Leeus kraai koning in Jukskei-derby
Leeus kraai koning in Jukskei-derby

Leeus kraai koning in Jukskei-derby

SuperRugby
Cobus Claassen

Noem dit voorspelbaar en saai, maar die Leeus het Saterdagaand op Loftus Versfeld ’n dodelike lynstaan-rolmaal gebruik om die Bulle met 49-35 in die spanne se Superrugby-kragmeting te verslaan.

Die tuisspan het – voordat die damwal gebars het – goed gedoen om sake gelyk te trek, maar sy aanslag het algaande verbrokkel elke keer wanneer die Leeus in die Bulle se kwartgebied vir ’n lynstaan aangetree het.

Handré Pollard, wat die nr. 12-trui gedra en die Bulle aangevoer het in Burger Odendaal se afwesigheid, het kort ná rustyd gaan druk om die telbord tot 21-21 te laat rol. Sowat 15 minute later was die Leeus met 42-21 voor en dit het eindelik uitgeloop op ’n stryd vir die Bulle om die skade te beperk.

Twee drieë kort voordat die eindfluitjie geblaas het deur Lizo Gqoboka en Travis Ismaiel, het die Leeus se voorsprong tot 14 punte laat krimp. Die Bulle het by tye met leeuemoed terugbaklei, maar daar was nooit eintlik twyfel oor die uitslag nie.

Die Leeus se agttal, met ysters soos kaptein Warren Whiteley, Malcolm Marx en Franco Mostert aan die spits, het in ’n verwoestende bui in Pretoria aangekom. En Elton Jantjies was knap aan die stuur met die besit wat Whiteley-hulle opgelewer het.

Die Leeus het diep in die eerste helfte ’n voorsprong van 21-9 opgebou nadat albei stutte, Ruan Dreyer en Jacques van Rooyen, met die bal opgestaan het nadat daar met sukses gerolmaal is. Marvin Orie, die Leeus se slot, se drie het ’n paar minute later die gevaarligte vir die tuisspan laat flikker.

Orie het op sy ou tuisveld gaan druk toe hy met indrukwekkende vaart ’n rolskoppie van Jantjies agternagesit het. Hoewel die Leeus nie met ’n spesialis-baljagter Loftus toe gekom het nie, het hulle by ’n paar geleenthede besit omgekeer, deels weens die Bulle wat soms te traag by die afbreekpunte opgedaag het. Die Leeus het hul derde sege op ’n streep beklink toe die tuisspan se plaasvervangerstut Conraad van Vuuren in die 53ste minuut vir 10 minute vir onkantspel afgestuur is.

Sy medeplaasvervanger, Nic de Jager, het ’n minuut later by hom aangesluit vir ’n oortreding by ’n losgemaal. Met die Bulle net 13 man sterk, het die Leeus gebaljaar en het hulle helaas met ’n halfdosyn drieë en ’n strafdrie huiswaarts gekeer.

Puntemakers: Bulle 35 (14). Drieë: Johnny Kotze, Handré Pollard, Lizo Gqoboka, Travis Ismaiel. Strafdoele: Marnitz Boshoff (3), Doelskoppe: Boshoff, Francois Brummer (2). Leeus 49 (21). Drieë: Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen, Marvin Orie, Malcolm Marx, strafdrie, Sylvian Mahuza, Ross Cronjé. Doelskoppe: Elton Jantjies (7).

Hanteerfoute enigste wenner op Kingspark

Die Haaie is steeds op soek na ‘n eerste sege in die SuperRugby-reeks ná hulle Saterdagmiddag met 24 elk (rustyd 10-10) gelykop teen die Waratahs gespeel het, skryf Leighton Koopman in Durban.

Vir die Durbaniete sal die gelykop uitslag op Kingspark eerder meer soos ‘n loesing voel, want hulle het hope geleenthede gehad om die stryd te beklink. Nes teen die Stormers verlede naweek, het die Waratahs egter ‘n manier gevind om in die wedstryd te bly. Hulle het nou wel nie gewen nie, maar die Australiërs sal meer as tevrede wees met hoe sake Saterdag geëindig het.

Daarteenoor sal die Haaie diep moet gaan nadink oor Saterdag se sondes. Hulle kon nie munt slaan uit die skrums wat hulle oorheers het nie. Aanslane was aan die orde van die dag wanneer die span aangeval het, en dit het maar broekskeur in die lynstane ook gegaan.

Elke keer wanneer die Haaie in ‘n goeie posisie voor die Waratahs se doellyn was, het hulle ook balbesit afgestaan. Verlede week nog het die Haaie omtrént in die skrums gesukkel. Gister was dit hul beurt om hul teenstanders streepsuiker in dié afdeling van die spel te gee. Die besoekers het, soos verlede week, weer gesukkel om in die skrums sterk te staan.

(Vervolg op bl. 19)

Kommentaar

Republikein 2025-06-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer