‘Langnekke is in gróót moeilikheid’

Amerikaanse mark ontdek

31 August 2018 | Omgewing
Francoise Steynberg - Die langste dier ter wêreld, die kameelperd, is in gróót moeilikheid, meen die Humane Society van Amerika (HSUS).

Die HSUS het vroeg vanjaar 'n geheime ondersoek ingestel na die kommersiële beskikbaarheid van kameelperddele en -produkte wat in Amerika te koop is. Ondersoekers het skokbevindings gemaak dat kameelperddele aanlyn te koop is, asook by ten minste 51 handelaars in Amerika.

'n Ondersoeker het 21 winkels in Kalifornië, Florida, Maryland, Noord-Carolina, New York, Oklahoma, Tennessee en Texas besoek, asook by die jagekspo van die Dallas Safari Club, waar baie handelaars uitgestal het.

BEVINDINGE

Die ondersoekers het verskeie bevindinge gemaak: Cowboy-stewels gemaak van kameelperdleer en spesiale mesprodukte van kameelperdbene is die algemeenste kameelperdprodukte wat gevind is.

Ander kameelperdprodukte sluit in taksidermie-trofeë, kameelperdvelkussings en -matte, kameelperdbene en -kerfwerk.

Sommige handelaars het kameelperde valslik as gevaarlik uitgebeeld en aan ondersoekers gesê gemeenskappe in Afrika maak kameelperde dood om hulself te verdedig. Die handelaars sê hulle verkoop die dele slegs as 'n byproduk van mens-dier-konflik.

Sommige verkopers van kameelperdprodukte het misdaadrekords vir ernstige wildmisdaad, soos onder meer onwettige handel in renosterhoring.

Amerikaanse trofeejagters voorsien die Amerikaanse mark van kameelperdtrofeë en -dele soos velle en bene.

Die HSUS meen die langnekke van die savannas van Afrika is besig om stilweg uit te sterf. Volgens kundiges het die kameelperdbevolking sedert 1990 met 40% gedaal.

"Die handel in kameelperddele plaas 'n risiko op die spesie. Die kameelperd is besig om stil-stil uit te sterf. Met die kameelperdbevolking wat nou onder 100 000 is, is daar nou minder as 'n derde die aantal kameelperde in Afrika as olifante," het Kitty Block, die waarnemende president en uitvoerende hoof van die HSUS, gesê.

Die hoofoorsaak is habitatverlies en die onwettige jag vir die handel in vleis by bosslaghuise, "maar kameelperde word ook deur trofeejagters geteiken". HSUS meen kameelperddele wat vervaardig word as onder meer kussings, stewels, geweerkolwe, word internasionaal vir kommersiële doeleindes mee handel gedryf.

KLAGSKRIF

In April 2017 het die Humane Society International, die Humane Society van Amerika, die Sentrum vir Biologiese Diversiteit, die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn en die Natuurlike Hulpbronne Beskermingsraad 'n klagskrif aan die Amerikaanse Vis- en Wilddienste (USFWS) oorhandig om die kameelperd as bedreig onder die Amerikaanse beskermde spesie-wet te lys.

'n Analise van kameelperdhandel na Amerika was deel van die klagskrif en dui aan dat sowat 40 000 dele en produkte van langnekke tussen 2006 en 2015 na Amerika ingevoer word. Dit sluit in 21 000 gekerfde kameelperdbene, sowat 4 000 rou bene, 3 000 stukke vel, 2 000 stukke rou bene en meer as 700 velle.

"Hierdie dele verteenwoordig byna 4 000 kameelperde. Gemiddeld word een kameelperd per dag na Amerika ingevoer en die land is dus 'n aansienlike mark vir die handel in kameelperde."

Die HSUS meen as kameelperde as bedreig gelys word, sal dit effektief die invoer, uitvoer en interstaatlike handel in kameelperd in Amerika verbied en dus broodnodige beskerming vir die spesie bied.

Die USFWS het nog nie op die gesamentlike klagskrif gereageer nie.

SKAKEL TUSSEN TROFEEJAG EN HANDEL

In die ondersoek is die volgende bevind:

- 'n Vervaardiger van geweersakke van kameelperdvel in Florida het gesê die maatskappy koop sy kameelperdvelle van trofeejagters.

- 'n Verteenwoordiger van Arno Bernard Knives het aan die HSUS gesê die maatskappy gebruik kameelperdbene wat deur trofeejagters agtergelos is vir hul meshandvatsels.

- Verskeie handelaars het aan HSUS-ondersoekers gesê trofeejagters is die bronne van die kameelperdvelle en taksidermieprodukte wat hulle verkoop.

- Sekere jagsafarimaatskappye wat kameelperdjagte in Afrika aanbied, het aan HSUS gesê hulle verkoop kameelperddele wat deur trofeejagters agtergelos is.

- 'n Taksidermis in Namibië het 'n kameelperdvel vir US$300 (sowat N$4 320 teen die huidige wisselkoers) aan 'n ondersoeker aangebied en US$30 (sowat N$432) vir kameelperdbene.

Twee handelaars, BS Trading va Burleson in Texas en Whitten Gun Cases van Palm Harbor in Florida, het glo vals verklarings oor kameelperde gemaak terwyl hulle kameelperddele aan 'n HSUS-ondersoeker verkoop het.

"Beide handelaars het beweer dat aggressiewe troppe kameelperde verwoesting veroorsaak en geskiet moes word om gemeenskappe in Afrika te red. Volgens 'n onlangse evaluering deur 'n kundige van die spesie word geen melding van sulke gedrag gemaak nie, ook nie van kameelperde wat weens mens-dier-konflik geskiet moes word nie."

SKULDIG AAN WILDHANDEL

Volgens die HSUS is drie handelaars van kameelperddele in Amerika skuldig bevind aan onwettige handel in renosterhorings of ander wildmisdade.

"Al drie verkoop tans kameelperddele aan die publiek en aan ander Amerikaanse handelaars in kameelperdprodukte."

Gene Harris, eienaar van Art by God in Miami, Florida, herverkoop taksidermie waar 'n HSUS-ondersoeker onder meer kameelperdvelkussings, gekerfde kameelperdbene, kameelperdtaksidermie en 'n kameelperdvelmat te koop gevind het.

In 2014 is Harris skuldig bevind aan renosterhoringsmokkel tydens USFWS se Operasie Crash, 'n landswye klopjag op renosterhoringsmokkelaars in verskeie Amerikaanse state. 'n Verkoopspersoon van Art by God het gesê die maatskappy verkoop taksidermie aan ander winkels in Amerika, die kettingwinkelgroep in die San Francisco-gebied, Paxton Gate, ingesluit.

In 2016, ook tydens Operasie Crash, is James Lolli, mede-eienaar van Lolli Brothers Auctions in Macon in Missouri, asook die Lolli Brothers Auction-maatskappy self vir renosterhoringsmokkel aangekla. Lolli Brothers Auctions herverkoop taksidermie. Op die maatskappy se webtuise word dikwels kameelperdvelle, taksidermie en -matte te koop aangebied.

Nóg 'n herverkoper van taksidermie, Mills Hide and Fur van Signal Mountain in Tennessee, het 'n HSUS-ondersoeker vertel hy is 'n gereelde besoeker aan Lolli Brothers Auctions. Hy het dit gesê terwyl hy probeer het om 'n kameelperdvelmat te verkoop.

Groothandelaar Atlantic Coral Enterprises van St. Augustine in Florida is 'n groot invoerder en groothandelaar van kameelperdbene, -skedels en ander -dele. In 1971 is die eienaar van die maatskappy, Paul Dachton, skuldig bevind aan wetsoortredings rakende krokodille in Florida.

GCF REAGEER
Dr. Julian Fennessy, direkteur van die Kameelperdbewaringstigting (GCF), sê egter terwyl die studie in Amerika aandui dat daar ‘n aansienlike aantal kameelperddele te koop is, is verdere ondersoek nodig om die resultate beter te verstaan, asook die wettige handel in kameelperddele en die toenemende handel in lewende diere.

“Vir baie mense is jag ‘n morele en etiese kwessie meer as enige iets anders. Vanuit ‘n wetenskaplike bevolkingsperspektief moet genoem word dat terwyl jag wettig in sommige lande in Suider-Afrika is, styg die kameelperdbevolking oral in dié streek,” verduidelik Fennesy.
Hy sê aan die ander kant daal kameelperdbevolkings in die meeste dele van oostelike en sentrale Afrika waar die diere nie wettig gejag kan word nie.

“Onwettige jag (of stropery) is een van die grootste bedreigings vir die kameelperd.”

Fennesy sê dit is beklemtoon in die Wêreldbewaringsunie (IUCN) en Kameelperd en Okapi-spesialisgroep se rooilys-waarneming van kameelperde in Desember 2016.

“Gebaseer op die waarneming is kameelperde op die rooi lys opgegradeer as weerloos en wettige jag was nie as ‘n bedreiging in die verslag genoem nie,” het Fennessy gesê.


PRODUKTE TE KOOP IN AMERIKA

- Kameelperdleer: Gekleur en onthaar, meestal onherkenbaar as kameelperd;

- Kameelperdvel en -produkte met 'n duidelike herkenbare kameelperdmotief;

- Rou kameelperdbene en -skedels, ongekerf;

- Kameelperdbene, gekerf of geëts, en verkoop as huisdekor;

- Kameelperdbeenmesse en voorrade vir die vervaardiging van pistole;

- Ingevoerde messe vanaf Suid-Afrika met kameelperdbeenhandvatsels;

- Kameelperd-taksidermie;

- Kameelperdsterthaar-armbande.

Soortgelyk

 

Hepatitis E woed landswyd voort

12 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Kort duskant ‘n jaar ná ‘n uitbreking van hepatitis E amptelik in Desember 2017 in Windhoek verklaar is, is byna 4...

Nuwe plan teen misdaad onthul

12 ure gelede | Misdaad

Denver KistingRooftogte, veral gewapende rooftogte, het in die afgelope ses jaar met 44% die hoogte in geskiet.Dié syfer is vervat in misdaadstatistieke van die afgelope...

Hittegolf rý Namibië

12 ure gelede | Weer

Ondangwa is vandag die heel warmste plek met ‘n verwagte maksimum temperatuur van 41°C. Boonop word geen verligting van snikhete temperature hierdie naweek verwag nie....

SOE’s: Direksies moet vir mislukkings pa staan

12 ure gelede | Ministeries

Ronelle Rademeyer - Voor staatsondernemings (SOE’s) nie prestasiegedrewe volgens goeie korporatiewe beginsels bestuur word nie, sal die ekonomie nie beter vaar nie.Daarom sal die vergoeding...

Weer, Vrydag 16 November 2018

12 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en bloedig wees. Enkele donerbuie word in Otjozondjupa, Khomas en Omaheke verwag.KUS:...

Kalender 16 November

12 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots die 2018 Unam Visuele Kunste-uitstalling aan, wat tans in die hoofgalery van...

Die misterie van poësie

12 ure gelede | Kuns en vermaak

Lloyd Zandberg Terwyl die meerderheid van die mensdom soggens teen die wekker stoei, kinders vir skool aantrek, die hewige verkeer aandurf en uiteindelik laat vir...

Ons is nie teen gays, sê Sioka

12 ure gelede | Ministeries

Denver Kisting – Die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Doreen Sioka, sê die regering het niks teen gay mense nie.Sý veral diskrimineer nie teen...

Mense oor miltsiekte gewaarsku ná 2 uitbrekings

12 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - ’n Bewegingsverbod vir diere is by Sesfontein en die Bwabwata Nasionale Park ingestel nadat uitbrekings van miltsiekte op 1 November in dié...