Litium – ‘hulpbron van die toekoms’

Die fokus op litium spruit daaruit dat dit in batterye en spesifiek batterye vir elektriese motors gebruik word.
Elvira Wood - Kleiner Suid-Afrikaanse mynmaatskappye glo litium is een van die hulpbronne van die toekoms terwyl hulle die volgende vyf jaar ver weg van platinum, ystererts en steenkool wil bly.

Dit was die bevinding van ’n peiling onder afgevaardigdes wat die Junior Mynbou-indaba in Auckland Park, Johannesburg, bywoon.

Die fokus op litium spruit daaruit dat dit in batterye en spesifiek batterye vir elektriese motors gebruik word.

Tesla, bekend vir sy elektriese motors, het in 2012 gesê hy mik daarna om teen 2020 500 000 elektriese motors per jaar te produseer. Hy verwag nou om dié mikpunt reeds in 2018 te bereik en dit teen 2020 te verdubbel.

Bloomberg berig Tesla het in 2012 net 0,12% van alle litium wat wêreldwyd geproduseer word in litiumioon-batterye vir sy motors gebruik. Dit het tot 3,43% in 2016 gestyg en na verwagting sal dit vanjaar tot 5,91% styg wanneer die vervaardiging van sy Model 3 op dreef kom.

Teen 2018 verwag Bloomberg sal Tesla sowat 13,62% van die wêreld-litiumproduksie gebruik om bykans ’n halfmiljoen motors per jaar te vervaardig.

“As Elon Musk, uitvoerende hoof van Tesla, sy beloftes nakom en ’n miljoen elektriese motors per jaar teen 2020 lewer, gaan Tesla meer as 20% van wêreldwye litiumproduksie gebruik,” voorspel Bloomberg.

Tim Clark, hoof van Standard Bank se mynboubeleggingspan, waarsku mynmaatskappye egter dat hulle nie moet vergeet van ander hulpbronne nie.

“Steenkool, en spesifiek termiese steenkool, is een hulpbron wat ek dink wel goed in die toekoms kan vaar. Suid-Afrika produseer termiese steenkool teen ongeveer US$45 per ton, maar internasionale pryse is ongeveer US$65 per ton. Dit kan dus ’n hulpbron wees waaruit maatskappye groot voordeel kan trek.”

Hy sê ook dit maak nie saak watter hulpbron ontleders tans opgewonde maak as daar nie beleggings in hulle is nie.

“Mynmaatskappye doen tans bykans geen kapitaalbesteding nie. Kumba Iron Ore het byvoorbeeld meer as R6 miljard netto kontant in die bank, maar hy betaal dit nie in dividende nie en belê dit ook nie in nuwe projekte nie.

“Maatskappye is baie versigtig oor wat hulle met hul kontant doen en wag eers om te sien hoe die markte ontwikkel voordat hulle verder belê.”

Piet Viljoen, voorsitter van Regarding Capital Management, sê hy kyk veel eerder na hoe ’n mynmaatskappy bestuur word, ongeag hoe die hulpbron op die markte vaar, aangesien dit ’n baie beter aanduiding is van hoe aandeelhouers beloon sal word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer