

Saterdagaand, 24 Januarie 2009

Haar laaste dae lê Ma rustig in haar bed
en wag vir my.
Ek kom sit in die ligkring van haar bedlampie
en haal haar ou, verweerde dagboek uit:
Strome in die dorsland
Ek lees by 6 Julie
En ons weet nie wat ons moet doen nie,
Maar ons oë is op U (2 Kron. 20:12)
Ek sien Ma het jare gelede in die dagstukkie
onderstreep: Rus in die Here,
en wag geduldig op Hom.
Ek lees vir Ma by die sagte lig
van haar bedlampie.
Sy lê stil, met haar mooi fyn hande bo die
komberse gevou.
Kyk daar ver. Vredig. Rustig.
Asof sy reeds sien wat ek nie sien nie.

Dinsdag, 3 Februarie 2009

Die wêreld is skoon gewas
die lug vars
As ek uitstap kry ek ’n reuk
uit my kinderjare:
My tannie Lenvia wat krom voor
die stoof staan en met die
vurkie klits-klits-klits
Oor lae hitte word die
tuisgemaakte mosterd tot
’n romerige sous gemeng.
Ek snuif die lug diep en
sien die krom figuurtjie.

Hierdie vroutjie word later
Ma wat voor die stoof staan
en die tuisgemaakte mosterd
klits-klits-klits
Ek gee ’n tree vorentoe en
maak my oë toe
sodat ek beter kan sien:
Die goue mosterd borrel
skuimerig
word dikker en gladder
later staan dit eenkant en afkoel
sodat dit oor die saggekookte,
gesnipperde
aartappels gegiet kan word
Ek trek die geur diep in my longe
totdat dit pyn:
My ma is in tuisgemaakte mosterd.

5 Februarie 2009

Dae lank loop ek met die vae ongemak:
Daar is iets waaroor ek wou skryf . . .
Wat was dit nou weer?
Tot dit my tref:
Ma se vergeetagtigheid!
Of was dit Alzeimers?
Dementia?

Ek laat Ma een middag in die motor sit
terwyl ek een en ander
in die winkel koop.
Toe ek terugkom,
bespeur ek haar ontsteltenis
soos ’n wolk om haar:
My kind: vandat jy uitgeklim het
het ek my siek probeer onthou:
Wat is jou naam!
Tot ’n brief in die motor gesoek
sodat ek kan lees wie jy is.

Ek troos en vryf vlugtig oor
haar bewende hande.
Toemaar Mamma,
jy is maar net oud
Ek is hier
Moet oor niks bekommerd wees nie.
Soos met ’n kind
praat ek met haar.

Ek stap in my leë huis
met die ongemak in my:
Wat is, was
En wat was, gebeur weer.

Sondagoggend, 8 Februarie 2009

Ek hoor mense sê:
Dis vandag sy eerste verjaarsdag in die hemel.

Ma het ook vandag haar eerste verjaarsdag
dáár gevier.
Wonder of haar mammie en pappie
huisbesoek gedoen het.
Of bly hulle in elk geval nou saam
in daardie plek met die baie wonings?

Liewe Here, steun ek droewig:
Stuur tog groete.
Sê ek mis haar.
Hier op aarde is dit maar
Woes en leeg – sonder haar.

18 Februarie 2009

Ek onthou my eerste verjaarsdag op Lüderitz
Toe is ons pas daar aangeland na ’n
lang reis met die trein;
Ma besig met ’n nuwe beroep by die spoorweë.

Ek word die oggend wakker
spring vervaard uit my nuwe, vreemde bed:
In ’n netjiese pakkie op die bedkassie,
twee Enid Blytons en ’n pakkie lekkergoed.
Ag dankie, my ma.
Hoe goed het jy jou kind verstaan:
’n boek vir die siel en ’n
soetigheid teen die bitterheid

18 Maart 2009

En ek sit
op hierdie sondeurdrenkte ­herfsoggend
Voor die rekenaar met Classic FM
wat my sinne beduimel
met musiek van die gode.
En ek weet:
Die lewe is goed

En ek wonder, Ma:
as die hemel so eksieperfeksie is;
hoor julle seker die beste koormusiek
die soetse simfonieë.
Wonder wie is die dirigent . . .
dalk Beethoven?
In die hemel kan hy mos weer hoor!

Intussen hoor ek ’n stukkie van die hemel –
Sommer hier in my eie ou woonkamertjie:
Entwood 22
Avis

22 Maart 2009

Laatsomermiddae sit ek en Ma
in my klein ­agterplasie.
Ons speel Afrikaanse krabbel.

Later sit ons sommer net en sien die
sonlig verdwyn agter die Aviskoppe.
Ek skink vir ons wyn en ons luister
na die baldadige vinke wat bo ons koppe
skoppelmaai in hulle nessies aan dun takkies.

Dis lekker, sê Ma.
Die lewe is goed.
Ek skrik wakker uit my drome van ander plekke
wat nie hier is nie.
Ja, Ma. Ons is bevoorreg.

Later kom die maan blinkoog uit.
Sal ons binne gaan sit, Ma?
Sy staan strammerig op na die lang sit.
Die kat spring vervaard van haar skoot af.

Ons sit binne en kyk Touched by an Angel.
Ek kyk na Ma. Sy is ’n engel.
Ja, sy is regtig ’n engel.

Ek maak soms my oë toe en wag vir die
Vlindersag aanraking teen my wang.

7 November 2009

KASSIE:
Vir dié bydrae het die skrywer ’n Veertjie by 2015 ATKV-toekennings ontvang.

Kommentaar

Republikein 2025-06-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer