Leeus soek steeds antwoorde oor Alberts
Leeus soek steeds antwoorde oor Alberts

Leeus soek steeds antwoorde oor Alberts

Superrugby
Christo Buchner - Daar is nog onsekerheid of die voormalige Springbok Willem Alberts sy rugbyloopbaan by die Leeus sal kan voortsit.

Volgens ’n woordvoerder van die Leeus is Alberts terug na Stade Francais, sy Franse klub in Parys, waar hy sekere kontraktuele aspekte aangaande sy mediese status moet uitsorteer.

Alberts het verlede jaar ’n boarmbesering daar opgedoen en hoewel hy reeds mediese toetse by die Leeus ondergaan het, moet sekere aspekte nog met Stade Francais uitgeklaar word.

Volgens die Leeus-woordvoerder het hy wel sy mediese toetse geslaag, maar hy kon nog glad nie by die Leeus oefen nie.

Sodra hy dié dinge met Stade Francais suksesvol afhandel, sal hy terugkeer na Johannesburg om by die Leeus te begin speel. Dit is nog nie seker wanneer dit gaan gebeur nie.

Die voormalige en potensieel die nuwe Springbok-afrigters het die Leeus ook gister by die Johannesburg-stadion besoek.

Rassie Erasmus, wat die Bokke verlede jaar in Japan tot die Wêreldbeker-titel gelei het, asook Jacques Nienaber, wat straks vandag amptelik as sy opvolger aangewys gaan word, was saam met Deon Davids, wat nog ’n nuwe gesig in die Bokke se bestuurspan gaan wees, by die Leeus se oefening en het samesprekings met hul afrigtingspan gevoer.

Die Leeus vertrek Dinsdag na Buenos Aires vir hul eerste Superwedstryd van die seisoen teen die Jaguares aanstaande Saterdag.

Volgens Pieter Jansen, wat voor in die ry staan om by Malcolm Marx oor te neem as die haker, is dit goed om verlede jaar se naaswenner van die reeks so vroeg in die seisoen te pak wanneer geen span nog die voordeel van enige momentum het nie.

Jansen sê ook daar word ’n nuwe fase betree met die afrigtingspan en dat die Leeus verskeie verrassings beplan.

Volgens hom was Marx ’n mentor vir hom en hy sien uit daarna om sy stempel te kan afdruk. Marx is in wese ’n sabbatsjaar gegun, insluitend ’n tyd by ’n Japanse klub wat minder intense rugby verg, om hom vir volgende jaar se Britse en ierse Leeu-toer vars te hou.

“Ek wil groei as speler en die spangees in die groep is baie goed. Ek sien uit na die uitdaging wat voorlê. Iemand soos Jannie du Plessis (die ervare oud-Bokstut) het reeds in die eerste maand ’n groot impak op ons hele groep gehad,” gee hy toe.

Die senter Duncan Matthews reken daar is ’n honger in die groep en dat hy verlede naweek teen die Bulle oorweldig was met hoe Elton Jantjies ’n wedstryd dikteer en sy stempel afdruk. Hy was ook vol lof vir die manier waarop Courtnall Skosan aan sy buitekant met hom gekommunikeer het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer