Life Fighters en BA vir toppryse by NPL-aand

Die spogdinee word Vrydagaand gehou om die seisoen af te sluit.
Die MTC Namibiese Premierliga het gister die finaliste en die venue vir sy prysuitdeling ter afsluiting van die afgelope 2018-'19 seisoen aangekondig.

Die sprankelgeleentheid, bygewoon deur hoëprofiel sportpersoonlikhede, word komende Vrydagaand gehou, met die Safari Hotel as die nuwe venue.

Die eerbetoon aan spelers, spanne en rolspelers wat uitstaande vertonings gelewer het, is die hoofdoel van die spoggeleentheid.

“Tesame met ons betroubare korporatiewe vennote MTC en FNB Namibia het ons volle vertroue dat ons 'n unieke geleentheid sal aanbied met die regte mengsel van glansende sportsterre en musiekvermaak.

“Dit is nog 'n tree in die regte rigting om die profiel van plaaslike sokker op te hef,” sê die NPL se uitvoerende hoof, Harald Fülle.

Dit is reeds bekend dat Isaskar Gurirab van Life Fighters loshande boaan die lys van voorste doelskieters klaargemaak het, terwyl Black Africa die kampioenspan vir die seisoen was.

Gurirab (22 doele) het Chrispen Mbewe van African Stars en McCartney Nawaseb van Black Africa, onderskeidelik met 15 en 14, behoorlik uitgestof. Hy is sedertdien in die Brave Warriors-groep opgeneem en het verlede week ook twee doele in hul laaste Cosafa-bekersege met 3-0 teen Seychelle in Durban aangeteken.

Onder die ander gesogte toekennings vir die aand tel die speler van die seisoen, spelers se speler van die seisoen, beste afrigter asook die spesiale voorsitterstoekenning.

Benoemings in al die individuele kategorieë is bepaal uit voorleggings deur al die afrigters en kapteins van die betrokke NPL-spanne, asook die skeidsregters en uitvoerende lede wat kandidate kon aanwys. Hierdie stemgeregtigdes het dus in 'n insluitende proses die wenners bepaal.

Planne is glo ook reeds gevorderd om te verseker dat sokkerliefhebbers landwyd die byeenkoms regstreeks op televisie of aanlyn sal kan volg.

Die benoemdes vir toekennings by die MTC Premierliga-toekennings is:

MTC Premierliga Voorste doelskieter van die seisoen

• Isaskar Gurirab (Life Fighters FC)

MTC Premierliga Speler van die seisoen:

• Dynamo Fredericks (Black Africa FC

• Isaskar Gurirab (Life Fighters FC

• Wesley Katjiteo (Black Africa FC

MTC Premierliga Spelers se speler van die seisoen

• Absalom Iimbondi (Tigers FC)

• Wesley Katjiteo (Black Africa FC)

• Isaskar Gurirab (Life Fighters FC)

MTC Premierliga Afrigter van die seisoen

• Fortune Eichab (Tura Magic FC)

• Paulus Shipanga (Black Africa FC)

• Nicholas Woody Jacobs (Unam FC)

MTC Premierliga Skeidsregter van die seisoen

• Jackson Pavaza (Otjozondjupa)

• Jonas Shongedi (Oshana)

• Nehemia Shooveleka (Ohangwena)

MTC Premierliga Grensregter van die seisoen

• Mathues Nevonga (Hardap)

• Mathew Kanyanga (Khomas)

• Eneas Shikongo (Khomas)

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer