Lewis wen appu00e8lsaak oor klubgeld
Lewis wen appu00e8lsaak oor klubgeld

Lewis wen appèlsaak oor klubgeld

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) in Suid-Afrika het bloedneus gekry in sy aansoek om appèl teen ’n uitspraak ten gunste van die meubelgroep Lewis oor klubgeld.
Nellie Brand-Jonker - Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag ten gunste van Lewis beslis en die Suid-Afrikaanse Nasionale Kredietreguleerder (NKR) se appèl met koste van die hand gewys.

Die NKR het teen ’n uitspraak van die Verbruikerstribunaal geappelleer dat Lewis op die korrekte wyse klubgeld van sy klante verhaal.

Die Verbruikerstribunaal het verlede jaar tot dié beslissing gekom omdat die klubgeld wat Lewis vra nie deel is van sy kredietooreenkoms met klante nie. Lewis sluit ’n aparte kontrak met verbruikers vir aansluiting by die klub en die klubgeld word dus afsonderlik gehef.

“Die Nasionale Kredietwet verhoed nie kredietverskaffers om die dienste van ’n klub aan sy klante te bied nie, maar dit is op voorwaarde dat hierdie dienste nie deel is van die koste van krediet nie,” sê Johan Enslin, uitvoerende hoof van Lewis.

Die NKR het talle winkelgroepe, waaronder Edcon, die Mr Price-groep en The Foschini Group (TFG), weens klubgeld na die Verbruikerstribunaal gesleep.

In Edcon se geval het die Verbruikerstribunaal bevind die klublidmaatskap is by die kredietooreenkoms met die klant ingesluit en is dus ’n onlosmaaklike deel van die proses om vir krediet aansoek te doen.

Edcon het intussen teen dié uitspraak geappelleer. Lees meer onder.

Die NKR het voorheen gesê hy appelleer teen die uitspraak oor Lewis omdat hy meen dit is nie reg dat klubgeld as deel van ’n aanvullende ooreenkoms tot die kredietooreenkoms gehef kan word nie aangesien dit die koste van krediet verhoog.

Die NKR het op 28 Junie verlede jaar appèl teen die uitspraak aangeteken en die saak is op 17 April in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor. Uitspraak is Maandag gelewer.

Die NKR het die aanvanklike saak in 2016 teen Lewis aanhangig gemaak.

KASSIE

Ander wat in die pekel is oor klubgeld

Edcon: Die NKR het ’n klagte na die Verbruikerstribunaal verwys vir ’n verklarende bevel dat Edcon die Nasionale Kredietwet oortree deur klubgeld in sy kredietooreenkomste in te sluit. Uitspraak is op 24 April verlede jaar gelewer dat Edcon en Edgars die wet oortree deurdat klubgeld ingesluit is by kredietooreenkomste. Edcon het in Mei 2017 teen die uitspraak geappelleer. Die saak is in Maart vanjaar aangehoor, maar uitspraak is voorbehou.

Mr Price: Die maatskappy is verlede jaar deur die NKR na die Verbruikerstribunaal verwys weens die beweerde oortreding van die Kredietwet ten opsigte van klubgeld. Uitspraak is nog nie gelewer nie. ’n Boete kan 10% van die groep se jaarlikse omset beloop.

TFG: Die maatskappy is ook verlede jaar deur die NKR na die Verbruikerstribunaal verwys. Sover vasgestel kon word, is uitspraak nog nie in dié saak gelewer nie.

Kommentaar

Republikein 2025-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer