Lithops-versameling 'n nasionale bate

Namibië huisves nou elkeen van die 38 bekende spesies ter wêreld

16 July 2021 | Omgewing
Tanja Bause – By die Alte Kalkofen Lodge buite Keetmanshoop is Namibië se enigste Lithoparium (kweekhuis vir Lithops), waar elke bekende spesie ter wêreld van Lithops, ofte wel beeskloutjies, gehuisves word.

Hier word hulle deur die Mouton-egpaar, Hilde en Frikkie, bestudeer, versorg, gesaai, gekweek en gekoester.

Die Moutons werk al meer as 20 jaar met dié besonderse vygieplantjies en hul versameling is 'n nasionale bate. Hul liefde vir die piepklein unieke plantjies het in 1999 begin toe hulle hul eerste Lithops van 'n vriend gekry het.

“Daar is in totaal 38 spesies waarvan 12 in Namibië voorkom en die res in Suid-Afrika. Ons kon deur saadaankope en deur skenkings van plaaslike, Suid-Afrikaanse en oorsese vriende al die Lithops-spesies bymekaarmaak. Ek skat ons het sowat 12 000 tot 16 000 plante in ons Lithoparium,” sê Hilde.

Volgens haar word die plant se beskrywing soos volg uiteengesit: Spesie // subspesie / variëteit 'kultivar'.

Saam met nog twee Lithops-vriende, Tok en Denise Schoeman, het die Mouton-egpaar in 2013 een van die 12 Namibiese spesies in die natuur gevind.

“Dié spesie, naamlik die Lithops Amicorum, het ons by 'n plaas in die Bethanie-distrik ontdek. Die 'amicorum' wat vriendekring beteken, word nou wêreldwyd as 'n nuwe spesie erken. Dit is die laaste nuwe Lithops wat in die natuur gevind is.

“Net vyf mense in Namibië weet presies waar hulle groei en ons wil nie die spesifieke ligging bekend maak nie, omdat ons bang is mense gaan die plantjies uitgrawe en sodoende 'n baie unieke Lithops uitroei.”

Hulle het ook twee nuwe kultivars ontwikkel en gepubliseer. Die eerste is die Lithops pseudotruncatella // pseudotruncatella / elisabethae “white queen”.

“Hierdie 'Pseudotruncatella' blom geel in die natuur en die kultivar “white queen” blom wit in ons Lithoparium.

“Die tweede kultivar is die Lithops schwantesii // schwantesii / urikonsensis 'Bethanien Green'. Hierdie Lithops wat naby Bethanie groei, is normaalweg blou/grys van kleur – ons het drie jaar terug groen plantjies gekry uit saad wat ons gesaai het. Met navorsing en die saai van plantjies, was ons in die posisie om uit die groen plante dieselfde kleur plantjies te groei waarna dit as 'n kultivar geklassifiseer en gepubliseer is.

“Uit die liefde en omgee vir hierdie spesiale plantjies wat net in Namibië en Suid-Afrika natuurlik in die natuur voorkom, het die volgende gebeur. Die Lithops Research and Conservation Foundation is gestig, spesifiek met die doel om behoorlik navorsing, beskerming en hervestiging van die plantjie te doen. Die lede van die stigting is dr. Roy Earle en me. Janice Round (beide Verenigde Koninkryk), dr. Ronnie Uijs (RSA), dr. Mark Mohigan (Frankryk), Hilde Mouton en Frikkie Mouton (Namibië).

“Alle aktiwiteite en artikels word deur hierdie stigting gekanaliseer. Mense wat belangstel, kan gerus www.lithopsfoundation.com besoek,” het Hilde gesê.

“Deur navorsing kan die Lithops Research and Conservation Foundation met sekerheid meld dat Lithops veel wyer in ons land voorkom en versprei is as wat ons voorheen aangeneem het. Ons kan ook met redelike sekerheid sê die Namibiese Lithops is minder in gevaar om te verdwyn as die wat in Suid-Afrika voorkom. Daar is baie kolonies wat in die SA voorkom wat in gevaar is om eersdaags uitgeroei te word.

“Dr. Roy Earle het 'n nuwe boek geskryf wat die algehele Lithops-familie saamvat. Die boek se titel is Lithops in Habitat and Cultivation en enige persoon wat in die boek belangstel, kan ons by Alte Kalkofen Lodge ([email protected]) kontak.”



HERVESTIGING

Die egpaar is ook by talle projekte betrokke waar hulle Lithops terug in die natuur plant.

“Ons moet in die natuur terugploeg wat aan die natuur behoort.”

Hulle het op die plaas Sinclair naby Helmeringhausen Lithops Schwantesii //Schwantesii / Rugosa hervestig. “Ons was egter baie verras en verheug om twee Rugosa-plantjies in die natuur te kry wat naby aan die plantjies groei wat ons hervestig het.”

Lithops Schwantesii // Schwantesii / Urikonsensis is naby Bethanie hervestig.

“Die plantjies is vyf jaar terug hervestig en gaan baie goed aan. Koringkrieke het egter vanjaar onder die plante gemaai en ons sal eers volgende jaar kan bepaal hoe hulle herstel het ná hierdie ongevraagde aanval.”

Op die plaas Sandverhaar naby Goageb het hulle vier jaar gelede Lithops Schwantesii //Schwantesii / Urikonsensis geplant.

“Die projek is tot dusver 'n baie mooi sukses en dis ons plan om eersdaags meer plantjies hier uit te plant. Ons gaan ook met die toestemming van 'n boer naby Karasburg begin met 'n hervestigingsprogram van Lithops Fulviceps / Fulviceps “Lydiae”. Die saad is reeds vir die projek gesaai.

“Ons het naby Verkeerdevlei in Suid-Afrika 'n area met die toestemming van die boer laat toekamp. Hier groei Lithops Leslie // Leslie / Leslie. Beeste loop elke dag oor die Lithopse om by water uit te kom en hulle was besig om die kolonie te verwoes.

“Ons het ook verdere gebiede by Postmasburg en Ellisras geïdentifiseer waar dringend planne beraam moet word om die kolonies wat daar groei, te beskerm en uit te brei.”



MEESTE PLANTE HERVESTIG

Hulle het onlangs vir die tweede keer 'n verdere 230 Lithops // Schwantesii / Gebseri op die plaas naby Maltahöhe hervestig.

Die plantjie is vir die eerste keer in 1960 deur Walter Gebser op die plaas sowat 70 km suid van Maltahöhe uitgehaal. Versamelaars van Lithops het veral in die twee dekades nadat die plant ontdek is, baie in dit belang gestel, so veel so dat getalle in hul natuurlike habitat in 1970 en die vroeë 1980 drasties afgeneem het. 'n Erge droogte in die latere 1980's en 'n verandering in boerderypraktyke in die omgewing het veroorsaak dat die plant rondom 1992 uit hul natuurlike omgewing verdwyn het.

Alhoewel die Lithops al vir meer as 25 jaar nie in hul natuurlike habitat op die plaas Estorffdank gesien is nie, het navorsers die plaas besoek om na hulle te soek. Plaaswerkers en die boer wat op die plaas gewoon het toe die plant volop was, het hul presiese ligging uitgewys en alhoewel baie tyd bestee is om na hulle te soek, was dit tevergeefs.

Die Lithops Research and Conservation Foundation het saam met die huidige plaaseienaars, Herman en Monika Coetzee, aan die idee begin werk om die plante weer in hul natuurlike habitat terug te plant.

Die doel was om die eerste plante in 2017 of 2018 uit te plant of sodra die droogte – wat vanaf 2013 al woed – gebreek is. Voorbereidingswerk vir die projek het in die blomtyd van 2013 en 2014 in die Verenigde Konink­ryk begin. Individuele blomme in die versameling is geïsoleer en met die hand bestuif.

Die kwekery by Alte Kalkofen Lodge het sowat 500 van dié sade in April 2015 gekry en gesaai.

Die oorspronklike habitat van die Lithops // Schwantesii / Gebseri was naby krale en 'n waterpunt vir die skape en dit is dus besluit om die gebied af te kamp, veral aan die begin van die projek. 'n Gebied van 50 x 50 m van die oorspronklike habitat is in November 2016 uitgelê. Finansiering vir die projek is van die Cactus Society in die Verenigde Koninkryk bekom.

In Januarie van die volgende jaar is die droogte van die afgelope vyf jaar met goeie reënneerslae gebreek. Planne is gemaak om die omheining op te sit en teen April nadat nog reën geval het, was alles gereed vir die hervestiging van die plante.

“Ons het saam met Roy Earle en Janice Round van die Verenigde Koninkryk op 'n bewolkte koel oggend die 250 km vanaf ons lodge na die plaas gery om die Lithops weer in hul ou habitat uit te plant. Ons het 22 liggings in die afgekampte gebied geïdentifiseer as geskikte plekke waar die klein plantjies tussen of naby klippe uitgeplant kon word,” het Hilde gesê.

'n Ysterpaal met kleurvolle plastiekballe en 'n aluminiumplaatjie met 'n nommer op, is in die grond gedruk en rondom dit is tien van die jong plante geplant.

“Dit was maklik om die jong plantjies te plant, omdat die grond nog nat was van vorige reën. Deur die plante onder klippe, naby klippe of ander plante te plant, is hulle nog deur die direkte sonlig beskerm. As 'n plant nie beskerm was nie, het ons los gras bo-op gesit net om dit tydens die beginfase te beskerm.”

Nadat die eerste 221 plante uitgeplant is, is hulle met reënwater van 'n nabygeleë dam twee keer per week vir agt weke natgemaak. Daarna is hulle nog een keer 'n week vir vier weke natgelei voordat hulle toegelaat is om uit te droog. Lithops rus in die winter en droog uit.

“Ons het 'n maand later teruggekeer en van die 221 plante kon ons 25 nie vind nie, omdat hulle vermoedelik deur muise uit die grond uitgetrek is. Die 25 plante sal heel waarskynlik nie oorleef nie terwyl die res van die Lithopse in 'n goeie toestand was en blykbaar goed by die nuwe omgewing aangepas het.

“Die eerste hervestiging van Lithops // Schwantesii / Gebseri op die plaas Estorffdank lyk asof dit 'n sukses was. Ons was baie gelukkig dat amper perfekte toestande voor en ná die hervestiging geheers het. Die populasie in geheel asook individuele plante sal vir die volgende tien jaar gemonitor word. Gedurende dié tydperk sal daar nog meer van die Lithopse in hierdie bewaringsgebiede geplant word wanneer gunstige omgewingstoestande heers.”



BEWARING

“Dit is baie belangrik dat mense nie die plante uit die natuur moet verwyder nie, omdat dit baie groot skade aan 'n kolonie kan aanrig. Die plante is ook as beskermde plante geklassifiseer en dis onwettig om hulle te verwyder. Een van die doelwitte van die Lithops Research and Conservation Foundation is juis om dié feit onder versamelaars se aandag te bring. Ons werk nou saam met die departement van natuurbewaring en het die nodige permitte om die plante te mag aanhou.

“Kontak gerus vir Alte Kalkofen Lodge waar ons moontlik saad kan voorsien voordat jy 'n plant uit die natuur haal.”
[email protected]

FOTO’s
Dawid Visser met die Lithops wat op plaas naby Maltahöhe hervestig is. Foto’s verskaf
Hilde Mouton en haat kleindogter Megan Honiball hervestig Lithopse.
Hilde en Frikkie Mouton in hul Lithoparium by die Alte Kalkofen Lodge buite Keetmanshoop.

Soortgelyk

 

Pfizer vandag in Namibië verwag

15 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-entstof Pfizer word vandag in Namibië verwag. Volgens die hoof van die Namibiese taakspan vir die land se immuniseringsveldtog, me. Petronella Masabane, kom 100...

Forklifting failure

1 dag gelede |

Natasja ByleveldAre you OK thinking about unconventional ideas that could uplift society and norms to a higher standard? Do you like a challenge, or do...

Big thinker who is not afraid of taking risks

1 dag gelede | Mense

Contrasting with his considered, analytical, and steady approach to life, Rolf Mendelsohn is an undisputed adventurer. Together with the other founders of Paratus, Rolf...

'Polisiebeampte' pers dokter glo af

1 dag gelede | Howe

Henriette Lamprecht – ’n Windhoekse dokter is glo afgedreig totdat hy N$30 000 opgedok het nadat hy na bewering deur ’n klaarblyklike polisiebeampte van die...

Miss Aston dra die kroon

1 dag gelede | In beeld

Cobus van der Merwe van St. Blaize Brahman & Sussex Studs gister by die Gobabis Skou saam met sy “Kampioen van kampioene”, Miss Aston 134-12....

Plaaslike skatte nou aanlyn ­beskikbaar

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Kuns- en kunsvlytliefhebbers kan nou handgemaakte Namibiese produkte aanlyn via die nuwe Namibia Craft Shop-webwerf aanskaf. Dié platform sal as die aanlyn katalogus van die...

An easy ride-hailing platform

1 dag gelede |

Wetumwene Shikage The everyday experience for many Namibians of getting a taxi to from different locations has been made more convenient. TaxiConnect provides an easy...

A knack for things that are pleasing to the...

1 dag gelede | Mense

Wetumwene Shikage Madeline Heyman, who trained as a fashion designer, has turned her many years of experience to interior design. She says...

Sacrifices worth making

1 dag gelede | Mense

Tunohole MungobaBorn in Windhoek, Leokadia Jacob is a finance administrative officer of Dolomite Camp, which is part of Namibia Wildlife Resorts (NWR).After completing her studies...