Leeus dekade laas so baie agter eie doellyn
Leeus dekade laas so baie agter eie doellyn

Leeus dekade laas so baie agter eie doellyn

Rugby
Christo Buchner

Vanjaar se Leeus het die swakste begin tot ’n Superrugby-seisoen in die laaste dekade gemaak as die afstaan van drieë as maatstaf geld.

Die Leeus het in hul vyf wedstryde tot dusver 21 drieë afgestaan en nog net 13 gedruk.

Die laaste keer dat die Leeus meer drieë as vanjaar in hul eerste vyf kragmetings afgestaan het, was in 2010, toe hulle in die eerste vyf wedstryde met Dick Muir as die breier 29 keer agter hul eie doelpale gestaan het.

Dit is egter nie net op die verdediging waar die Leeus se statistieke nie goeie leesstof maak nie. Op die aanval het hulle vyf jaar laas so gesukkel om af te rond. Dit was toe hulle in 2015 net drie drieë in hul eerste vyf wedstryde kon druk.

Daarna het hulle elke jaar, tot vanjaar, meer drieë in hul eerste vyf wedstryde gedruk.

In 2016 was dit 19 vir en 18 teen, in 2017 28 vir en 15 teen, in 2018 29 vir en 20 teen en verlede jaar het hulle 25 gedruk en 18 afgestaan teen die tyd wat hul eerste handvol wedstryde voltooi is.

Die Leeus het ook nou hul laaste drie wedstryde in Australië verloor.

Hulle bevind hulle nou in Auckand in Nieu-Seeland vir Saterdag se kragmeting met die Blues. Dit is ook nie ’n plek wat die Leeus juis goedgesind is nie, want van hul vyf wedstryde daar teen die Blues kon hulle nog net een wen.

Dit was die laaste keer toe hulle in 2015 daar besoek afgelê het. Tóé het die Leeus met 13-10 deurgeskraap.

Wat die ander wedstryde daar betref, het die tuisspan telkens heel gemaklik geseëvier.

In 2012 het die Blues met 25-3 gewen, in 2009 met 36-12, 41-14 in 2007 en in 1997 was hulle met 63-22 baas.

Om sake nog moeiliker vir die Leeus te maak kom hulle vanjaar teen ’n Blues-span te staan wat van selfvertroue sal oorloop.

Ná talle maer jare het die Aucklandse span vanjaar skynbaar weer ’n wenresep gevind en sy laaste drie wedstryde, wat almal weg van die huis af was, gewen.

Die Blues het eers die skip in die doodsnikke van hul stryd teen die Bulle omgekeer (23-21), waarna hulle die Stormers (33-14) en Hurricanes (24-15) slae gegee het.

Die Leeus het bekend gemaak dat die losvoorspeler Cyle Brink op sy versoek van sy kontrak vrygestel is. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer