Luiperdslagoffer sterk goed aan
Denver Kisting
Hoewel dit beter gaan met mnr. Hardy Specker (61), wat verlede week in die Namib Naukluft Park deur 'n luiperd aangeval is, moet hy wag op die dokter se aanbeveling voor hy mag terugvlieg Duitsland toe.
Sy vrou, die 60-jarige me. Petra Windmeisser, het gister aan Republikein gesê hulle het beplan om nege maande deur Namibië, Botswana en Suid-Afrika te toer voor die noodlot Woensdagnag hul planne verongeluk het.
Windmeisser vertel hulle het omstreeks 01:00 Donderdag 'n gekrappery aan en “snaakse geluide” by hul daktent gehoor. “Ons het aanvanklik gedink iemand probeer inbreek.”
Specker het toe by die tent se venster uitgeloer waarna die luiperd van die grond af gespring het en hom aan die kop beetgekry het.
verskriklike nagmerrie
Hierna het dit in 'n nagmerrie ontaard wat volgens Windmeisser tussen vier en vyf minute geduur het, maar soos 'n ewigheid gevoel het. “Dit was verskriklik.”
Volgens haar het haar man vir haar geskreeu dat hy besig was om te sterf en hy nie gedink het hy sou langer as twee minute lewe nie.
Sy het hom toe aan die bene beetgekry en getrek terwyl die luiperd aangehou het om hom aan die kop te byt.
Uiteindelik het Specker sy vingers in die luiperd se oog gedruk – 'n wenk wat hy onthou het hy êrens raakgelees het, sê Windmeisser. “Toe laat los die luiperd.”
bloed oral in tent
Te midde van bloed oral in die tent moes die egpaar toe ses verdere angs-ure daarin deurbring totdat hulp sowat 07:00 Donderdag opgedaag het. “Ek het hom op die tent se vloer neergelê en na hom gekyk.”
Sy sê sy het deurgaans die luiperd buite die tent gewaar totdat hy later verdwyn het.
Specker is reeds Donderdag vir sy kopbeserings geopereer en Windmeisser is vol lof vir die mediese behandeling wat hy ontvang. Sy sê hulle word op die hande gedra.
Die egpaar het op 29 Maart in Namibië aangekom.
Hulle was sowat tien jaar gelede vier keer in die land en het tydens daardie besoeke ook gekampeer – elke keer met 'n gehuurde voertuig en toerusting.
Hierdie keer het hulle besluit om hul eie bakkie van Antwerpen na Walvisbaai te verskeep omdat hulle die nege maande lange avontuur met hul eie voertuig wou beleef. “En toe duur dit net twee weke.”
Oor hoe dit tans met hom in die Welwitschia-hospitaal op die hawedorp gaan, sê sy: “Dit gaan beter. Hy benodig net baie rus.”
Hy word in 'n algemene saal behandel.
Die egpaar kom van die universiteitstad Konstanz in die suide van Duitsland.
Mnr. Romeo Muyunda, die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, het gistermiddag gesê hulle dra kennis van die voorval.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie