Lemoene of lemoensap: Watter een is gesonder?
Lemoene of lemoensap: Watter een is gesonder?

Lemoene of lemoensap: Watter een is gesonder?

Gerine Hoff
Gesondheidsbewustes sal jou vertel dat jy eerder ’n lemoen moet eet en dan water drink as om sap uit ’n bottel te drink, aangesien dit propvol suiker is.
Die prentjie is dalk egter nie so eenvoudig­ nie, volgens ’n verslag wat onlangs in die ACS wetenskapsjoernaal­ gepubliseer is.
Hoewel vrugtesappe ’n hoë suikerinhoud­ het, het wetenskaplikes­ bevind dat sekere voordelige voedingstowwe­ daarin makliker deur jou liggaam opgeneem kan word as wanneer jy die vrug eet.
Lemoene bevat voedingstowwe soos karotenoïede en flavonoïde, wat jou risiko op kanker of kardiovaskulêre siektes verminder. Die meeste mense verkies om eerder ’n glas lemoensap te drink as om die vrug af te skil en te eet.
Wetenskaplikes wou weet of dié mense dieselfde voedingsvoordele daaruit kry as diegene wat die vrug eet. Vir hul studie is die suikerinhoud van die sap buite rekening gelaat.
Die navorsers het bevind die vervaardiging­ van gepasteuriseerde­ lemoensap­ ­verminder die vlakke van karotenoïede­ en vitamien C ietwat, maar juis dié proses verbeter­ die biologiese­ beskikbaarheid van die voedingstowwe­. Die biologiese beskikbaarheid­ dui op die hoeveelheid­ voedingstof wat die liggaam kan opneem en gebruik.
Strydig met konvensionele denke, is bewys dat hoewel die versapping van lemoene die flavonoïdevlakke laat afneem, kan dit wat daarvan oorbly makliker in die liggaam opgeneem word – makliker as wat jou liggaam dit uit lemoensegmente­ kan doen. Die nadele van bygevoegde suiker in die sap kan egter die voordele oorskry. -Bron: ScienceDaily

Kommentaar

Republikein 2025-08-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer