Leeumannetjie vrek tydens verskuiwing

Twee wyfies, drie welpies piekfyn

03 September 2018 | Omgewing
Francoise Steynberg



'n Leeumannetjie wat bestem was om weens mens-leeu-konflik na 'n veilige plek verskuif te word, het glo in die vangproses weens stres gevrek.

Mnr. Colgar Sikopo, direkteur van wildlewe en nasionale parke in die ministerie van die omgewing en toerisme, het dié voorval Vrydag op navraag van Republikein bevestig.

Die organisasie Desert Lion Human Relations Aid (Delhra) het ná die voorval stof op sosiale media opgeskop.

Sikopo het bevestig die “ongelukkige” voorval het sowat drie weke gelede plaasgevind toe 'n private veearts Nkosi (Xpl 110), 'n vyfjarige leeumannetjie, onder leiding en toesig van die ministerie weens mens-leeu-konflik in die Daures-gebied in die Erongostreek wou verskuif.

Volgens 'n verklaring van die ministerie het twee wyfies, Missy (Xpl 88), met haar drie welpies, en die dragtige Cheeky (Xpl111) glo saam met Nkosi amok in die omgewing gemaak.

Veral gemeenskappe naby die White Lady Lodge het voortdurende veeverliese aangemeld.

Voor die mees onlangse verskuiwing het die ministerie die leeutrop twee keer gevang en na die Skedelkuspark ver­skuif, maar hulle het weer na dié gebied teruggekeer.



VREEMDE GEDRAG

“Ons het vreemde gedrag by die leeus opgemerk, wat ons laat glo het mense in die omgewing van die lodge voer hulle. Met hierdie gedrag kon die leeus baie naby aan mense gekom het,” sê mnr. Romeo Muyunda, die ministerie se woordvoerder, in 'n verklaring.

“Dit is 'n praktyk wat ons sterk ontmoedig en veroordeel. Die leeus was meestal naby die lodge, en as gevolg hiervan is meer veeverliese in dié gemeenskappe ervaar.”

Muyunda sê hiervolgens is 'n besluit geneem om die leeus na gebiede te verskuif waar hulle nie probleme kan veroorsaak nie.

“Die twee wyfies en drie welpies is na die N/a'an ku sê-stigting se private wildreservaat van 9 500 hektaar, oos van Windhoek, verskuif,” het Muyunda gesê.

Sikopo het gesê die verskuiwing van die wyfies en welpies het sowat twee weke gelede plaasgevind, maar die mannetjie “wat drie weke gelede tydens die vangs gevrek het, was vir 'n ander bestemming geoormerk”.

Beide Sikopo en Muyunda het gesê die leeus by N/a'an ku sê sal staatseiendom bly en later na 'n nasionale park verskuif word sodra die ministerie met hul gedrag tevrede is.

Sikopo en dr. Rudie van Vuuren, stigter van die N/a'an ku sê-stigting, het bevestig dit gaan goed met die wyfies en die welpies.



DELHRA

Intussen het Delhra op hul Facebook-blad teen die verskuiwing uitgevaar en meen dit was onnodig, “want daar was geen onlangse voorvalle van konflik in die neutrale gebied toe hulle gevang is nie”.

Mnr. Izak Smit van Dehlra het gesê sedert Januarie is 'n vroeë waarskuwingstelsel geïmplementeer, wat goed gewerk het, en krale is versterk.

“Hoekom nou die leeus verskuif en hoe kan dit van waarde vir die bewaring van woestynleeus wees? Hulle het baie toeriste gelok wat nou geskok vrae vra,” het Smit gesê.

Hy is veral ontsteld oor die twee wyfies se verskuiwing.

“Missy het welpies en skei melk af en Cheeky is hoog dragtig. Ten spyte hiervan is hulle bedwelm en verskuif. Dit is skokkend en teen die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se regulasies.”

Van Vuuren het gesê die verskuiwing van die leeus was 'n noodingryping.

“Die IUCN se regulasies is in normale omstandighede van toepassing, nie in tye van nood wanneer vinnige besluite geneem moet word nie.”

Hy sê die ministerie kon die leeus bloot geskiet het.

“Die ministerie het twee keuses – óf hulle skiet die leeus, óf hulle verskuif hulle. Mense vind altyd fout. Word die leeus geskiet, is dit 'n probleem. Word die leeus verskuif, is dit 'n probleem.”

Van Vuuren sê om die leeus met kos te lok, was juis 'n menslike fout, wat daartoe aanleiding gegee het dat die leeus verskuif moes word.

Muyunda sê die ministerie se besluite is gegrond op wat in die beste belang van bewaring is.

“Ons doen 'n beroep op die publiek om bewerings te ignoreer en in die kiem te smoor, wat daarop gemik is om die goeie beeld van plaaslike bewaring te skend,” het Muyunda gesê.

Soortgelyk

 

Honderde miljoene vir veevoer nodig

19 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Die 2019 droogte is ‘n omvangryke ramp en ten minste N$170 miljoen is nodig om net 5 persent van die nasionale veekudde...

Min of geen handboeke vir nuwe leerplan

19 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Óf drupsgewys óf glad nie. Dit is volgens verskeie skole oraloor die land die huidige stand van handboeke vir die nuwe leerplan...

Regional council must account for vandalised buildings

19 ure gelede | Infrastruktuur

AUSSENKEHR – The //Kharas Regional Council must account for government buildings that are vandalised and left to become white elephants, the minister of urban and...

Swapo beslis dorpsraadslede se lot

19 ure gelede | Politiek

Dorpsraadslede van Okahandja en Rundu moes Maandag ure lank by Swapo se hoofkantoor in Windhoek wag om te hoor wat hul lot is. Verskeie nasionale...

Groeiende stad druk rioolstelsel

19 ure gelede | Infrastruktuur

Elvira Hattingh - Die Windhoekse munisipaliteit erken sekere rioolpype in die stad moet opgradeer word om die groeiende getal stadsbewoners te akkommodeer. Terselfdertyd beloof hulle...

Weer vir 19 Februarie 2019

19 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Bloedige hittetoestande word vir die res van die week in die binneland verwag.BINNELAND: Mooiweer en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik...

Gammams staan steeds stil

19 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh – Windhoek se munisipaliteit (CoW) sê hul Gammams-watersuiweringsaanleg staan steeds stil nadat swaarbrandstofolie meer as twee weke gelede in die stad se rioolstelsel...

‘Vroue is sterk’

19 ure gelede | Maatskaplik

Mariselle Stofberg – TrueKrav Namibia het Donderdag, in samewerking met die Namibiese Vrouevereniging en Kosmos, ’n praatjie oor geslagsgeweld in die hoofstad aangebied.TrueKrav bied...

Namcor wil vry van sekere wette wees

19 ure gelede | Energie

Elvira Hattingh - Namibië se Nasionale Petroleumkorporasie (Namcor) het ‘n aansoek by die Namibiese Kompetisie-kommissie ingedien om vir die volgende 10 jaar vrygestel te wees...