Liewe Halfsin-Jannie
Liewe Halfsin-Jannie

Liewe Halfsin-Jannie

Minette Brink
Ek onthou hom; Jannie was sy naam.
Die onhandige seun met die bymekaargesig en kwylmond. Hy was die enigste van agt kinders wat nie ’n Bybelnaam gekry het nie. Dit sekerlik omdat hy die “ongeluksbaba” was, met nommer 7 wat al 15 jaar oud was.
Sy ma, Antie Maria, het donkiejare by oumiesies Van Zyl gewerk en sy kies toe maar vir laas ‘n naam uit die wit-werf annerkant die treinspoor.
Liewe kind, die Jannie.
Kon net nooit verstaan hoekom antie Maria se bekkige, kras buurvrou hom as “half-sin” beskryf het of selfs “die kind met verlore varkies” nie. Party het weer oor koppies tee geskinder dat sy oor haar tyd was toe Jannie “gekom het” - klink amper soos vervaldatum of iets. Al die terme het my as tjokkertjie gekniehalter en my ooraktiewe brein het die beskrywinge toege­skryf aan sy sleeptong-praat en ewige kwylmond, asof sy tong te veel vir sy mond was. Hy het presies gepraat soos die bekende Afrikaanse rympie: “Thannie thê thy thal thewe thakkke thout thleep.”
Op 16 was hy steeds veilig in die greep van argelose kindwees, met sy semipermanente lag en wolwange wat skree “ek is lief vir julle almal!” Ja, hy het nie ‘n kwaad gesig verstaan nie, sou altyd vra: “Is jy oupa gollie?” of “Hoekom maak jy jou gesig lelik?”
Ek raak toe groot en slimmer en verstaan uiteindelik Jannie se afwykinge. Ek verstaan toe hoekom die beter antie by die kerkbasaar hom die hemelskind met die goue hart genoem het.
Sy brein onderontwikkel en sy gelaatstrekke bietjie uit balans, hand-oog-koördinasie heel dwars, dog was sy hart onwrikbaar in balans met die natuur. Hy was inderdaad meer suiwer as die hooggeleerde onderwysertjies van die Kaapse Kollege.
Jannie kon nie lieg nie, sou hy ’n gemmerkoekie van die basaartafel vat sonder om te betaal, het hy net spoegbek gelag, amper half skeel geraak van skoon wil eerlik wees en gesê “ek wath hongel en ma thê ek magi hongel wold”. En hoe smaaklik het hy ‘n enkele gemmerkoekie met sy stomp tandjies verorber, krummels en spoeg en blink oë vol dankbaarheid asof hy die hele koekiefabriek besit.
Sy klere uit die winkels het ook nie met sy knap lyf saamgespeel nie - beentjies te kort, rug ietwat langer. Maar antie Lientjie om die draai, met die massiewe koolstoof bekend vir stoofbroodjies en skaapstertvet, het sy broeke en hemde gemaak sodat hy nie soos ‘n kleurlingkabouter hoef te lyk nie. So het sy mos ook Jannie se ma se pofmourokke op die ou Singer-masjien genaai. Antie Maria was ook maar “op-‘n-hopie”-mens — vierkantig alles bymekaar.
Ek onthou dat sy juis van materiaal met reuse “polka dots” gehou het, nogal die skel kleure. Dit het haar net meer na ‘n kop-borsstuk-kreatuur laat lyk en nog met haar knap seun langs haar was dit ‘n tekenbare prentjie, kostelik en uniek. Dit het my gegrief as mense hulle openlik bespot — hoekom lag vir bietjie anderster mense wat so dierbaar is?
En toe lui die Rynse kerkklok een namiddag ná vier. Die wind huil mistroosting deur antie Maria se adamsvyebome en wingerde; haar snikke skeur in Jannie se sonneblomkussing. Hy is vir goed kom haal.
Die hemelskaar het genoeg gehad - die perfekte mensdom rondom Jannie wou nie die goud in sy hart delf nie, hulle was stokblink starend na sy stomp tandjies en bymekaargesig. Hulle het geglo hulle kon niks van Jannie leer nie.
Hy sal nie meer vals bekfluitliedjies onder hul adamsvyeboom speel nie, sy vaal voete sal nie meer lomp agter sy honde hardloop nie, sy draadkar se wiele stom.
Ek reken, sou daar ‘n boom uit Jannie se oorskot ontkiem het, sou dit beslis nie ‘n pragboom wees nie, maar ‘n boom swanger met vrugte van kalmte, liefde en opregt­heid.
Baie was spyt oor hul geniepsigheid met Antie Maria se malkopkind. Maar is daar ‘n les geleer? Hoeveel loop steeds doofstom met houtbrille deur die lewe en gooi massiewe klippe na mekaar oor die reg en verkeerd; die hordes “moets en moenies”. Oor aanvaarbare dinge gemeet met die oog; oor normaal en abnormaal gemeet op jou voorkoms of kleredrag, woonbuurt en besittings.
‘n Sinnelose gemeet. Ons besef nie dat die magtige maatstawe geskep is deur onvolmaakte mense, straks duisend keer verwronge dan die onderontwikkelde brein van oorle’ hemelkind-Jannie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer