Lughawe groter, beter teen September
Die NAC-raadsvoorsitter sê verskeie stappe is gedoen en die organisasie is die afgelope 12 maande reeds besig om te stabiliseer.
Elvira Hattingh - Die opknapping van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako sal na verwagting teen September vanjaar voltooi wees.
Dit moet die lughawe in staat stel om dubbel die huidige getal passasiers te hanteer.
Terselfdertyd sal opknapwerk aan die Eros-aanloopbaan na verwagting teen Mei voltooi wees, met planne en ontwerpe wat reeds ingedien is en die tenderproses wat tot 4 Februarie voortduur.
Die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se raadsvoorsitter, dr. Leake Hangala, het Dinsdag tydens ’n nuuskonferensie gesê die organisasie is die afgelope 12 maande reeds op die herstelpad en besig om te stabiliseer.
Tydens die geleentheid is die media op ’n besigtigingstoer geneem om te sien hoe bouwerk by Hosea Kutako vorder.
Hangala het gesê doelgerigte aksie is geneem om dienslewering te verbeter, en beter finansiële bestuurstelsels en prosesse is ingestel.
Die organisasie se nuwe uitvoerende hoof, mnr. Bisey /Uirab, het volgens hom ’n goeie impak gemaak.
Hangala erken die NAC het nie altyd sy mandaat uitgevoer en aan verwagtinge van belangegroepe voldoen nie.
“Die NAC was ’n bron van kommer . . . en by tye as ’n onstabiele organisasie met ongesonde sakepraktyke beskou,” het hy gesê.
Hangala sê die NAC is besig om ’n transformasie te ondergaan, wat insluit dat ’n nuwe struktuur vir top- en middelbestuur ontwikkel en goedgekeur is en die aanstelproses van senior bestuur, asook die uitvoerende bestuur, binne die hersiene struktuur afgehandel is.
Hangala sê die NAC is besig met ’n opname van kliëntetevredenheid en ’n opname om belangegroepe te betrek.
Dit sal aangewend word om hul vyfjaar- strategiese plan te help opstel.
Verder het die organisasie werk daarvan gemaak om die talle hangende hofsake teen hulle te verminder, wat insluit dat die hof in hul guns beslis het teen die aanstelling van China State Engineering as kontrakteur vir die Ondangwa-lughawe.
Tog het laasgenoemde hulle nou tot die hooggeregshof gewend.
Die NAC het ook verlede jaar met Aurecon Engineering Consultants geskik en ses arbeidgeskille is sedert Mei verlede jaar gefinaliseer.
Die NAC sê hy is “aggressief” besig om op die Namibië Burgerlugvaartagentskap (NCAA) se veiligheidsoudit van die Hosea Kutako-lughawe voor te berei, terwyl die Rundu-, Keetmanshoop-, Katima Mulilo- en Lüderitz-lughawens op die raad se agenda is om nakomingskwessies te pak.
Hangala sê een van hul grootste uitdagings is die invordering van huurders en kontrakteurs se skuld, maar hulle werk daaraan om die uitstaande rekeninge te laat vereffen en die maatskappy se finansiële sake te laat klop.
Hy het bygevoeg die raad het die bestuur opdrag gegee om alle kommersiële ooreenkomste te heroorweeg om seker te maak dit strook met die huidige ekonomiese klimaat.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie