Ma eis ná noodlottige skietvoorval

Slagoffer het glo klopjag onwettig afgeneem en toe gevlug

03 June 2021 | Howe
Marc Springer – 'n Ma wie se kind deur 'n polisiebeampte doodgeskiet is wat 'n klopjag tydens die teenmisdaadveldtog Operasie Kalahariwoestyn uitgevoer het, het 'n regsgeding teen die regering aanhangig gemaak.

Sy eis N$1,6 miljoen in skadevergoeding.

Me. Inge Shimoneni se siviele saak teen die regering; die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit; asook mnr. Mulele Darrel Nyambe, 'n polisiebeampte, spruit uit 'n voorval op 5 September 2019.

Volgens die klaagster het veiligheidspersoneel van die Namibiese weermag en die Namibiese polisie daardie dag tussen 10:00 en 11:00 'n gesamentlike klopjag op 'n eiendom in die Smarties-nedersetting in Single Quarters, Katutura, uitgevoer.

In haar hofdokumente voer sy aan haar seun, mnr. Benisius Kalola, het die klopjag gesien, sy selfoon uitgehaal en die voorval begin opneem toe 'n onbekende lid van die veiligheidsmagte hom opgemerk het. Kort daarna het verskeie lede wat by die operasie betrokke was haar seun genader sonder om hulself te identifiseer – soos vereis word – en aangedring dat hy sy selfoon aan hulle oorhandig.

Volgens die klaagster het Kalola begin weghardloop en die veiligheidspersoneel het hom agternagesit onder wie 'n NDF-lid wat later as Nyambe geïdentifiseer is.



BROODWINNER DOODGESKIET

Laasgenoemde het 'n enkele skoot met sy AK-47-aanvalsgeweer afgevuur en het Kalola noodlottig gewond ná die skoot hom in die linkerkant van sy buik getref het.

Sy beweer kort daarna het die beamptes haar seun se selfoon gevat en sodoende hom onwettig deursoek en onwettig op die oorledene se liggaam en eiendom beslag gelê.

Volgens Shimoneni het die verlies van haar seun vir haar en haar seun se twee minderjarige kinders aansienlike pyn, lyding en trauma veroorsaak, en is hulle ook nou die finansiële steun kwyt wat hy gebied het. Dít, beweer sy, was 'n direkte gevolg van die beamptes se optrede wat hul plig versuim het om haar seun teen enige gevare te beskerm en hom nie aan fisieke of emosionele geweld te onderwerp nie.

Shimoneni eis N$1,6 miljoen in skadevergoeding wat N$500 000 vir emosionele skok en trauma en N$1 miljoen vir die verlies aan finansiële steun, sowel as N$100 000 vir die verlies aan geriewe en die dekking van die begrafniskoste insluit.

In hul verdediging gee die verweerders toe die voorval het gebeur. Hulle benadruk egter dat dié lede destyds aan 'n wettige teenmisdaadveldtog deelgeneem het en 'n wettige klopjag op 'n huis uitgevoer het wat vermoedelik in onwettige dwelmbedrywighede betrokke was.

Hulle voer verder aan die oorledene het weggehardloop toe hy opgemerk is terwyl hy die klopjag opgeneem het, wat dus beteken het dat die beamptes nie die geleentheid gehad het om hom te ondervra nie.



NOG EEN KANS OM TE SKIK

Gevolglik het die hulle Kalola agternagesit om vas te stel hoekom hy so “benoud” van die toneel gevlug het. Dié optrede het glo agterdog gewek.

Die verweerders ontken voorts hulle het beslag op die selfoon gelê en het uitgewys dat dit steeds in Kalola se besit was toe die paramedici op die toneel aangekom het. Die selfoon is daarna glo aan die ondersoekbeamptes oorhandig.

In hul verdediging beklemtoon die verweerders ook “alle nodige pogings is aangewend om die oorledene in te haal” en die skietvoorval was 'n “gevolg van 'n individuele lid se nalatigheid”.

Die verweerders voer aan hulle kan nie aanspreeklik gehou word vir enige skade wat die klaagster gely het nie.

Die saak, wat voor hoërhofregter Orben Sibeya dien, is Dinsdag tot 29 Junie uitgestel om die betrokke partye nog een kans te gun om die bemiddelingskantoor te nader en geskikte datums vir skikkingsonderhandelinge vas te stel.

Me. Sharen Zenda van die Regshulpsentrum (LAC) verteenwoordig die klaagster en mnr. Mkhululi Khupe die verweerders.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Profeet TB Joshua sterf

3 ure gelede | Mense

Die bekende evangelis en filantroop, past. Temitope Balogun (TB) Joshua, is dood.Is het Saterdagaand, 'n week voor sy 58ste verjaardag, in Lagos, Nigerië gesterf, berig...

Polisieman in Kuisebmond doodgesteek

12 ure gelede | Misdaad

'n Konstabel wat by die polisiekantoor in Kuisebmond diens doen, is in die vroeë oggendure Saterdag dood nadat hy naby sy meisie se huis deur...

Ses sterftes stoot syfer oor 900, 480 nuwe gevalle

19 ure gelede | Gesondheid

Ses nuwe sterftes stoot die totale syfer vir Namibië oor die 900-kerf tot 905. Die sterftes is vier in Windhoek en een elk in Outjo...

Covid-19: Gevalle styg in 24 uit 35 distrikte

23 ure gelede | Gesondheid

Namibië bly in die kloue van ‘n nuwe brander Covid-19-infeksies.Gedurende die sewe dae tot Donderdag het nuwe gevalle in 24 van die land se 35...

22 sterftes, 596 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer vir Namibië skiet met nog 22 - 12 in Windhoek, twee in onderskeidelik Rehoboth en Walvisbaai, drie in Mariental en een elk...

Rehoboth soek strenger aandklok-monitering teen Covid

1 dag gelede | Gesondheid

Die United People's Movement (UPM) het die streeksbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, komm. Andries van der Byl, gevra vir polisieversterkings op Rehoboth sodat...

Beesvleisforum vorder met abattoirplan

2 dae gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm,...

Avonturier verdrink byna tydens riviervaart

2 dae gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – ’n Suid-Afrikaanse avonturier wat verlede week ná 55 dae en 2 200 km in sy geel roeiboot die Oranjerivier se monding by...

Harmse on unlimiting the future

2 dae gelede | Mense

Barney Harmse was born in Mafikeng in South Africa in 1970 and his family moved to Namibia when he was just four years old. From...