Leë Hardap bedreig melk-, besproeiingsboerderye
Terwyl Namibië juis ‘n ernstige behoefte aan veevoer het, sal besproeiingsboere op die Hardap-skema nie meer lank hierin kan voorsien nie.
Elvira Hattingh - Verskeie besproeiings- en melkboere op die Hardap-skema is bekommerd oor dié Suidedam se lae watervlakke.
Veral die melkboere meen dit kan die einde van hul boerderye beteken.
Dít volg nadat NamWater onlangs bekend gemaak hy sal vir die eerste keer in die Hardapdam se geskiedenis nie watertoevoer vir besproeiingsdoeleindes kan volhou as damvlakke die 4,5%-merk bereik nie – wat na verwagting reeds in November of Desember vanjaar kan gebeur.
Volgens Maandag se damverslag het die Hardapdam, wat tans Namibië se grootste in terme van kapasiteit is, tans 20,6% water oor.
MELKBOERE REAGEER
Die Suiwelprodusentevereniging (SPV) se voorsitter, mnr. Kokkie Adriaanse, sê as ‘n melkboer van die Hardap-skema is hy “baie bekommerd” oor die toedrag van sake.
Hy sê die drie melkplase in die omgewing se grootste kommer is dat hulle nie meer voer onder besproeiing vir hul melkbeeste sal kan kweek nie.
“Voer uit Suid-Afrika is onbekostigbaar duur. Tans kos lusern sowat N$5 000 per ton, wat op meer as N$100 per baal uitwerk,” het Adriaanse gesê.
Hy sê kleiner melkboere se voortbestaan is veral in die gedrang as hulle nie hul eie voer kan kweek nie. Dit terwyl Namibië net sowat 15 melkprodusente het.
Adriaanse sê boonop is die gesuiwerde water van die dam af heelwat duurder as die besproeiingswater. Hy sê sommige boere ondersoek moontlikhede soos om boorgate te sink, maar dit sal miljoene kos.
Hy het verduidelik melkboere onder die skema span saam vir vervoeronkostes.
Indien van die melkboerderye weens die watertekort sneuwel, sal dié uitgawe verhoog vir diegene wat oorbly.
“Ek wil nie te negatief klink nie, maar ons is baie bekommerd,” het Adriaanse gesê.
Ohlthaver & List (O&L) sê hul !Aimab-supermelkplaas, wat ook van die besproeiingswater vir voerproduksie gebruik maak en die land se grootste plaaslike melkprodusent is, meen die tekort aan water kan hul kostes ook drasties laat styg.
“Vervoeruitgawes sal styg omdat voer van elders gekry moet word,” het me. Roux-ché Locke, O&L se groepbestuurder van korporatiewe kommunikasie, aan Republikein gesê.
Sy sê volgens NamWater sal die oorblywende water, wanneer die dam die 4,5%-merk bereik, uitsluitlik vir huishoudelike gebruik en drinkwater vir vee aangewend word – en nie vir besproeiing nie.
Mnr. Wille Agenbach van die Goedbegin-melkboerdery, wat ook deel van die skema is, sê sy boerdery gebruik sowat 30 000 l water ‘n dag.
Dit sluit die water wat die beeste drink in, asook dit wat gebruik word om sy melkery se masjiene te was.
Agenbach stem saam dat die watertekort beslis veral die kleiner melkboere se voortbestaan in die gedrang sal bring.
Hy sê hy het besluit hy sal nie weer melkbeeste koop as hy genoodsaak word om dit te verkoop nie, omdat melkboere se winsgewendheid lank reeds onder druk is en die bedryf al minder lonend raak.
BESPROEIINGSBOERE
Mnr. Louw Nolte van Nolte-boerdery sê hy voorsien groot probleme indien hy nie meer kan besproei nie, omdat hy van dié inkomste afhanklik is. Nolte plant lusern, mielies en koring op 46 ha grond.
“Ek het 12 mense wat by my werk, ek weet nie wat ek met hulle gaan maak nie. Ek sal hulle moet laat gaan en wag vir die volgende reënseisoen,” het Nolte gesê.
“Ek boer al 28 jaar hier en in dié tyd het ons al twee maal waterbeperkings gehad. Anders as veeboere word ons nie gesubsidieer nie.”
Nolte meen die bestuur van die dam se water het aanleiding tot die probleem gegee.
Nog ‘n besproeiingsboer, mnr. Dolf Bothma van Bothma Agri, sê hy is in die bevoorregte posisie dat hy nie slegs van dié boerdery vir oorlewing afhanklik is nie.
Hy meen dis ‘n moeilike kwessie omdat die res van Namibië juis nou voer vir hul vee nodig het.
“Nou kan ons dit nie soos gewoonlik by die Hardap-skema produseer nie.”
Bothma besproei sowat 74 ha se lusern, koring in die winter, en akkerbone in die somer.
Hy sê hy behoort nog teen November sy koringoes te kan afhaal, maar die watertekort kan daarná ‘n probleem wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie