Lukas veg binnekort in MSG-heiligdom

Boks

16 January 2020 | Sport
Andrew Poolman - Die onoorwonne Sakaria Lukas (Desert Storm) word binnekort die eerste Namibiese bokser wat in Madison Square Garden in New York, een van die mees indrukwekkende en historiese sportarenas in die VSA, die handskoene in woede sal rondgooi.

Geen van sy landgenote het ooit tevore die hoogtes bereik om in die speelplek van Muhammad Ali, Joe Frazier, Mike Tyson en vele ander legendes sy merk in die beroemde MSG te maak nie.

Verreweg die grootste geveg van Lukas se loopbaan is vandeesweek aangekondig, met die bekendmaking dat hy op 14 Maart in New York teen die voormalige WBO-wêreldkampioen Jessie Magdaleno deur die toue sal klim.

Al is dit 'n nietitelgeveg, sal Magdaleno loshande die grootste naam op die Namibiër se getuigskrif wees. 'n Oorwinning sal hom gewis betekenisvol vorentoe laat skuif wanneer oor die voorste veergewigte (57 kg) ter wêreld gepraat word.

Sy promotor Scott Patrick Farrell, uitvoerende hoof van Global Boxing Stars, het aangekondig dat 'n ooreenkoms met Magdaleno se kamp (Bob Arum se Top Rank) bereik is vir die geveg oor tien rondes.

Dit is op die voorprogram vir 'n WBO wêreldtitelgeveg in die einste veergewigklas tussen Shakur Stevenson (VSA, houer) en Miguel Marriaga (Colombia).



BEIDE OP WÊRELDRANGLYS

Die linkshandige Magdaleno (27 gewen, een verloor, 18 uitklophoue) het in November 2016 die WBO-superkapokgewigtitel verower, deur die ervare legende Nonita Donaire (The Filipino Flash) eenparig met punte te klop. Magdaleno het dié titel een keer suksesvol verdedig (uitklophou teen Adeilson Dos Santos van Brasilië), maar 'n nare verrassing het in Maart 2018 op hom gewag.

Hy het Isaac Dogboe, 'n Brit van Ghanese afkoms (destyds 18-0) vroeg platgeslaan, maar laasgenoemde het hom met aggressie en kragtiger vuiste oorweldig en hom in die elfde ronde uitgeslaan – die enigste blerts op die Amerikaner se rekord as beroepsbokser.

Magdaleno het sedertdien reggeruk met twee oorwinnings in 2019 (Rico Ramos en Rafael Rivera) – beide in die swaarder gewigsklas veergewig. Op die oomblik word hy op twee gesaghebbende ranglyste gereken, naamlik nommer 2 deur die WBC en 4 deur die WBO.

Hierteenoor verskyn Sakaria Lukas ook tans op twee rang­lyste onder die top-15 (WBA negende en IBF sesde). Die Namibiër het in 2015 die WBO Afrika-gordel gewen en het dit tot in 2017 vyf keer suksesvol verdedig.

'n Dispuut met sy vorige promotor Nestor Tobias het tot 'n onaktiewe 2018 gelei, maar verlede jaar het Lukas met twee maklike seges sy onoorwonne rekord tot 23 gevegte (16 uitklophoue) laat aangroei.

Op papier sal Magdaleno dalk die voordeel van jeugdigheid geniet, met sy 28 lewensjare teenoor die 35-jarige Lukas.



'GUNSTELING VEGTER'

“Die wenner van hierdie geveg behoort sekerlik voor die einde van vanjaar 'n kans te kry om vir 'n wêreldtitel te boks,” voorspel Farrell.

“Sakaria Lukas alias Desert Storm is een van my gunsteling vegters. Ek en my span het lank en hard gewerk om hierdie geleentheid vir hom te laat gebeur.

“Daar is 'n Storm in aantog na Amerika, want Sakaria Lukas is ernstig oor sy besigheid. My professionele mening is dat Lukas die afgelope jare onregmatig misgekyk is, maar sy tyd het aangebreek en ek is baie bly dat ek die een kon wees wat dit laat gebeur.

“Nou hang alles van hom af, om te bewys dat hy op die elite vlak tussen die beste veergewigte ter wêreld tuishoort.

“Magdaleno is 'n baie dinamiese hotklou en 'n harde slaner, wat tans die VSA se WBC-kampioen is. Baie mense verskil van my, maar ek het volle vertroue dat Lukas kan voortgaan en 'n wêreldtitelgeveg afdwing.”

Farrell het ook lof uitgespreek teenoor Immanuel (Imms) Moses en sy AC Boxing-klub waar Lukas oefen en afgerig word. “Imms het 'n puik taak verrig en sonder sy vennootskap om Lukas by Global Boxing Stars te laat teken, sou niks hiervan vir Namibiese boks moontlik gewees het nie.”

Farrell en Paulus stem ooreen in hul siening dat die geveg in New York bloot die begin vir Lukas is en dat meer sulke groot gevegte sy voorland is.

• GBS en die AC-span sal kort daarna ook saamwerk vir “Rising Stars of Africa” op 28 Maart in Windhoek vir die gewese wêreldkampioen Paulus “The Hitman” Moses se terugkeer na die kryt.

Soortgelyk

 

Destined to inspire

8 ure gelede | Mense

Ester KamatiSem Mandela Uutoni’s desire for community development manifests itself in his work and is what drove him to pursue a bachelor’s degree in regional...

Make education your New Year’s resolution in 2020

8 ure gelede | Mense

Albin JacobsWith the holiday season drawing to a close it is time to focus on the new year, 2020. Almost everyone makes some kind of...

Dankbare dorre aarde

8 ure gelede | In beeld

“Die Karasberge in die Karasburg-distrik het onlangs vir die eerste keer in vier jaar reën gekry,” sê NP Esterhuyse, wat dié pragfoto geneem het.

Groot kanonne hoor kiessaak

8 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Alle oë is vandag op Namibië se hoogste hof, die hooggeregshof, waar die land se heel eerste onafhanklike presidensiële kandidaat dié hof...

Katrina hoor gou oor appèl

8 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Die voormalige minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, sal eersdaags hoor of haar aansoek om verlof tot appèl geslaag...

Fearless manager - Game of Phones

8 ure gelede | Mense

Michelline NawatisesLeandro van Wyk, call centre manager at MultiChoice Namibia, started his career in the banking industry in 2001 as a back-office ledgers clerk, after...

Connecting clients to the correct networks

8 ure gelede | Mense

Ester Kamati With internet connection, there is no stopping Macveren Kapukare, a telecommunication engineering graduate who is passionate about making a difference in the world...

Oudonderwyser sit steeds

8 ure gelede | Howe

Denver Kisting - Die 69-jarige man, wat sedert verlede naweek op Rehoboth in polisieaanhouding is weens beweerde verkragting, se formele aansoek om borgtog het nie...

Aandag alle bruidspare!

8 ure gelede | Gebeure

Republikein se Bruidspaar van die Jaar-kompetisie skop weer vandag af. Paartjies wat tussen 1 Maart 2019 en 29 Februarie 2020 getroud is, kan vir vanjaar...