‘Lone Man’ verloor kop, arms

Ongeveer 27 klipfigure is oor die hele Kaokoland versprei, maar die een in Windhoek was die enigste een buite dié gebied.
Tanja Bause
Tanja Bause – ’n Vernielsugtige het die enigste stedelike “Lone Man” klipfiguur se arms en kop afgebreek en gesteel.

Nadat die eienaar die skade aan die klipfiguur gesien het, het hy onmiddellik geslotekringtelevisie (CCTV) ingespan.

Die man is op kamera vasgevang. Dit wys hoe hy verlede Maandag om 14:00 op die sypaadjie by die Lone Man rondgedrentel het. Hy het toe al die een arm gebuig.
Saterdag om 20:14 het hy teruggekeer en beide arms heeltemal afgebreek en langs die klipfiguur neergesit. Hy het daarna probeer om die hele standbeeld om te gooi en het in die proses die kop afgebreek. Hy het die kop opgetel en in die pad gegooi, die arms opgetel en om die hoek neergesit. Daarna het hy die kop in die pad opgetel en hy het om die hoek verdwyn. Hy het teruggekeer om die arms te kom haal.

“Ek het die Lone Man in September 2016 voor my huis opgesit en talle mense op die kameras gesien wat nie net foto’s van hom geneem het nie, maar ook hul kinders en hulself saam met hom afgeneem het. Aangesien hy in die stad is, praat hy op sy selfoon. Hy is 1,8 meter hoog en soos die res van die klipfigure in Kaokoland enig in sy soort. Nou kom een man en vandaliseer hom. Hy is van klip gemaak; wat wil jy met klippe maak? Dit is niks werd nie, behalwe vir almal wat hom waardeer het en vir my was hy van onskatbare waarde.
“Ek weet wie die man is, omdat ek hom op die kamera kan sien en ek weet ook waar hy woon, maar as hy die klippe terugbring, sal ek nie ’n klag by die polisie gaan lê nie.
“Ek is reeds met die kunstenaar in kontak om te kyk of ons die klipman kan herstel, maar ons het klippe nodig omdat elke klip sorgvuldig gekies is om die standbeeld te maak,” het die eienaar van die Lone Man gesê.

Ongeveer 27 klipfigure is oor die hele Kaokoland versprei. Die Lone Man in Windhoek was egter die enigste een buite Kaokoland.

“Jy kry deesdae toere wat spesifiek Kaokoland toe gaan om so veel as moontlik van die Lone Men te gaan soek. Baie mense het hier verbygekom om die enigste stedelike een te sien.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer