Leinster bespreek plek in Pro14-eindstryd
Leinster bespreek plek in Pro14-eindstryd

Leinster bespreek plek in Pro14-eindstryd

Rugby
Die Ierse klubspan Leinster is nou net een trappie daarvan om sy Pro14-kroon suksesvol te verdedig nadat hy Munster oortuigend in die halfeindronde geklop het.
Leinster het Munster Vrydag met 13-3 in Dublin geklop.
Vir die wenspan het Rónan Kelleher ’n drie gedruk, terwyl die losskakel, Jonathan Sexton, die drie verdoel het en twee strafdoele deur die pale gejaag het.
Hierteenoor het Munster se enigste punte gekom van ’n strafdoel deur JJ Hanrahan.
Die wedstryde was wêrelde verwyder van die opwindende kragmeting wat die spanne twee weke gelede opgedis het, toe Leinster met 27-25 baas was. Maar die verskil Vrydagaand was dat Leinster die geleenthede wat hy gehad het wanneer hy in Munster se helfte van die veld was gebruik het om punte aan te teken.
Om sake vir Munster te vererger, het Hanrahan met twee strafdoel-pogings misluk. Indien daardie skoppe oor was, sou sake heel anders daar uitgesien het.
Leinster sal teen Edinburgh of Ulster in die eindstryd te staan kom. Dié twee spanne is in die ander halfeind Saterdag in die Skotse hoofstad slaags.
Dit was die derde seisoen wat Munster in die halfeindronde van die kompetisie teen Leinster, die afgelope twee seisoene se kampioen, vasgeval het.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer