Lappies!
Lappies!

Lappies!

Mandy Rittmann
PEET VENTER (SNR) SKRYF:

So baie soorte: laslappie, vatlappie, loslappie en nóg. (Maak jou eie lysie).

En toe, soos ’n ongenooide gas, waai hierdie een ons almal se lewens binne en nogal soos die Engelse sal sê: "By law". Om nie eens te praat van die bangmaakboete nie.

Sy naam? Masker, of mêsk (Namlish), of Omamaski/Olufumaski, soos jy wil. Ook is dit nie Katrientjie se koplappie nie, of ’n têtlappie nie.

Die internasionaal bekroonde ontwerper, Kouwiet 19, het die mode-item wêreldwyd bekendgestel vir gebruik op jou aanskyn soos ’n gryns- of mombakkies.

Maar waarom al die bohaai oor die plein, klein gevreetlappie? Hoeka al, sedert die skepping, soek die mens al toemaakgoed.

Vir eers vyeblare, of jy nou bo of onder wil verberg.

Ons wil anders voorkom as dié mens wie ons regtig is en vir elke verborgenheid het ons selfgestikte sielslappies. Maak oop jóú lappielaaitjie en kyk na jou eie, sondige skeppings, sommige nogal baie oorspronklik: lerklidmaatskap, diaken of ouderling en voorsanger. Sosiaal: sopkombuis, vriendelike vriendin, ens.

Belangrik: Bogenoemde word net mombakkiese as die oorspronklike motiewe nutteloos is in die gemeenskap.

Om nie eens te praat van die onhigiëniese, onwelriekende mêsks waaragter talryke korrupsie saam met gierigheid, stilswye, die reg en baie advokate tans lyf probeer wegsteek nie. Anders as die lockdown-lappies, het bogenoemde ’n dodeliker uitwerking op menselewens as Kouwiet 19.

Dit sal raadsaam wees as ons nou die Bybel gaan raadpleeg, om te sien wat God se sienswyse is oor al die individuele binnelappies wat ons daagliks aansit.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer