Landerye in die woestyn?
Landerye in die woestyn?

Landerye in die woestyn?

Al is Israel ''n klein landjie met ''n baie lae reënval, vermag hy groot dinge op die gebied van landbou.
Ronelle Rademeyer
Riana de Lange



Diepgroen landerye ondanks erge droogte en versengende hitte klink onmoontlik – tog is dít presies wat Israel verlede week aan boere in Suid-Afrika se Limpopo-provinsie kom bemark het.

Dié klein land – skaars so groot soos die Krugerwildtuin – kry plek-plek so min as 30 mm reën per jaar, maar voer elke jaar landbouprodukte van miljarde dollars uit, het Arthur Lenk, Israel se ambassadeur in Suid-Afrika, by ''n seminaar oor landbou en tegnologie in Polo­kwane aan 200 boere ­gesê.

Israel is ''n wêreldleier in ­ontsouting en drupbesproeiing en kry meer as die helfte van sy drinkwater uit die Middel­landse See.

Vloedbesproeiing mors heelwat meer water as wat ­Israel – of die droogtegeteisterde en waterskaars Suid-Afrika – kan bekostig, het die boere die afgelope week gehoor.

Daarom het die fokus verlede week op drupbesproeiing geval. Ook klimaatbeheer, kweekhuistegnologie, landboutonnels, organiese bestryding van peste en die toedien van voedingstowwe was op die ­Israeli''s se Limpopo-agenda.

Meer as 80% van water wat Israelse huishoudings en fabrieke gebruik, gaan terug na die landbousektor, en selfs 86% van rioolwater word verwerk en hergebruik, het prof. Eilon M. Adar, ''n wêreldbekende Israelse navorser oor water en woestynvorming, vroeër aan Rapport gesê.

Die Israeli''s maak seker min water word gemors.

''n Deel van Israel se landbousukses lê daarin opgesluit dat meer as 95% van boere drup­besproeiing gebruik, sê Lenk.

In Suid-Afrika is dié syfer maar net 5%.

Volgens Gaby Levanon van Netafim, ''n maatskappy wat in drup- en mikrobesproeiing ­spesialiseer, verminder drupbesproeiing waterverbruik met ''n gewaarborgde 35%. Afhangend van die soort plant en ander omstandighede kan dit veel ­hoër wees. Opbrengste en gehalte is ook hoër.

Hy waarsku die vraag na kos kan die aanbod eersdaags ver oorskry as landbou-opbrengste nie verbeter nie.

Wêreldwyd is landbou die grootste waterverbruiker, en in Afrika is dit nog hoër as in Asië en Noord- en Suid-Amerika. Sowat 82% van Afrika se water gaan na die landbousektor, terwyl dit wêreldwyd minder as 70% is. Levanon sê net 20% van alle landbougrond wêreldwyd word besproei. Byna 85% daarvan is vloedbesproeiing, wat die ondoeltreffendste is.

Hy raam slegs sowat 3% van besproeiing in Suid-Afrika is doeltreffend.-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer